Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Wanneer die kamer weer stil is


Reney Warrington - 2011-03-23

Lize ruk wakker! Sy vlieg orent, soek na die verdomde wekker op die bedkassie, kry uiteindelik die snooze-knoppie en haal dán eers asem, wanneer die kamer weer stil is. Sy haat wekkers, dink sy, en lê weer terug in die bed.

Dit is nog pikdonker buite. En dit reën. Great, sy hoop die tente is waterdig.

04:40 gaan die wekker weer af. Lize skrik dié keer nie so groot nie. Sy draai op haar sy, sit die wekker af en wag.

Priya krul teen haar rug op, vou haar arms om haar en soen haar agter in haar nek. Dit is elke oggend se storie, die vashou, saam omdraai.

Hierdie bed is vir Lize die veiligste plek op aarde. Hier laat gaan sy van alles wat sy in die dag moet saamdra.

“Ek moet opstaan, Engel,” fluister sy in die donker.

Nee, skud Priya haar kop, en dit laat steeds Lize se tone omkrul.

“Die pommies gaan my wegjaag as ek laat is,” probeer sy tevergeefs.

Priya ignoreer die moontlike tekort aan inkomste. Sy soen Lize se skouer, gly haar regterhand onder Lize se nek deur, vou dit sagkens om haar linkerbors en streel met haar ander hand oor Lize se heupbeen. Lize kreun toe Priya haar heupe terugtrek teen hare.

Sy dink aan Priya se soepel lyf agter haar, in pienk panties en ’n stywe wit T-hemp toegevou. Eish. Sy moet nou maar laat wees, dink Lize, en draai om.

“Nina, is jy al wakker?” vra Lize toe sy in die kar spring.

“Net-net,” gaap Lize se assistent.

“Ek is laat.” Nina lag. “Ja, toe, toe. Dit is nie so snaaks nie. Sal jy gaan oopmaak? Dan tel ek die ontbyt op?”

“Sure. Laat aand gehad?”

Wilde oggend, eerder, bloos Lize. “Ek het net verslaap. Ek sien jou oor ’n uur. Kyk tog dat die urn aan is. Jy weet hoe erg die pommies oor hulle tee is.”

Lize parkeer reg voor Fournos. Die crew se ontbyt is reg oor so tien minute, beloof die bestuurder. Wil sy nie koffie drink nie?

“Make it an espresso,” bestel Lize en gaan sit buite in die son. As sy nog gerook het, het sy nou ’n sigaret aangesteek. Priya trek haar gatvelle af.

Sy skraap die Star nader en blaai ingedagte deur die hoofkoerant. “Ag, net politiek,” sê sy vir haarself en haal eerder die Fridayuit. Miskien moet sy Priya uitvat vir fliek. Sy bestudeer die tye en name, sê dankie vir die espresso wat afgelewer word en skuif dan die koerant eerder opsy. Sy kan nie konsentreer nie. Sy dink aan die slapende, kaal vrou wat sy agtergelaat het.

---

Priya slaap tot na nege. Sy rek uit, lê op Lize se kussing en word stadig wakker. Sy sien Lize se lang, blonde krulhare wat oor haar kaal lyf gly vanoggend, sy voel weer haar lippe op haar. Sy glimlag. Sy vat ’n rustige bad en staan ingedagte voor haar kas. Vandag moet sy uithaal en wys. Sy kies ’n donkergrys katoen-langbroek met ’n fyn wit strepie, ’n kraakvars wit katoenhemp en ’n paar Jimmy Choos.

Sy gaan sit op die agterstoep met ’n koppie tee en haar rekenaar. Die ontmoeting vandag is net ’n formaliteit. Al die inligting is reeds aan Johan Slabbert & Kie deurgestuur. Beide partye se prokureurs het die dokumentasie al deurgewerk. Hy wil graag vir Priya ontmoet, ’n gesig by die e-pos adres sit, het Johan laat weet, voor hy besluit of hy gaan belê. Die man is deeglik.

