Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Nederlandse Boekenweek


Carina van der Walt - 2011-03-29

Kader Abdolah
Die Nederlandse Boekenweek 2011 strek vanaf 16 tot 26 Maart. Tien dae lank vind allerhande feeste, byeenkomste, voorlesings en markte dwarsdeur die land plaas om die belang van die boek te bevorder. Die Boekenweek staan hierdie jaar in die teken van biografieë en die motto is: “Curriculum Vitae - Geschreven portretten”.











Vir die 76ste jaar van die Boekenweek het Kader Abdolah De Kraai geskryf. De Kraai dien as boekeweekgeskenk. 951 000 eksemplare is gedruk. Abdolah is ’n Nederlandse skrywer met ’n nie-Nederlandse herkoms. Hy is in Iran gebore. Dit is ’n groot eer vir ’n skrywer om gevra te word om die boekeweekgeskenk te skryf, des te meer as hy nie in Nederland gebore is nie.
De Kraai
Hoe werk so ’n boekeweekgeskenk? As jy gedurende die tien dae vanaf Woensdag 16 tot Saterdag 26 Maart enige boek bo ’n sekere bedrag koop (ongeveer R120), kry jy De Kraai gratis. Hierdie boekie het 91 bladsye en is in A5-formaat. Die Boekenweek strek altyd oor ’n Sondag. Op die betrokke Sondag geld die boekeweekgeskenk as ’n treinkaartjie. Dan kan jy op enige trein in die land stap met jou boekie in die hand en so ver as wat jy wil daarmee reis.         

In 2003 het ek dit gedoen met Gala van Ronald Giphart. Ek het toe gedink ek is een van dié wat probeer om die verste reis uit Gala te haal deur na Groningen in die noorde te gaan. Ek was verkeerd. Party van my reisgenote met dieselfde bestemming het vanuit Maastricht in die suide al op die trein gesit! Dit was stampvol. Oud en jonk, elkeen met ’n boekeweekboekie in die hand, was êrens heen op pad.

Die hele konsep van boek-persent-treinry was toe, en is steeds vandag, vir my fassinerend. Natuurlik weet al die passasiers op die betrokke Sondae presies wie die skrywer van die boekeweekgeskenk is. Baie ken ook al ander boeke van die skrywer, omdat dit altyd ’n bekende skrywer is wat gevra word. En as iemand nog niks van hom gelees het nie, lees hy dit nou. As jy self betrap word dat jy nie die boekie gelees het of die skrywer nie ken nie in die spontane gesprekke wat op die trein ontstaan, o wee! Normaalweg praat treinreisigers nie met mekaar nie, maar waag dit nou net om sonder die nodige kennis op so ’n gesellige boekeweektrein te stap … Dit is die Nederlandse spoorweë se sjarme-offensief. Lesende treinryers is rustig.

’n Kader Abdolah-snor

Die Boekenweek-essay “Good Luck” is geskryf en gemaak deur die skrywer Christine Otten en fotokurator Erik Kessels. Daarby bied hulle ook nog ’n gelyknamige parfuum aan. “Good Luck” word egter nie orals met dank aanvaar nie, omdat daar vrae gestel word oor die makers se werkswyse. Otten en Kessels het ’n hele pak foto’s van ’n onbekende Belgiese egpaar gebruik om hulle eie verhaal daaromheen te konstrueer. Leef die mense op die foto’s nog? Sou hulle toestemming gegee het vir so ’n inbreuk op hulle privaatheid? Is dit eties korrek? Otten en Kessels het nie antwoorde nie. As mens anders daarna kyk, speel hulle baie slim met wat biograwe dikwels doen. Biograwe gebruik objektiewe materiaal (soos foto’s) as uitgangspunt, maar vul die gapings in hulle inligting aan. Hierdie aanvullings kom uit hulle eie interpretasies van hoe die skrywer se lewe moes verloop het. “Good Luck” lyk bietjie soos media-“hype”, waaronder ook die Boekenbal vanjaar gevaar geloop het.

Elke jaar word die Boekenweek ingelei met ’n groot Boekenbal in Amsterdam. Dit was op 15 Maart in die stadskouburg. Bekende skrywers en hulle uitgewers, asook resensente, word daarheen uitgenooi. ’n Klompie debuutskrywers het ook die eer om uitgenooi te word. Op die Boekenbal het dit veral daaroor gegons dat dit die eerste bal was sonder Harry Mulisch en dus sonder die laaste een van die groot drie: WF Hermans, Gerard Reve en Mulisch. Die gaste het almal met Abdolah-snorre voor hulle monde rondgeloop as ‘n soort masker. Op dié manier was dit soms moeilik om te onderskei wie skrywer en wie televisiepersoonlikheid was. Die laaste spesie dreig om soos onkruid die oorhand te kry, ook op literêre hoogtepunte soos die Boekenbal.