Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

The Fighter: ’n uitklophou van ’n fliek


Jacques Liebenberg - 2011-03-31

Untitled Document

Regisseur: David O Russell
Skrywer: Scott Silver
Rolverdeling: Mark Wahlberg, Christian Bale, Amy Adams, Melissa Leo, Jack McGee
Looptyd:
114 minute

Daar’s oomblikke wanneer dit voel of mens nie asem kry nie. As jy gelukkig is, bly dit net ’n oomblik.Vir sommige is dit ’n leefstyl; ’n koue, harde hand wat jou hart so klem dat dit die lewe uit jou pers en jou gehawend deur die lewe laat strompel.

Dalk is jy gelukkig en daar’s ’n vangnet. Maar hoe gemaak as dié “veiligheid” ewe knellend kan wees?

Dis skynbaar die geval vir die bokser Micky Ward (Mark Wahlberg) in David O Russell se briljante biografie The Fighter, ’n uitklophou van ’n fliek gestroop van oordrewe sentiment en georkestreerde goedvoel-oomblikke. Uit die staanspoor, wanneer ’n brandmaer Christian Bale (as Micky se halfbroer en afrigter Dicky Eklund) hom op daardie rusbank tuismaak en lostrek (is Wahlberg dan nie die hoofkarakter nie?), het Russell sy kyker op die agtervoet. Dis ’n posisie waarvan hy in die grootste deel van die fliek nooit verwissel nie.

Micky herstel paaie wanneer sy ma en bestuurder (Melissa Leo) hom nie as kragvoer vir belowender boksers inspan nie. In ’n surrealistiese gesin – daar’s meer susters as wat mens wil tel (Micky hou skynbaar almal aan die lewe), emosionele manipulasie is die voorkeurwapen – en in hul ewe voos tuisdorp, Lowell (ook Jack Kerouac se geboorteplek), in Massachusetts is Dicky, ’n volslae crack-verslaafde, die ster. As jong bokser het hy sy man teen die grote Sugar Ray Leonard gestaan en hy’s doodseker sy comeback lê net om die draai.

Die vonk in die kruitvat is Micky se ontmoeting met die kroegmeisie Charlene Fleming (Amy Adams). Soos so dikwels gebeur, is dit ’n buitestander wat sake in perspektief plaas en in dié geval Micky die moed gee om Dicky en sy ma onder hul gat te skop. Wat die storie nog meer trefkrag gee, is dat (die nou suksesvoller) Micky besef hy sal nooit sonder Dicky, en derhalwe sy ma, ’n titel kan verower nie.

Ek’s al van Flirting with Disaster se dae ’n aanhanger van Russell se werk, hoewel hy met I Heart Huckabees hard probeer het om ’n mens te vervreem. In The Fighter vind hy daardie volmaakte balans tussen werklikheid en drome (wat sy protagonis eintlik maar te bang is om te droom) en drama en humor. Sy dokumentêragtige aanslag werk uitstekend en bevestig waarnemers se opmerkings dat dié ’n relatief getroue weergawe van die Ward-sage is. Daarby is tonele soos dié waarin Dicky telkens by  sy crack-huis se venster uitspring, geniaal beplan en so snaaks dat dit mens se oë laat traan.

In ’n sterk rolverdeling is dit veral Bale, verdienstelik bekroon met die Oscar, wat verstom. Hy ondergaan nogmaals ’n transformasie as die naïewe Dicky wat op die soustrein van uitgediende glorie ry en wanneer hy met daardie windmeul-arms straataf hardloop, is hy haas onherkenbaar van enigiets wat hy dalk voorheen gedoen het.

Leo en Adams is ook stewig, terwyl Wahlberg (ook in Russell se Three Kings te sien) maar dieselfde ou Wahlberg is. Mens weet darem boks is deel van dié akteur se daaglikse oefenroetine, so oor sy tegniese vaardighede is daar geen twyfel nie. Sy rustige Micky is ’n eiland in ’n siedende see.

The Fighter het nie die gewigtigheid van ’n Million Dollar Baby nie, maar as boksfliek is daar min wat by hom kan kers vashou. Russel en sy span lewer ’n uitklophou – en watter plesier is dit nie om dié een op die ken te vat nie.