Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Laat die jeug gesien en gehoor word


Ernst Roets - 2011-03-24

Kinders moet gesien en nie gehoor word nie ... Of so lui die oeroue sêding. Aanhangers van hierdie lewensbenadering se ore sou vir seker by die laaste ATR-beraad getuit het. Nou praat ek van die ATR-Jeugberaad wat gedurende die Woordfees in Stellenbosch aangebied is.

Jongmense van uiteenlopende agtergronde het onder een dak vergader om die goed waaroor hulle op sosiale en/of politieke vlak van mekaar verskil, vir eers agter te laat en te praat oor dit waaroor hulle saamstem – Afrikaans! Ek moet sê, ek was taamlik beïndruk met die passie, entoesiasme en liefde wat soveel uiteenlopende jongmense vir hulle taal het, sowel as hulle bereidwilligheid om in te spring en iets te doen.

Baie dinge is gesê. In plaas daarvan om alles in die fynste besonderhede te bespreek, sal ek liefs ’n oomblik neem om stil te staan by die kwessies waaroor saamgestem is en dan natuurlik oor die groot stap – ’n jeugliga vir die Afrikaanse Taalraad.

Studenteverteenwoordigers van kampusse regoor Suid-Afrika, studente en verskeie skole se kinders het deelgeneem.

Sonder om ons eie kleurryke diversiteit te ontken of om te poog om almal wat aan die beraad deelgeneem het aan my stellings hier onder te bind, is daar tog sekere goed wat na vore getree het waaroor ʼn groot mate van konsensus bereik is. Die belangrikste hiervan is:

  • Afrikaans is ’n diverse taal en die diversiteit daarvan hoef nie onderdruk te word nie. Inteendeel, dit moet gekoester word! Diversiteit sluit nie net verskillende standpunte of identiteite in nie, maar ook dialekte, agtergronde, voorkeure, ensovoorts.
  • Afrikaans kan nooit in isolasie beskou word nie. Pogings wat vir die bevordering en/ of beskerming van Afrikaans aangewend word, moet altyd binne die konteks van meertaligheid en die Grondwet benader word.
  • Die Afrikaanse gemeenskap wil inklusief wees in hulle inisiatiewe en projekte, maar sal ook meer moet doen om standpunt in te neem wanneer hulle taalregte (dikwels onder die vaandel van “inklusiwiteit”) onderdruk word.
  • Geskiedenis is belangrik en ons kan ons nooit daarvan wil losmaak nie. Dit is belangrik om ons geskiedenis te verstaan en daaruit te leer. Die jeug wil egter vorentoe beweeg en ’n toekoms vir ons taal bou, sonder om in geskiedenis of onnodige bagasie verstrengel te word.
  • Afrikaans is ’n taal, nie ’n mens, groep, party of organisasie nie. Afrikaans het niemand onderdruk nie. Net soos wat daar negatiewe goed deur middel van Afrikaans gebeur het, het daar geweldig positiewe goed deur middel van Afrikaans gebeur.
  • Moeite moet gedoen word om brûe te bou, dialoog te bevorder en horisonne in en deur Afrikaans te verbreed.
  • Afrikaans is ’n taal om op trots te wees en wat met mag en mening uitgeleef kan word!

Dit alles was egter nie genoeg nie. Die jeug wat teenwoordig was, het gevoel dat ons nie by vergaderings en konferensies moet stop nie. Dit het tyd geword om tot aksie oor te gaan! Daar is geen regverdiging vir die jeug om te mompel as ouer generasies die leiding neem in die bou van ’n toekoms vir Afrikaans nie, want as die jeug nie betrokke is nie, is dit as gevolg van hul eie nalatige afwesigheid. Daarom is ’n besluit geneem dat die ATR ook nou ’n jeugdige baadjie moet ontvang. Jongmense van regoor Suid-Afrika kan genader word om by die ATR betrokke te raak en hul stemme deur middel van die ATR te laat hoor, om sodoende ook by toekomsskepping betrokke te raak.

Die moontlikheid van ’n jeugliga vir die ATR is bespreek en uiteindelik is ’n loodskomitee vir die ATR se jeugbeweging genomineer en verkies. Die komitee bestaan uit myself, Vera Argyle, ondervoorsitter van die NWU-Pukke se studenteraad, Virgillio Daniels van Stellenbosch Universiteit en Natalie Geldenhuys van die Kaapse Universiteit van Tegnologie. Hierdie jeugverteenwoordigers sal in die nabye toekoms weer vergader om substansie te gee aan die besluit om die jeug meer aktief by die ATR te maak. Alhoewel daar nog geen formele besluite deur die loodsingskomitee geneem is nie, kan ek tog die vrymoedigheid neem om te noem dat die primêre doelwitte van hierdie komitee waarskynlik sal wees om ’n inspuiting vir jeugverteenwoordiging en -betrokkenheid by die stryd vir die uitbou van Afrikaans te gee, om oor die verskillende strukturele opsies en werkswyses van so ’n jeugstruktuur te besluit, om ’n proses van stapel te stuur vir die verkryging van meer voltydse en amptelike jeugverteenwoordigers, om dialoog onder die jeug te bevorder en uiteindelik om ’n jeugliga met substansie te skep wat sal help om te bou aan ’n toekoms in Afrikaans vir die generasies wat voorlê.

Daar is opwindende tye wat voorlê. Met ’n dinamiese span en die ondersteuning van die ATR-direksie is ons egter entoesiasties om te bou aan ’n toekoms vir ons mense en ons taal.








<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<