Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Die komplekse "Ek"


Paul Cilliers - 2011-03-24

Hierdie artikel het op 19 Maart in By (Beeld en Die Burger) verskyn.

Mens kan nie jouself sien nie. Ek probeer nie laf wees nie, ek is heel ernstig. Jy is jou eie blinde kol. Jy kan jou voete en hande sien, jou arms en bene (jou bobene net van bo), jou bors (nie heeltemal tot bo nie) en jou maag, tot die mate wat jy daarna wil kyk. Maar jou gesig, die deel wat mens by uitstek assosieer met wie jy is, dié kan jy nie sien nie.

As jy langs jou neus af loer, kan jy so ’n deurskynende pienkerige waas sien wat minder deurskynend word as jy een oog toemaak. Om te sê dat dit jou neus is, is optimisties. As jy jou lippe so ver as moontlik uitstoot kan jy so ’n effense bult waarneem, met hare daarop as die hare lank genoeg is. Maar jy kan nie jou wange of jou ken sien nie. Ook nie jou wenkbroue of jou tande nie. En veral kan jy nie jou oë sien nie.

“Het die grotman dan nie ’n spieël nie?” hoor ek iemand vra. In ’n spieël kan mens kyk, maar wat jy sien is nie so eenvoudig nie. Jy sien ’n tweedimensionele representasie van jouself reg van voor. Jy kan nie jou agterkop sien nie – daarvoor het jy twee spieëls nodig. En behalwe as jy van jouself ’n fetisj maak, sien jy jouself ook net een of twee keer ’n dag vir ’n paar sekondes op ’n slag. Jy sien nie jouself soos wat ander jou sien nie. Ek weet byvoorbeeld dat ek bles is, maar kan dit nie eintlik sien nie. Wat vir ander een van my onderskeidende kenmerke is, is vir my in ’n sekere sin van akademiese belang – nie dat ek my te veel daaroor bekommer nie.

Die punt is dat dit wat jy in die spieël sien, ’n beeld is wat jy moet interpreteer. Jy kyk deur ’n spieël in ’n raaisel. Jy kan sien of jou gesig skoon is, maar jy sien nie jouself in die sin dat jy kan sê “Aha, nou weet ek wat ek is” nie.

“Die grotman is pedanties,” hoor ek iemand anders sê. “Ek weet wie ek is nie omdat ek in ’n spieël kyk nie, maar omdat ek myself ken deur introspeksie.” Die argument loop ongeveer so: Daar is net een “ek” en net ek kan myself ervaar. Ek sit in my eie kop, bekyk die wêreld en maak op my manier sin daarvan. Ek is ’n koherente eenheid en ek ken myself. As dit nie so is nie, het ek ’n patologie en kort behandeling. ’n Gesonde ek is ’n heel ek. As ek doodgaan, dan verdwyn ek. Waar is die probleem?

Die probleem is dat hierdie argument hopeloos naïef is. Dit vereenselwig my “self” met my bewussyn. Wees getroos, die meeste filosowe – van Plato via Descartes tot by vandag se slimmes wat die bewussyn in ’n rekenaarprogram wil vasvat – is ewe naïef. In die eerste plek weet ons steeds nie baie mooi wat die bewussyn is nie, ten spyte van al die dik boeke wat daaroor geskryf is. In die tweede plek, selfs al sou ons op ’n praktiese vlak ’n werkbare verstaan hê van wat dit is om bewus te wees, is die bewussyn maar ’n klein deel van my “self”.

