Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Somewhere: Ietwat versnipper en vervelig


André Crous - 2011-04-05

Regisseur: Sofia Coppola
Kamerawerk: Harris Savides
Rolverdeling: Stephen Dorff, Elle Fanning
Looptyd: 95 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 8 April 2011

Somewhere is Sofia Coppola se vierde en slegste film tot op hede. Ná die monumentale pienk mallemeule van Marie Antoinette, wat gehore behoorlik verdeel het (ek dink dis ’n fees), keer sy met Somewhere terug na die stadige ritme van haar vroeëre films, The Virgin Suicides en Lost in Translation.

Maar die eerste skoot van die film laat ons goed verstaan dat Coppola ’n ander rigting as gewoonlik inslaan. Haar ander films begin almal met ’n besonder gedenkwaardige skoot, soos Scarlett Johansson se boud in Lost in Translation of Kirsten Dunst as die Franse koningin wat in die bad lê en koek eet. Somewhere se eerste skoot is lank en dit is doodvervelig: ’n swart Ferrari ry in ’n sirkel om en om ’n baan in die middel van ’n droë veld voordat dit tot stilstand kom en die hoofkarakter die verte inkyk.

Die eerste gedagte wat by my opgekom het – die film wat hierdie beeld by my opgeroep het – was die eerste skoot van Vincent Gallo se Brown Bunny, ’n film wat deur filmkritici by die Cannes-filmfees bestempel is as die swakste film wat ooit by die fees gewys het. Dit was in 2003 en daardie film was regtig ’n pyniging om deur te sit. Glo my, Brown Bunny is nie ’n film waaraan jy herinner wil word nie, so ek sal Coppola die voordeel van die twyfel gee en aanneem dat dit nie haar bedoeling was nie. Ongelukkig doen die res van Coppola se film nie juis moeite om dié herinnering teen te werk nie.


Johnny Marco is ’n akteur naby aan veertig wat byna al sy tyd in die Chateau Marmont deurbring, ’n hotel wat oor die jare ’n instelling geword het vir akteurs en aktrises wat in Los Angeles oorbly. Johnny se konsep van tyd het verdwyn en sy lewe gaan nie net in sirkels nie, maar verdwyn van die een oomblik na die volgende. Die enigste noemenswaardige teken van ’n verlede is sy dogter, Cleo, wat van tyd tot tyd by hom kom kuier.

Maar daar is belangrike feite in sy verlede wat van ons weerhou word en gevolglik sukkel ons om ten minste een basiese vraag bevredigend te antwoord: Hoekom bly Johnny in die hotel? Die maklike antwoord is dat dit ’n soort metafoor is vir sy afgesonderdheid van die wêreld. In situasies wat seksueel prikkelend behoort te wees, raak hy soms aan die slaap (wat lei tot een baie snaakse laatnag-insident), maar die rede hiervoor is onduidelik.

Marco ly aan ’n soort verveling met die lewe en veral met sy eie lewe, hoewel hy nooit sy oë toemaak wanneer sy dogter in die rondte is nie. En dalk is dít die sleutel tot die film, maar dit is ’n sleutel wat moeilik is om raak te sien, want hier het ons die hartseer geval van ’n film oor verveling wat self vervelig is, selfs al probeer die draaiboek herwaarts en derwaarts draai om klein besonderhede in sy lewe aan te bied.

Hierdie besonderhede, aangebied as afsonderlike fragmente, is nie oninteressant nie en kon met meer werk gesorg het vir ’n meer insiggewende beeld van die hoofkarakter, sy lewe, en die situasie waarin hy hom emosioneel bevind. Maar elke keer wanneer dit lyk of regisseur Sofia Coppola iewers heen op pad is, los sy die draad en begin van voor af.

Een besonder absurde toneel is die perskonferensie waarby Johnny heeltemal onvoorbereid opdaag en soos ’n totale moroon sou lyk as dit nie vir die joernaliste se ewe lagwekkende vrae was nie. Coppola se Lost in Translation het soortgelyke karikature bevat, maar in daardie geval was die absurde ’n meer integrale deel van die film. Hier laat dit die andersins heel ernstige film sy balans verloor.

In een van die film se mees kykbare tonele skaats Cleo grasieus op die ysskaatsbaan rond. Dit is ’n oomblik waarin Johnny minder en minder op sy Blackberry kyk en raaksien waartoe sy dogter in staat is. Dit bevestig ook dat hy vantevore ’n relatief onbetrokke ouer was, maar gee ons nie veel meer om mee te werk nie. Ysskaats word nooit weer in die film genoem nie.


Daar is nog ’n ander toneel wat voel asof dit belangrik is; dit het te make met ’n masker. En die film bevat ander sade wat baie vrugbaar kon wees, maar nooit die kans gegee word om te ontkiem nie: die snedige, anonieme SMS’e wat Johnny ontvang; die storielyn van sy mees onlangse film; die verhouding met sy eks-vrou, die ma van sy dogter; die rede waarom hy nou al so lank in die hotel bly sonder om enigiets persoonliks in die kamer te hê. Ons kan raai hoe die stukke inmekaarpas, maar die oomblikke is so vlietend dat ons nie regtig ’n kans gegee word om daarvoor om te gee nie.

Kort voor die einde skrik die film skielik wakker, maar selfs dan word daar heeltemal te min tyd bestee aan die geloofwaardige ontwikkeling van Johnny se karakter. In ’n ander fliek kon die laaste toneel baie kragtig gewees het, maar hier is dit net nog ’n fragment wat op niks substansieel gebaseer is nie.

Somewhere is versnipper in stukke (soms belowend, soms vervelig en uitgerek) wat met goedkoop kleefband saamgelas is en so doelloos voortstrompel soos die lewe van die hoofkarakter. Daar is niks fout daarmee om ’n film oor verveling te maak nie, maar as die film nie uit die dop wil klim van die lewensmoeë karakter wie se perspektief ons moet deel nie, dan is dit ’n groot probleem – een wat Coppola in hierdie geval nie weet hoe om te oorkom nie.