Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Bieg | Confess > BiegNet se inwonende sielkundige

My reaksie op "verlore" liefde(s)


Ettienne van Lille - 2007-02-13

Terwyl ek hierdie stukkie skryf, ervaar hierdie Britse eilande seker een van die ergste windstorms sedert my aankoms hier in Februarie 2003. Nie dat ek enigiets daarmee te doen het nie. Winde van tot 99 myl (158 km) per uur is al oor die afgelope twee dae aangeteken en tien mense is al dood in weerverwante voorvalle. Met die gevolg dat mense gevra is om liewers in hulle huise te bly.

So ‘n in die huis bly het mos soms die gevolg dat ‘n mens dikwels meer introspektief word en begin dink, sodat jou gedagtes sommer sulke wye, wye draaie gooi. Dit is juis gedurende so ‘n “oefening” dat ek weer begin dink het aan van die bydraes op Bieg. Veral dié wat oor “verlore” liefdes handel. Ek het ook so ‘n bietjie besin oor die moontlike emosionele “ontwrigting” (storms) wat dit soms tot gevolg kan hê. En ook oor die vraag hoe ‘n mens hierdie “ontwrigting” moontlik kan minimaliseer.

Maar aan die ander kant is daar sekerlik ook diegene wat die loutere opgewondenheid verkies wat meegebring word deur die gedagtes dat daar op ‘n tyd iemand was vir wie hulle lief was, en wat vir hulle baie lief was, en dat hulle mekaar eendag weer kan raakloop; die gedagte aan die moontlikheid dat daardie persoon ook dalk nou aan hulle dink.

Daar is ook seker diegene wat sit met ‘n alomteenwoordige gevoel van hunkering, wat dalk gesettle het vir second best, wat in ‘n sekere mate moet deal met ‘n proses van verlies.

Om wel iets te gehad het en dit te “verloor” en om iets te wou gehad het, maar dit was weens ‘n magdom redes net nie moontlik nie, mag seker dieselfde psigiese proses tot gevolg hê. Die gevolg is seker maar soos wat dikwels tydens verlies ervaar word, ‘n gevoel van hunkering. Hierdie hunkering kan ‘n groot effek op die individu se bestaan en daaglikse funksionering hê. Soms kan daardie hunkering jou laat voel dat die lewe, en dalk spesifiek die huidige verhouding waarin jy is, maar redelik kleurloos en betekenisloos is. Van tyd tot tyd kan dit ook ‘n redelik negatiewe effek op mens se gemoed hê, en lei tot die “blues”, hopeloosheid, spanning en so meer, en dit is dan wanneer die vraag by my as psigoloog opkom: Waarom doen mense dit aan hulleself?

Hierdie vraag is veral “getrigger” deur ‘n opmerking van die “moeder” van Dialectical Behaviour Therapy, Marsha Lineham, tydens ‘n sessie met een van haar kliënte: “Yes, things are not going as you wanted them to go, but why do you continue to make things worse for yourself?”

Nou wil ek graag daardie vraag laat by diegene wat “verlore / onbereikbare / onrealiseerbare liefdes” ervaar of ervaar het. Enige kommentaar sal my dus vreeslik opgewonde maak.

‘n Ander vraag wat ek het, is: Wat het jou gemotiveer om aan Bieg te skryf? Was dit in die hoop dat die persoon jou sal herken deur jou brief en kontak maak? Of was dit ‘n poging om die hunkering te erken en te begin om die effek daarvan op jou lewe te begin minimaliseer? Met ander woorde, was jou brief die gevolg van ‘n resolusieproses in embrio, of ‘n voortsetting van “quiet desperation”?

En dan weer – dalk moet jy ‘n strategie uitwerk om hierdie verlore liefde te “pursue”, want niks, volgens Jung se beginsel van sinchronisiteit, gebeur tog toevallig nie. Dit is net dat jy jou somme sal moet maak oor die moontlike effek van jou aksies op jouself en op ander – in die woorde van Sartre: “Die mens is gedoem tot vryheid.” Met vryheid van keuse gaan ook ‘n ontsaglike verantwoordelikheid gepaard, is wat hy daarmee bedoel het. Of so glo ek.

Groetnis tot volgende keer.

Ettienne