Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Afrikaans en 16 Junie (Jeugdag)


Virgilio Daniels - 2011-03-24

Afrikaans moet vrygemaak word van sy onnodige bagasie wat dit gekry het as gevolg van mense se onverantwoordelike sienswyses. Afrikaans is nie die hoofrede waarom die onluste van 1976 gebeur het nie. Dit was bloot die vonk wat die vuur aangewakker het. Die apartheidsregering het dit gebruik as ’n stuk gereedskap om die swart kultuurgroepe van die land nog verder te onderdruk. Die sosio-ekonomiese omstandighede van die onderdruktes en die onmenslikheid van die politieke stelsel van die tyd kan as hoofredes aangewys word vir die onluste. Politici versuim altyd om te noem dat Afrikaans ook gebruik is om die apartheidstelsel te beveg. Letterkundiges soos skrywers, en meer spesifiek digters, het uitgevaar teen die politieke stelsel van die tyd. Baie van hierdie struggle-poësie en struggle-prosa is nie gepubliseer nie, so baie mense weet nie hiervan nie. Afrikaans is dus ook ’n bevrydingstaal.

Afrikaans behoort nie aan een groep mense nie. Afrikaans behoort aan almal wat dit praat en wil praat. Daar moet weggedoen word met die siening dat die taal aan wit mense behoort. Daar is nog wanpersepsies, soos dat Afrikaans aan die akademici en oumense behoort. Die jeug moet eienaarskap neem en trots wees op hul taal. Die jeugvleuel van die Afrikaanse Taalraad (ATR) se werk sal wees om versoening en inklusiwiteit te bevorder. Ander kultuurgroepe moet uitgenooi word na Afrikaanse funksies (bv ATR se jeugfees) en Afrikaanssprekendes moet ook teenwoordig wees by ander kultuurgroepe se funksies. Taal en kultuur kan mense nie van mekaar skei nie. Die Fundza Lusaka-beursfonds moet genader word, omdat hulle diskrimineer teen Afrikaans as vak. Die standaard van die taalgebruik van aanbieding en omroeping op televisie en radio moet deur die ATR se jeugvleuel aangespreek word. Daar is ’n skatkis van woorde wat nog nie gebruik is nie. Mense moet net boeke soos HAT, WAT, AWS, ens raadpleeg en minder lui en slordig word. As daar nie ’n Afrikaanse gelykes is vir Engelse woorde nie, dan moet ons as Afrikaanssprekendes nuwe woorde (neologismes) skep.

Die ATR se jeugvleuel moet ook druk op die onderwysdepartement uitoefen om die Afrikaanse kurrikulum te verander. Kinders moet meer leer oor die oorsprong van die taal. Hulle moet ook leer oor die verskillende dialekte (bv Kaaps, Oranjerivier, Oosgrens).

Standaardafrikaans is nodig sodat ons almal mekaar verstaan en dat ons van dieselfde blad af kan sing. Ons gebruik dit dus vir vaktaal, regstaal, amptelike kommunikasie, akademiese taal, ens. Dialekte hou taal lewendig en maak die taal ryk en kleurvol. Hierdie dialekte moet ook meer gebruik word in die media en die pers. Mense kan nie eienaarskap neem as hulle hulle nie met die taal assosieer nie. Baie skole in die Wes-Kaap se taalbeleide moet hersien word. As die meerderheid van die skool se leerders Afrikaans is, kan daar gekyk word om die ander leerders te huisves. Die skool moet nog steeds gesien word as ’n Afrikaanse skool. Leerders moet ook gedwing word om die derde taal van die provinsie te leer praat. Meer geleenthede oor taal- en kultuurkwessies moet geskep word. Almal, selfs laerskoolleerders, moet ’n kans kry om hul sê te sê. Die ATR-jeugvleuel gaan van bestaande strukture gebruik maak om sy funksie te verrig.








<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<