Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Oom Anton by die see is meer as die Woordfees se beste produksie


Albert Maritz - 2011-03-23

Oom Anton by die see (Tsjechof in Jalta)
deur John Driver en Jeffrey Haddow – vertaling deur Alewyn Lee

Regie:
Juanita Swanepoel; vir Die Klein Libertas-teater

Met:
Waldemar Schultz, Johann Nel, Francois Toerien, Esther von Waltzleben, Stephanie Hough, Stephanie Badenhorst, Ira Blanckenberg, Jan-Hendrik Opperman, Petrus du Preez, Hugo Theart, Gaerin Hauptfleisch

Oom Anton by die See is pas aangewys as die Woordfees se beste produksie. Hierdie is omtrent die onmoontlike vermag. Die vurk steek ongeveer so in die hef:

Die Klein Libertas-teater was dekades gelede ’n trotse amateur-toneelgeselskap, in ’n pikante geboutjie. Met die draai van die gety in die ‘90’s was die ou saaltjie een van die vele strukture wat eerste in spinnerakke en donkerte verval het. Weens studentebedrywighede op die Bos was daar van tyd tot tyd ’n bietjie bedrywigheid hier. Maar niks wat die welige bome hier se wortels ooit geskud het nie. Totdat ’n sameloop van omstandighede ’n handjievol passievolle mense laat gryp het na die yl takkies van potensiaal wat mens van die grond af kan bykom.

En hierdie teater gaan van krag tot krag. Al is dit gereeld maar net ’n forum waar werk kan gebeur – meer eerder in goeie geloof van ’n krieseltjie op die tafel aan die einde van die maand as weens helder denke. Maar hier kom mense byeen – in toenemende getalle – en inspireer mekaar, word vir mekaar ondersteuningstelsels, en word die ervaring iets waarmee hulle in die wêreld kan ingaan en uitblink.

Gereelde troepe wat hier op die planke gesien word, sluit in Susanne Beyers, Joanie Combrink en Johann Nel – gereeld saam in produksies. Jare lank al tooi onbesonge nasionale helde hier die planke – speler-sangers soos Nicole Holm.

Soms vind afgestudeerde studente kortstondig hier ’n veilige hawe, kom sterre hierlangs verby, soos Chris van Niekerk van tyd tot tyd. Soms is hier stampvol sale, soos met die onlangse Die ryk weduwee. Meestal is die werk van hier egter eerder gebore uit ’n liefde vir die woord, soms om die ervaring van teater onder agtergeblewenes te akkommodeer; soms is die werk eerder statiese woordkuns, en aspekte daarvan, veral dié wat geld kos, onversorg. Maar nooit, nooit, is die werk hier sonder passie nie.

En aanhouer wen. Swanepoel loop al jare met die droom om Tsjechof in Jalta op die planke te bring. En hier is dit nou ’n wenproduksie. Wat op die verhoog gebeur tydens hierdie buitelugproduksie, is dit waaroor teater gaan. Aan die kern hiervan is ’n eens verlore seun – hy was ná universiteit vir jare ’n sepie-akteur – Waldemar Schultz. Soos talle kunstenaars wie se passie en vlyt in goeie balans is, het Schultz sy eerste treë geloop onder die wakende oog van ’n mentor, in dié geval einste Swanepoel.

En nou is dit hier op Stellenbosch waar Schultz verhoë aan die brand speel. En so wonderlik en beheerst sirkusdier soos wat sy karakter in Die Ryk Weduwee was, so suiwer méns is sy Anton Tsjechof. In hierdie rol skep Schultz ’n amperse onopsigtelike, realistiese hoofkarakter. En die Tsjechof staan afgeteken teen die omgewing waarin hy leef; die mense met wie hy omring is. En tussen die twee uiterstes lê die gee en neem van ’n puik ensemble, albei gekoester in ’n veilige hawe. Die harte van die toergeselskap is onstuimig soos die see. En die siek Tsjechof die een wat soek na sin.

In hierdie omgewing van gee en neem kom sterk spelers – met egte, skeppende kreatiwiteit op die verhoog – tot hulle reg; word sommige spelers die beste wat hulle nóg op ’n verhoog was. En dis hier waar Oom Anton by die see die rigting wys vir die kunstoneel in Suid-Afrika. Die produksie is nie perfek nie; resensente sal dit vier uit vyf sterre gee. Dit maak nie saak nie. Die werk is meer werd as dit. Oom Anton by die see is meer werd as pryse.

Om ’n gehoorlid te wees by sulke werk herinner ’n mens aan die waarde van beskeie wees. Dit herinner ’n mens aan hoekom jy helde het. Dit herinner ’n mens aan wat was, en weer kan wees – uitmuntendheid. By die Klein Libertas stap ’n handvol mense op die verhoog; almal oor die jare op een of ander manier betrokke by die Klein Libertas-teater. ’n Kleiner handvol mense is agter die skerms – om menigte mense se werk te doen. Akteurs, tegnici en administratiewe personeel regisseer, speel, is kroegman, verhoogbestuur – alles. Dis hulle wat bereid is om te werk, nooit vir baie geld nie, nooit sonder om ander werk ook te moet doen nie, wetende dat daar byvoorbeeld kinders is wat moet eet.

En dan ... pas elkeen in Oom Anton by die see soos ’n handskoen in sy rol. In Oom Anton by die see vervleg elke element ineen en skep hoogtepunte soos seer sekerlik Stephanie Badenhorst se beste werk tot nog toe; ook die beeldskoonste, egste Lilina Stanislavsky, oftewel Stephanie Hough, kompleet soos die romantiese leading ladies in die dae van die Cobus Rossouws, tydens die gloriedae van die nou gestorwe streeksrade. Esther von Waltzleben vier definitief die kersie op die kruin van ’n lang loopbaan, in haar snaakse, maar ontgogelende, Masja. Francois Toerien pas perfek as die eienaardigste Konstantin Stanislavsky. En teenoor Schultz speel ’n vonds – die tot nog toe goed-versteekte diamant Ira Blanckenberg – toevallig sy vrou in die regte lewe. Petrus du Preez is ’n man om jou oog op te hou, die bekroonde Johann Nel weer suiwer edelgesteente, Hugo Theart ’n speler wat gans te min sy kragtige ware op verhoë uitstal, en Jan-Hendrik Opperman – Vladimir – direkteur van die Moskou-teater, ’n koel kliënt om mee rekening te hou.

Die ironie is hoeveel van hierdie onbetwiste talent hulle tande slyp op selfgeskepte kinderteater, opvoedkundige teater, énige teater – gereeld onder haglike omstandighede, op die pad, die land deur. Wat duidelik die manier is om dit te doen. Want kyk! Hulle is skerp.

Die opvoering by Klein Libertas is in die buitelug, waar die ruimte slim gevul word met ameublement, rekwisiete, natuurskoon en lig. Die rol van die verhoogbestuurspan, onder Gaerin Hauptfleisch – het ek gesê hy speel ook in die stuk?! – kan nie geringgeskat word nie.

Die prys vir Oom Anton by die see is welkom. Die skaars teenwoordigheid van ’n handvol teater-“fynproewers” ook. Maar mag die posisionering van die werk op die kunstefront mense raak, beïnvloed, en leer. Want Oom Anton by die see is kuns, geskep deur kunstenaars, in ’n omgewing waar kuns blom. En soms wil dit lyk asof mens stukke soos hierdie by skole moet laat speel – omdat ’n vak: die dissipline van kuns en oorlewing, broodnodig is.

Te veel kwaliteit word brood op die water. Moenie hierdie misloop nie. En bring die presidensie saam – om te kom kyk.