Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Kennisgewings | Notices

Heilige Koei Word Geslag op Oudtshoorn en Stellenbosch


2011-03-30

Untitled Document

Die kortstondige raklewe van Anastasia W
KKNK op Oudtshoorn | HB Thom Teater op Stellenbosch
2-4 April | 12-16 April
Tickets:  R40 – R100.

TEATERteater se veelbekroonde produksie Die kortstondige raklewe van Anastasia W word by die KKNK op Oudtshoorn vanaf 2 tot 4 April opgevoer. Dié musiekteaterstuk sal dan ’n verdere speelvlak beleef in die HB Thom Teater op Stellenbosch van 12 tot 16 April.

Die vlymskerp satire, met regie deur Marthinus Basson en geskryf deur gesiene skrywer Marlene van Niekerk (Agaat, Triomf) is onlangs benoem vir 10 Fiesta-toekennings. Verlede jaar is dit ook bekroon met die gesogte Aartvark-prys (vir musiekregie) en die AngloGold Ashanti Smeltkroes-prys vir ’n nuwe teks by die Aardklop-kunstefees.

Die hoofrolle word gespeel deur Nicole Holm, Eben Genis, Dean Balie en Marlo Minnaar. Mr Cat and the Jackal (met Gertjie Besselsen en Jacques du Plessis) en komponis Braam du Toitis verantwoordelik vir die musiek van Die kortstondige raklewe van Anastasia W, met animasie deur kunstenaar Colijn Strydom.

Nicole Holm is benoem as Beste Aktrise by Aardklop 2010, asook vir ’n Fiesta-toekenning. Eben Genis is benoem vir ’n Fiesta as Beste Akteur, terwyl Dean Balie benoem is as Beste Ondersteunende Akteur.

Ander Fiesta-benoemings sluit in Beste Produksie, Beste Nuweling (Gertjie Besselsen) en drie benoemings vir die Beste bydrae tot ’n Musiekgedrewe Produksie (Marthinus Basson vir regie, Braam du Toit en Mr Cat and the Jackal vir musiek enGertjie Besselsen vir vertolking.)

“Dis musiekteater met ’n tikkie van die absurde, ’n dwarsklap swart humor en ’n gesonde porsie sosiale kommentaar,” sê skrywer Marlene van Niekerk.

Die vervaardigers beskryf die produksie as ’n “kabaret-opera gedoente”. Dit slag die heilige koeie van politieke korrektheid, en daar word op die tone getrap van die onaantasbare politiekbemagtiges. Dit neem die geweld en misdaad in Suid-Afrika onder die loep, en ondersoek terselfdertyd ook die weerloosheid van die mens.

Kaartjies vir beide die KKNK- en HB Thom-speelvlakke van Die kortstondige raklewe van Anastasia W is beskikbaar by Computicket. Let asseblief op: Ouderdomsbeperking 18 vir Seks, Taal, Diviniteit en Geweld. Ouerbegeleiding.

  • Kaartjiepryse:
    R100 volwassenes
    R40 studente/skoliere
    R70 pensionarisse
    R70 blokbesprekings van 10 en meer

Die kortstondige raklewe Van Anastasia W word aangebied deur TEATERteater, en is moontlik gemaak deur Aardklop, ABSA KKNK, Universiteit van Stellenbosch, die L.W. Hiemstra Trust en die Het Jan Marais Nationale Fonds.

Die HB THOM speelvak word aangebied deur die Universiteit van Stellenbosch en TEATERteater. Die universiteit het die projek ondersteun as deel van multi-departementele samewerking, met die Departemente Drama, Afrikaans en Nederlands en Musiek.