In hierdie opsig is Freud ’n minder naïewe denker. Volgens hom is ons bewussyn die puntjie van ’n ysberg. Die grootste gedeelte van ons psige, die onbewuste, is onderwater, en daar woel allerhande gediertetjies rond. Ons kan hulle nie onderwerp aan die helder lig van rasionele denke nie, maar hulle is medebepalend tot wie ek is. Nietzsche sê ons bewussyn is soos iemand wat vasgeketting is op die rug van ’n tier. Mens het amper geen insae in wat in jou liggaam aan die gang is nie. Om die waarheid te sê, as jy elke dingetjie wat in jou lewer of niere aangaan sou moes bedink, sou jy waarskynlik mal geword het. En die brein is ook ’n orgaan. Van alles wat aangaan in ons neurone – die vuur van sinapse en die vloei van neurotransmitters – het ons nie die vaagste benul nie! Tog spruit ons bewussyn daaruit voort. Ons word voortgesleep deur iets wat nie eers ons verbeelding heeltemal kan vasvang nie.

Beteken dit dan dat ek niks oor myself kan sê nie? Glad nie, maar die saak is kompleks, en komplekse dinge moet versigtig benader word. ’n Komplekse stelsel bestaan uit ’n klomp komponente, maar die eienskappe van die stelsel lê nie in die komponente van die stelsel nie, dit lê in die verhoudings tussen hulle. Die “identiteit” van die stelsel is ’n funksie van die manier waarop tallose verskillende aspekte van die stelsel mekaar beïnvloed. Meer nog, komplekse stelsels is nie afgeslote goed nie, hulle leef in ’n omgewing. Hierdie omgewing is nie maar net iets wat die stelsel omring nie, dit beïnvloed die stelsel voortdurend. En natuurlik bevat die omgewing ook ander stelsels.

Dit is nie nou die plek hierdie vir ’n les in kompleksiteitsteorie nie, maar dit is belangrik om iets daarvan te verstaan as ons oor die self praat. Mens kan nie al die faktore wat ’n komplekse dinge bepaal, tegelyk in ag neem nie. Daar is derduisende faktore, grotes en kleintjies, wat die heeltyd op ’n wisselende manier op mekaar inwerk. Mens kan dus nie een netjiese, afgehandelde verhaal oor ’n komplekse ding vertel nie. Mens moet altyd vereenvoudig, en die vereenvoudigings laat altyd iets uit, iets wat dalk van sentrale belang kan wees. Dit beteken nie dat enige vereenvoudiging so goed soos enige ander een is nie, maar om te dink dat daar ’n übervereenvoudiging is wat die essensie van die stelsel gaan vasvat, is om die kompleksiteit daarvan te ontken. So ’n posisie is nie alleen foutief nie, dit is ook hoogmoedig.

As mens nou op ’n meer versigtige manier probeer om iets oor die self te sê, sou dit so kon klink: Ek is ’n kombinasie van dinge. Ek is my gesig, my voete en my brein. Ek het ’n bewussyn wat soos ’n soeklig na dele van myself en die wêreld rondom my kyk. Ek het ’n geskiedenis, en ek verwag ’n toekoms. Sekere goed wat ek wil doen en wees, is moontlik, maar ander word deur die omgewing uitgesluit, al is ek nie mooi seker wat dit is nie. Ek kan miskien nog leer saksofoon speel, maar ek kan nie meer Wimbledon wen nie. Ek bestaan ook nie alleen nie. Wie ek is, is ’n effek van dié rondom my, net soos wat ek ’n effek op hulle het.

Al hierdie faktore vorm ’n ryk tapisserie wat nie presies beskryf kan word nie. As ek na myself in die spieël kyk, sien ek ’n vereenvoudiging. As ek na iemand anders kyk, kyk ek na haar met my oë wat aan my brein gekoppel is. Ek sien haar nie soos sy is nie, maar soos wat ek haar kan sien, ’n vereenvoudiging. Dieselfde geld vir ’n appel of ’n kat of ’n skildery.

En nou behoort u te kan sien waarop dit afstuur: ek weet self nie presies wie ek is nie! Soos wat ek ander mense en die wêreld rondom my moet interpreteer, so moet ek myself ook interpreteer. Ek is vir myself ’n gedig.








<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<