Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Ondanks kritiek, sukses vir Black Butterflies


Carina van der Walt - 2011-04-06

Untitled Document

Op Donderdag 31 Maart was dit in Nederland die première van Black Butterflies, die film oor die lewe van Ingrid Jonker. Na hierdie eerste naweek se vertonings lyk dit asof Black Butterflies ’n groot lokettreffer kan word. Nie alle filmprogrammeurs het met ewe veel oortuiging en entoesiasme die film vir hulle teaters aangeskaf nie. ’n Bruuske antwoord op my nuuskierige vraag oor die kwaliteit van die film was: “Niet goed.” Ek het dus gaan probeer vasstel wat “niet goed” alles beteken.

Jonker (Carice van Houten) sit bekaf nadat haar pa haar weer ’n keer uitgetrap het vir als wat sleg is.

Die eerste skok wat mens tref, is dat die film volledig in Engels is. Die publiek het al gewoond geraak daaraan dat Nederlandse films soms Engelse titels het. Dit het ook hulle verwagtingshorison gekleur met Black Butterflies. Nie net praat Jonker en al die Sestigers Engels nie, maar al haar gedigte is ook in Engels. In die Trouw van 31 Maart eindig Jann Ruyters haar resensie met die volgende woorde: “De suggestie wordt gewekt dat het om Engelse gedichten gaat. Heel jammer wel. Een handreiking naar de markt, en naar de acteurs, maar voor de liefhebbers toch een veronachtzaming van kleur en klank, van de ziel van haar eigen werk.”

Dit is wel deeglik ’n kommersiële film met eenvoudige verhaallyne. Die verhaal oor Jonker se tevergeefse soektog na erkenning by haar pa en later by haar geliefdes is maklik om te verstaan. Daarom vind dit so goed aanklank. En dit is verfilm vir die internasionale mark. Daarom moet mens vrede maak met hierdie derderangse taalervaring. Dit is wel baie jammer dat dit hier gaan oor ’n digter en nie byvoorbeeld die lewe van ’n fietsryer nie. Jonker se instrumente is juis die Afrikaanse taal, klank, ritme en betekenis.

Jonker (Van Houten) verlaat verslae haar pa, Abraham Jonker (Hauer), se kantoor nadat sy kom vertel het dat sy die APB-prys gewen het. 

Nog ’n reaksie van iemand uit die publiek Donderdag was van Piet Verheyen: “Het zou beter zijn als het in de Afrikaanse taal was.” ’n Handreik na die akteurs is Engels in die film ook nie regtig nie, want die regisseur (Paula van der Oest), hoofkarakter (Carice van Houten) en bykarakter wat haar pa Abraham Jonker (Rutger Hauer) speel, is Nederlanders. Die kans is sterker dat die produksiespan internasionale roem soos wortels voor die akteurs se neuse gehou het.

Daar is wel twee Engelstalige akteurs. Liam Cunningham is Iers. Hy speel Jack Cope onverbeterlik. Die Suid-Afrikaner Nicholas Pauling vertolk ’n fiktiewe karakter in Jonker se lewe – ene Eugène Maritz. Hy is sogenaamd ’n groot skrywer, maar nie in die realiteit van die Afrikaanse lekkerkunde nie. Maritz word teenoor Cope as die ander groot liefde in die lewe van Jonker uitgebeeld. Almal wat Jonker ’n bietjie ken, weet egter dat dit André P Brink is. Of is die karakter Maritz saamgeflans om “al haar liefdes” te verteenwoordig? Die vraag bly in die lug hang: Wie is Eugene Maritz?

Die ander kritiek onder die Nederlandse publiek is Van Houten se vertolking van Jonker. Hulle dink die tonele met Jonker se emosionele uitbarstings is oordrewe. In ooreenstemming met die cliché van ’n kunstenaarstemperament was Jonker ingestel op alles of niks. Teatermens Dorith van der Lee van Theater van de Verloren Tijd sê byvoorbeeld oor haar spel: “Ik vond Carice van Houten niet erg overtuigend spelen. Vooral waarin ze omschakelt naar een hysterische Ingrid Jonker wordt ze voor mij niet geloofwaardig. Beetje te cliché, hysterisch neergezet.”

Jonker (Van Houten) onderskep ene Maritz se nuwe boek en hardloop daarmee weg vir Jack Cope (Liam Cunningham).

Van Houten het erken dat die rol van Jonker vir haar ’n beproewing was totdat sy besluit het om haar as ’n bedorwe brokkie uit te beeld. “Eerst voelde ik verwantschap. … Maar tijdens het filmen werd ik boos op haar. … Toen heb ik besloten: ik zie jou als een kind, … ik ben groot en jij bent klein” (NRC Handelsblad, 10 Maart). As iets in haar vertolking sou skeefloop, sou dit op hierdie punt wees, het ek vooraf gedink.

Maar Van Houten se spel het my agterdog soos mis voor die son laat verdamp. Wat Jonker in normale gespreksituasies nie oor haar lippe kon kry nie, speel Van Houten meesterlik op haar gesig en in haar donkerbruin oë. Jonker bly hierin ’n kind van haar tyd – ’n tyd van bekhou, kophou en uithou – ’n tyd van aanvaarding van gesag – ’n tyd van geen vrae stel nie. Die publiek verstaan maar min daarvan dat Jonker nie vir Cope kon vertel dat sy hulle kind verwag nie; dat sy haar pa bly respekteer, al verwerp hy haar volledig. Hieroor wil die gemiddelde Nederlander praat en redeneer, want hy het van kleins af geleer om te relativeer. By die karakter Jonker ontbreek relativering volledig. Haar histeriese uitbarstings en ekstreme gedrag sal waarskynlik as relatief normaal deur Suid-Afrikaners ervaar word. Veral as mens oor alles moet swyg, soos Jonker. Daarom sal Van Houten se mimiek en blik ’n sterker positiewe inpak hê op die Suid-Afrikaanse as op die Nederlandse publiek.

Alles wat vir haar saak gemaak het, het Jonker neergeskryf. Haar gedigte was die resultaat van deurleefde ervarings. Dit was dinge waaroor sy nie kon praat nie. Hierin word die belang van poësie in die lewe van Jonker deur die meeste Nederlanders ook onderskat. Dit dui op nog ’n kultuurverskil: in Nederland, waarin almal rympies maak as ’n alledaagse aktiwiteit by geboortes, troues en dood, teenoor in Suid-Afrika, waar gedigte skryf steeds ’n hoogs uitsonderlike aktiwiteit van begenadigdes is. Poësie moet instaan om die “nooit gehoorde dinge (te) sê”.

Kommersieel is Black Butterflies goed, maar Jonker se lewe was baie komplekser as wat die publiek hier te siene kry. Die Brink-verhaallyn kan sterker uitgebeeld word. Die verlossende (maar telkens kortstondige) krag van poësie in haar lewe, kan meer aandag kry. Eintlik vra Jonker se hele lewe vir ’n arthousefilm met Afrikaans as spreektaal. Tog moet so ’n film maar ’n dekade of selfs langer wag, want Van Houten se briljante vertolking van Jonker gaan nog ’n paar jaar naglans.


  • Black Butterflies sal Juliemaand by die Filmfees in Durban vertoon word en vanaf Augustus in die Nu Metro-teaters landwyd te sien wees.