Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Kennisgewings | Notices

Poortkompetisiewenners van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns word bekendgemaak


2011-03-29

Untitled Document

Malebo Phala, wenner van die Afrikaanse poësieafdeling met haar gedig, "Die land van my ouers"

’n Swart leerling van die Lyttelton Manor High School in Pretoria is die wenner van die Afrikaanse poësieafdeling van die Poortkompetisie vir jong skrywers van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. “Die land van my ouers” was die wengedig van Malebo Phala.  Haar moedertaal is Sepedi en sy woon in Clayville, Olifantsfontein.  Sy was verlede jaar, toe sy ingeskryf het, in matriek en is tans ’n student in ondernemingsbestuur aan die Universiteit van Johannesburg.  Sy het die gedig aanvanklik in Sepedi geskryf en daarna besluit om dit in Afrikaans te herdig.  Haar matriekslaagpunt vir Afrikaans was 87%.

In sy keurdersverslag het prof. Bernard Odendaal van die Universiteit van die Vrystaat gesê dat dit ’n bekoorlike gedig is met ’n heldere eenvoud van segging.  Die gedig handel oor aardse gehegtheid en eintlik gehegtheid aan die identiteitsbepalende land van die ouers.  Hy sê verder in sy verslag dat die gedig oortuigend en “onthoubaar” is.  Mev.  Iolanthi  Grobler, Malebo se Afrikaans-onderwyseres, beskou Malebo se prestasie as ’n hoogtepunt in haar loopbaan.

Kiara de Kock, wenner van die prosastuk, "Die voorkamer"
Die wenner van die prosastuk met die titel “Die voorkamer” is Kiara de Kock, ’n graad 12-leerling van die Hoërskool Tygerberg in Parow.  In sy kommentaar het die ander beoordelaar, prof. Thys Human van die Universiteit van Johannesburg gesê, dat die prosastuk die werk van ’n belowende skrywer is.  “Ek dink ons gaan beslis weer van haar hoor!”

Altesame 60 skole van oral in Suid-Afrika en Namibië het vir die Poortkompetisie ingeskryf en meer as 350 inskrywings is ontvang.  Die wenners ontvang die PUK-Kanselierstrustprys (’n kontantprys) en word saam met agt ander deelnemers op koste van die SA Akademie uitgenooi om deel te neem aan die skrywerslypskool van die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat in samewerking met Die Volksblad.

’n Keuse uit die inskrywings wat ontvang is, word gepubliseer in die jaarlikse Poort-publikasie van die SA Akademie.  Die Poortkompetisie bestaan al sedert die sewentigerjare.  Van vandag se belangrike skrywers het vroeër as matriekleerlinge in Poort gedebuteer.