Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Drive Angry – Cage doen nie veel anders as dít nie


Jacques Liebenberg - 2011-04-05

Drive Angry 3D
Regisseur: Patrick Lussier
Kamerawerk: Brian Pearson
Spelers: Nicolas Cage, Amber Heard
Looptyd: 104 minute

 

Daar was ’n tyd toe Nicolas Cage ’n mens se aandag gehou het.

Hy was ’n onvoorspelbare akteur wat ’n aweregse silwerdoeklewe met besonderhede en nuanse kon vul – van malkop-kinderontvoerder tot eks-soldaat-reisiger-met-’n-swak-knie tot Laura Dern se effe nihilistiese minnaar met sy slangvelbaadjie. ’n Tom Cruise vir die eenkantmense.

Maar Con Air het gekom, en later National Treasure, en tussendeur die een pynlike poging ná die ander. Daar was darem uitsonderings, byvoorbeeld Leaving Las Vegas, Matchstick Men en die vermaaklike Lord of War, maar van die Cage van weleer was daar min teken. In Werner Herzog se surrealistiese The Bad Lieutenant: Port of Call – New Orleans verlede jaar was daar opflikkerings van die “ou” Cage, maar van The Rock tot Gone in Sixty Seconds het hy verval in karikatuurspel wat mens se senuwees soos Graeme Smith se verskonings laat rafel.

Dalk van pas dan dat hy hom in Drive Angry 3D nogmaals in ’n fliek bevind waar hy nie veel hoef te doen nie. Mens kan jou wel verwonder aan die belaglike, gebleikte haredos, maar lanklaas het Cage so futloos geklink en gelyk – en so kort soos hy in werklikheid is. Veel vermaakliker is Amber Heard (van All the Boys Love Mandy Lane-faam) se denim-sjoebroekie en, nog beter, ’n kalm-soos-die-windstil-see William Fichtner as die onderaardse rekenmeester wat ’n muntstuk met groot gesag gebruik.

Cage het ontsnap uit die hel, sien? Sy dogter se baba is in die kloue van ’n groepie hillbilly-Sataniste onder leiding van ’n brandmaer en camp Billy Burke, en hy gaan nie toelaat dat sy geoffer word nie. Patrick Lussier, regisseur, lewer getrou aan sy onindrukwekkende rekord ’n road movie a la Planet Terror waarin die V8’s brul, die wiele tol en die aanmaakbloed spat. En, voorspelbaar genoeg, nie veel anders nie.

Die geheim lê daarin om nie te onderskei tussen die genot wat mens uit die verorbering van jou springmielies en die grootskermgebeure put nie, anders begin die foutlyne so wyd gaap dat mens sommer reguit hel toe val. Hou die kake werkende en tonele soos die een waarin Cage ’n kelnerin tot ekstase bring, ’n sigaar rook, alkolhol gebruik en terselfdertyd ’n groepie aanvallers die ewigheid instuur, is prettig (hoewel ek eerder weer na ’n soortgelyke toneel in Shoot ’Em Up sal kyk), om nie eens van die Rekenmeester se aanbieding van sy aardse bona fides te praat nie.

Dink te veel na oor die verwysing na die duiwel as ’n sensitiewe, belese siel en die kake weier en die gedagtes dwaal na die voorportaal, waar mens ’n algehele afwesigheid van Bybelslaners opgelet het. ’n Mens sou dink hulle sou beswaard wees oor dié verromantisering van dié aartskurk, maar dalk is dit cool, want dit is darem ’n Cage-fliek.

En dis veel sinvoller om oor gemorskos, Liewe Heksie en Bakkies Botha se “skoonmaak”-tegniek te kla.