Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Smeer die Weerlig dreun van energie


Leon-Ben Lamprecht - 2011-03-30

Smeer die Weerlig
Willim Welsyn


Klik hier en koop Smeer die Weerlig nou van Kalahari.net!



Dit was my tjommie Korff wat dit seker die beste opgesom het: “Jis, Willim verbeter darem myle met elke album, huh?”.

This is true.

Welsyn se vorige album, Maanplaas, was werklik puik en is beloon met ’n Vonk-benoeming (waar hy op die end die loef afgesteek is teen Abel Kraamsaal se onlangsste), ’n Sama-benoeming en het ’n Huisgenoot Tempo-toekenning gewen. Maar dis met Smeer die weerlig waar hy wasdom as musikant behaal. (Irrelevante vonkelfeit: Welsyn het ’n Wikipedia-blad. Nou weet jy.)

Waar Maanplaas ’n rustiger aanslag gehad het (en so nou en dan sy rock-tande gewys het), bloei Smeer die weerlig rock ’n roll.

Ek weet “old school” is deesdae so ’n cliché soos rugbyspelers wat 110 persent gee of politici wat tydens verkiesings huise vir almal belowe, maar hier is dit van pas: die album klink gestroop, soms selfs basies.

Dit herinner plek-plek die uwe aan The White Stripes.

Moet egter nie die fout maak om dit as probleem te sien nie, want dis asof die musiek in dié styl van opname meer ... spasie het om asem te haal. Terwyl Welsyn se stem, Ettiene Nel op tromme en die res van die klanke ’n baie stewige fondament is vir die die album, is dit die kitaar wat op Weerlig, wel, die kitaar slaan. Luister byvoorbeeld na die kitaarwerk aan die einde van die titelsnit (ook die openingsnit); of die laaste minuut of so van “Friek yt”; of aan die begin van “Uit spring die duiwel”. Moet egter nou nie daai tipe solo’s verwag wat jy in die middel van 7de Laan begin hoor en teen die tyd wat Riaan Cruywagen jou groet na die 19h00-nuus jam die ou nog nie: drie van die snitte op die album is onder twee minute lank. Dink kwaliteit, nie kwantiteit nie.

Vir die grootste deel van die album is die tong in die kies: van “Jannie Kanker (en die koue voete)” (meer daaroor later) tot die eerste single, “Steek”, waar Welsyn oor armoede sing.

Terwyl ons nou oor “Steek” praat, kom ons spreek sommer die elephant in the room aan: Welsyn se gebruik van die woord “meid”.

In ’n onlangse onderhoud met Henry Cloete vir MKtv sê Welsyn hy hoop nie mense neem dit verkeerd op nie: “Maar ja, daar sal seker ’n paar skeefkyke wees. ‘Meid’ is daar omdat dit allitereer met ‘mop’ vir ritme-doeleindes en omdat dit na enigiemand verwys wat soos ’n ‘meid’ behandel word, met ander woorde iemand wat soos ’n vloekwoord behandel word. As enigiemand dink dat dit verwys na ’n huishulp moet hulle weer die song gaan luister, die mense in ‘Steek’ sal nooit ’n huishulp kan bekostig nie.”

Selfs die album cover is tong-in-die-kies, met Welsyn se kop geplak op ’n Griekse god, vermoedelik Zeus (sien die weerlig in sy hand), se lyf. En maak jy die album oop, staar die CD in skelpienk glorie jou aan.

Die lirieke is meer gefokus hier as op Welsyn se vorige albums. Ja, sy surrealisme is nog hier, soos in “Slakke op hoë hakke”.

Dis egter op ’n snit soos die genoemde “Jannie Kanker” waar hy heeltemal in sy element is. In moontlik die eerste rock-tjoen oor Brackenfell/Kuilsrivier sing Welsyn oor Jannie Kanker, ’n reeksmoordenaar wat in dié geweste sy ding doen, en sy slagoffers (die “koue voete” in die titel).

Dis ’n fantastiese snit – loshande die beste op die album – wat die storie van Jannie Kanker se skrikbewind vertel, maar op so ‘n manier dat jy simpatie vir die hoofkarakter het (of ten minste sien jy nie net ’n bose moordenaar nie, maar eerder ’n gebroke mens):

Een niggie in die boot
Die ander een lê agter
Jannie voel sy onderlyf word al hoe sagter
Onthou sy kinder-Kersfees by oom dooie Gert se plaas
Ouma het gebak
Slim vang sy baas.

Maar jy vergeet nooit dat hy inderdaad ’n moordenaar is nie:

Die polisie daag daar op met flitse en blouligte
Oom dooie Gert se lyf is vol gekerfde gedigte
Sersant Baber bel sy baas by die hoofkantoor:
“Jannie Kanker het alweer
’n random ou vermoor.”

“My pa” is nog ’n uitstaan-snit waar Welsyn oor sy afgestorwe pa sing. Dis tegelykertyd weerloos-onskuldig (“my pa was ’n wyse jong man/ en ek hoop dat ek eendag ook ’n huis nes syne sal kan koop”) en intens bewus van die verlies aan onskuld wat die dood saambring (“en soms as die hottentotsgod/ voor my venster kom bid/ dan verlang ek na hom”).

Wat pla? Wel, die lirieke is nie in die album se boekie ingesluit nie. Ek sou raai dis vir kostebesparing, maar genade, mens kan nie orals lekker hoor wat die man sing nie. (Ek is dus jammer as ek hier bo iewers verkeerd aangehaal het.)

En, uhm, dis dit.

Dis loshande Welsyn se beste album tot nog toe. Dis die een wat die energie en charisma van sy live shows die beste vasvang. Die liedjies hierop is van die beste wat hy nog geskryf het.

Gaan koop die bleddie ding. Dis befok.



(Nota: Die skrywer voel genope om te noem dat hy en Welsyn gereeld saam braai. Die skrywer dink egter nie dit meng in met ’n eerlike mening oor ’n album nie. Ook is ’n resensie niks meer as net een mens se mening nie. Die skrywer weet nie hoekom hy hier in die derde persoon praat nie.)