Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Hygliteratuur | Erotic literature > Straight > Kompetisies | Competitions

LêNet Sci-fi-skryfkompetisie: Die liefdestoel


KapokDaan - 2011-03-30


Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.

Dokter, dít is wat daardie dag met my gebeur het:

Ek was in Hoofstraat. Skielik voel ek dat ek baie vinnig opstyg. Toe ek nog dink dat ek een of ander aanval kry, besef ek dat ek in ’n gerieflike stoel sit. Die vertrek waarin ek was, was soos ’n hospitaal se intensiewesorg-eenheid met apparate rondom my. Daar was ’n paar wesens. Ek sê “wesens”, want dit was nie mense nie, al het hulle amper so gelyk. Hulle was growwer as vrouens, maar nie so sterk soos mans nie.

“Jy hoor nie my stem nie,” sê een. “Ek kommunikeer met jou deur telepatie. Ons wil nou ’n paar toetse op jou doen.”

Die een wat gepraat het, het intussen iets soos ’n metaal-skrumpet oor my kop getrek.

“Dink aan iets om te eet,” het die wese gesê.

Tot my verbasing verskyn daar ’n tafel gedek met ’n driegang-maal voor my.

“Iets om te drink?” Skielik was daar ’n glas yskoue bier voor my.

“Jy het seker opgemerk ons het net een geslag,” sê die wese. “Ons wil weet hoe aardmense se seksdrang werk.”

Ek dink aan die stories van beeldskone jong ruimtevroue wat allerhande erotiese dinge met mans doen.

“Nee,” sê die wese, “dit is nie hoe ons werk nie. Ons meet jou breingolwe. Intussen flits daar duisende prente per sekonde voor jou verby. Die prent wat jy uiteindelik sien, is die een wat vir jou die begeerlikste is. Ons gaan nou jou hormoonvlakke aanpas. Ontspan net.”

’n Ander wese het fyn naaldjies in verskillende dele van my arm ingedruk sonder dat ek iets voel.

“Takistropon B,” het die wese gesê. ’n Ander het vir my gesê: “Dink aan die teenoorgestelde geslag.”

’n Pragtige jong vrou het voor my gestaan. Pragtig? Nee, beeldskoon.

“Bring dit af tot vier,” sê die hoofwese.

Die vrou op die skerm het nie verander nie, maar alhoewel sy seker skaars twintig was, het dit vir my gevoel asof sy afstootlik oud was. Sy het skielik jonger geword, totdat sy ’n meisiekind was.

“Gaan bokant die norm.” sê die hoofwese.

Die kleuter het meteens begin ouer word, verby tiener, verby haar twintigs en nog tot sy ’n bejaarde tannie was. ’n Baie aantreklike ou dame. Onweerstaanbaar.

“Weer eerste norm,” sê die wese, en die pragtige twintigjarige is terug.

“Prolataser dupleks,” sê die wese.

Toe merk ek eers dat die vrou wat ’n oomblik tevore so begeerlik was, ’n onaantreklike gladde vel en sagte gelaat het. Dadelik verander sy in ’n twintigjarige gespierde jongman met ’n sterk kakebeen wat ’n paar dae laas geskeer was. Ek het gewens ek kon hom vasdruk.

Die wesens het oor my gepraat. Dalk het hulle vergeet dat ek kon verstaan, anders het dit nie saak gemaak nie. Ek het ’n paar begrippe gekry: “Sy gene ... sosiale druk ... patroon vasgelê ...”

Toe draai hulle om na my toe.

“Wanneer het jy vir die eerste maal in meisies begin belangstel?” vra die wese.

Amanda Visser verskyn voor my soos sy op skool gelyk het.

“Toe ek dertien was,” sê ek.

Die wesens draai na ’n skerm waarop data verbyflits.

“Ja, voor dertien is daar geen transpolaterasie nie. Kom ons probeer B-golf.”

My kop sing. In Amanda se plek verskyn ’n bloedrooi Ferrari, net soos die plakkaat teen my kamermuur toe ek in die laerskool was. Ek voel ’n onweerstaanbare drang om die motor te liefkoos.

“Ons is reg.” ’n Koue wind waai deur my kop en ’n gewone eetkamerstoel verskyn waar die Ferrari was.

Ek sien hoe mooi slank die stoel se bene is, die effense kurwe van die rug. Die kunsleer kussing se sagte ronding is kaal en uitlokkend. Ek het ’n intense drang om op die stoel te sit.

“Hoe lank sal hy so bly?” vra een wese vir die ander.

“Ek weet nie. Ons moet hom merk en oor tien jaar weer oplig om te meet.”

Dokter, dit was vyf jaar gelede. My vrou sê sy gaan my skei as ek aanhou om onnatuurlike dade met stoele te pleeg. Help my asseblief!



Klik hier vir nog kompetisie-inskrywings

Klik hier vir die kompetisie-besonderhede