Priya gaan self weer deur die voorlegging. Nuwe-tegnologie-windturbines wat plaaslik vervaardig word, is tog die antwoord. Dit skep werk vir honderde mense en dit is skoon energie. Sy kan nie verstaan hoekom Suid-Afrika sover nog net die Kreepy Krauly ontwerp het nie. Ons het die talent en ons het vir seker die geld nodig. Volgende moet iemand tog net ’n plaaslike, klein, ekonomiese karretjie ontwikkel. Hulle sal sakke vol geld maak.
Priya bekyk die bossies, die mistroostige erf. Sy en Lize bly maar drie maande in die nuwe huis. Net hierdie naweek gaan sy begin werk aan haar groentetuin. Sy wil graag vir Lize vars kos uit die tuin uit kook, haar eie pesto maak.

“Die fokken kostent het gelek!” fluister Nina en skuif haar donkerbril terug.

“Waar is die pommies?”

“Ek het hulle voorgekeer en gesê hulle moet by die lodge gaan koffie drink.”

“Goeie plan, Ninatjie,” sê Lize en stap by die tent in. Nina gaan nog ver gaan in production. Sy partytjie dalk te hard, kom gereeld met ’n babelas by die werk aan, maar sy is altyd betyds en kan op haar voete dink.

“Manne,” groet Lize vir Henk met die weglêsnor, JP met die dik nek en Philip met sy donker five-o’-clock shadow nege-uur die oggend. “Philip, maak dood daardie sigaret.”

Philip trap die sigaret op die modderige gras dood. “Sorry.”

“Maar die madame is laat vanoggend,” terg Henk.

Lize gooi hom met die lemoen wat sy van plan was om te eet. “Wat staan jy so en niks doen nie, Henk?”

“Ek doen mos nooit niks nie?”

“Ja, jy maak net moeilikheid. JP, help jou bejaarde pa tog om die flappe van die tent oop te maak en al die meubels uit te dra. Philip, kry vir julle ontbyt in my kar,” sê Lize en gooi vir hom die Spark se sleutels. Toe vat sy aan die banke. Dit is nie te nat nie. Daar is hoop as die son uit bly.

“Nina, hoe lyk die groot tent? As daai Rooinek se kameras natgereën het, bedank ek nou.”

Die twee girls stap saam die donker tent binne. Hulle bekyk elke hoek en draai, maar gelukkig is alles droog. “Dank Vader. Kan jy vir my kyk of die kragopwekker-kabels droog is?”

Nina knik en verdwyn. Ek kan seker nie die hele dag die pommies vermy nie, dink Lize en stap in die rigting van die bliksemse lodge. Hulle vra haar ’n fortuin vir die huur van die veldjie, die tente kos ’n plaas se prys en die kragopwekkers suig petrol. Die koeldrankmaatskappy het wel aangedring op ’n verafgeleë plek, op privaatheid, so nou moet hulle betaal volgens die wet van Transvaal.

“Lize!” gil die middeljarige Sally oor die foyer. Met haar oorgrootte wit tekkies en jeans wat tot oor haar naeltjie opgetrek is, is sy te uncool vir die industrie. Haar jare as ’n rock concert promotor het haar egter hare op haar tande gegee. Niemand sê vir Sally nee nie en dit is meer belangrik as om cool te wees.

“Good morning, Sally.”

“You are late.”

“I got stuck in traffic.”

Sally haak by Lize in en trek haar weer by die foyer uit, terug tente toe. “We have a problem, Lize.”

“Ja?”

“Mud.”

“Mud?”

“We can’t expect the blokes to step out of the Hummers and on to mud.”

“Okay. Show me.”

Lize se foon lui. Sy kyk op die gesiggie. Priya. Vir haar moet Sally en die modder maar wag. “Sally, excuse me for a moment. It’s Priya. I’ll see you at the tent in five.”

Sally knik en loop so paar tree vooruit.

“Engel?”

“Hey, boeremeisie?” Lize bloos klaar. Sy staan stil en skop teen ’n grasknol. “Maak die Engelse jou mal?”

“’n Bietjie.”

“Het ek gedroom vanoggend?”

Nou weet Lize waarom sy bloos. Sy giggel. “Wat het jy gedroom?” vra Lize en draai een van haar blonde lokke om haar voorvinger.

“Ek, jy, ons bed, niks klere nie, jou warm lyf?”

“Nee, jy het nie gedroom nie.”

