Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Terugflits: Die Britse koningshuis


André Crous - 2011-03-24

Untitled Document

 

Nadat die Britse film The Kings’s Speech vanjaar behoorlik koning gekraai het by die Oscar-seremonie, waar dit onder andere as beste rolprent gekroon is, is die vraag logies gevra of die Britse koningshuis dan nou weer interessant is vir die (Amerikaanse) filmmark. My posisie hieroor was nog altyd dat dit eerder afhang van die film, en die aanbieding, as die inhoud, hoewel albei natuurlik ’n belangrike rol speel om die kyker te trek.

Tradisioneel doen hierdie soort films nie vreeslik goed by die Oscars nie en hoewel Shakespeare in Love 1998 se beste rolprent was, tot groot afkeur van ’n massa kykers wat seker was dat dit eerder Steven Spielberg se Saving Private Ryan sou wees, is daar nie baie voorbeelde van films wat spesifiek op die koningshuis fokus en steeds goed doen by dié jaarlikse glansgeleentheid nie. Ek moet ook onderstreep dat Shakespeare in Love nie eens regtig in hierdie kategorie val nie, aangesien koningin Elizabeth die Eerste, vertolk deur Judi Dench, wat ’n Oscar vir haar spel gekry het, vir slegs ’n paar minute op die skerm verskyn.

Die films wat ek hier bespreek, se fokus is telkens op Britse individue met blou bloed voor of tydens hul tyd op die troon, en verskyn hier in chronologiese volgorde – nie van die uitreiking van die films nie, maar van die tyd waarin die film afspeel.

  1. Henry V (1989): Kenneth Branagh se debuutfilm is ’n asemrowende onderneming wat die toonaangewende 1944-film van Laurence Olivier totaal en al oortref. Gebaseer op William Shakespeare se toneelstuk The Life of Henry the Fifth, is hierdie ’n baie toeganklike produksie; die modderige sentrale veldslag, voorafgegaan deur Branagh, wat koning Henry die Vyfde vertolk, se roerende weergawe van die St Crispin’s Day-toespraak, en vergesel deur Patrick Doyle se musiek, is ’n hoogtepunt.



  2. Elizabeth (1998): Dié uitbeelding van bose gefluister in die paleis waar ’n koningin vrou-alleen haar volk se vyande in bedwang moet hou, is ’n baie gestileerde werk wat, so goed soos die vertolkings is, vir my baie koud en taamlik onpersoonlik oorgekom het. Die opvolg, Elizabeth: The Golden Age, wat in 2007 uitgereik is, het my veel meer geraak.



  3. The Madness of King George (1994): Koningin Victoria het twee ooms gehad wat elkeen koning was. George die Derde was byna 70 jaar lank op die troon, maar vir ’n groot gedeelte van sy leeftyd het hy episodes van kranksinnigheid beleef en kon hy nie regeer nie. Dis die enigste volslae komedie op hierdie lys en dit doen glad nie weg met die geskiedenis nie.



  4. The Young Victoria (2009): ’n Film deur die Kanadese regisseur Jean-Marc Vallée, wat verantwoordelik was vir die heerlike C.R.A.Z.Y.,kan mos nie heeltemal konvensioneel wees nie, en hy kry dit reg om die jong koningin Victoria – rondom haar 18de lewensjaar, toe sy die septer opgeneem het – se ingewikkelde emosies goed oor te dra.



  5. The Queen (2006): Helen Mirren speel ’n tipiese Helen Mirren, maar sy speel ook ’n baie geloofwaardige Elizabeth die Tweede, wat die meeste van die tyd nie eens daaraan sou dink om haar eie oordeel te betwyfel nie, totdat die volk, ná Diana se dood en die lou reaksie vanuit die paleis, byna wil wegdoen met die monargie.