“Hoe kry ons dit reg, Kanna, om nog so lus te wees vir mekaar, maar so versigtig met mekaar te kan werk? Na sewe jaar?”

Lize hou daarvan as Priya haar Kanna noem, die Hindi-woord vir “babe”. “Ek weet ook nie. Ek vra egter nie vrae nie.”

Hulle is albei stil.

“Kan ek vir jou kook vanaand, Kanna?”

Lize grinnik al weer. Sy kyk op en sien Sally met haar hande op haar heupe staan. Sy draai weg. “Dit sal lekker wees.”

“Goed. Gaan werk die Engelse se gal, dan sien ek jou sewe-uur.”

Lize lui af, haal asem en stap na Sally toe. Sy wil eintlik nie met die vrou sukkel nie. Sy bestuur ’n reuse-produksiemaatskappy in Engeland en kan nog baie werk Suid-Afrika toe bring.

“Show me the mud, Sally.”

Die twee, drie meter modderige veld wat die “groot” sportsterre van hulle karre tot in die tent moet trotseer, sou nie die standaard Suid-Afrikaner pla nie, maar Lize knik instemmend haar kop. “We can get more of the square floor tiles and just extend the floor of the tent outwards, Sally.”

“Perfect.”

Lize rol haar oë vir Nina en sê in Afrikaans: “Nou fokken hoop ek daar is nog teëls oor.” Sy kry die supplier op die lyn. “Gerhard, nou moet jy help. Ek soek nog tien vierkante meter van die vloerteëls wat julle in die tente gesit het.”

Gerhard tik op die rekenaar, wag ’n sekonde en sê dan: “Nee, ek het, maar al my drywers is uit.”

“Ek stuur vir JP.”

“Sit ek dit by die bestaande invoice?”

“Wat? Gerhard, jou verdomde tent het gisteraand gelek! My meubels staan in die son om uit te droog …”

Sally wuif almal nader.

“Ek dink die paar teëls is op die huis en ek soek een van jou technicians hier teen vanmiddag. Hierdie tente moet reg.”

Lize druk die foon dood en staan nader. Sally hou ’n pak dokumente in die lug. Almal moet ’n confidentiality clause teken. Die span kyk na Lize vir ondersteuning.

“Kom julle, laat ons teken. Dit is nie asof hier iets is om oor te vertel nie.”

“No autographs?” vra Nina met geveinsde verontwaardiging.

“No,” antwoord Sally heel ernstig.

“So, when the Hummer pulls in, I can’t run up to the door, rip open my cleavage and ask for an autograph across my bosom?” spot Nina.

Die Suid-Afrikaanse crew giggel. Sally begin hyperventilate. Lize kyk op en sien die rede vir haar angs. Die kliënt, die CEO, staan agter hulle almal. Die ou met die beursie.

Hy maak sy baadjie oop, haal ’n viltpen uit en oorhandig dit aan Nina. “It’s a permanent marker,” terg hy.

Almal lag en Sally moet tog glimlag.

---

John Slabbert is tien minute vroeg. Priya verwelkom hom in Afrikaans en maak seker sy skud die Afrikaner se hand met mening. Sy het dit by Lize se broers geleer.

“Jy praat my taal?” sê hy met belangstelling.

“Koffie?” vra sy en bestel twee koppies by haar assistent. “Afrikaans is ’n besonderse mooi taal, mnr Slabbert.”

“Noem my Johan.”

“Goed.”

“Waar het jy geleer?”

“My pa het ’n klerewinkel in Randfontein gehad. Al ons kinders het vir ekstra geld uitgehelp oor naweke en my pa het verwag dat ons sy klante in hulle eie taal moet aanspreek.”

“En die meeste van sy klante was Afrikaans?”

“En Joods.”

“Laat ek raai: hy het al sy bestaande klante se groottes geken?”

Priya glimlag. “En nuwe klante s’n met een oogopslag reg geraai.”

“Dankie,” sê Johan vir die assistent wat die koffie neersit. “Het jou pa nog die winkel, Priya?”

“Jip. Hy weier om af te tree.”

“Werk hou ons ou garde aan die gang. Ek moet dalk ’n draai daar maak. Ek mis goeie diens.” Priya skryf die adres neer en stoot dit oor die tafel aan. “Dankie. Ek het nog altyd groot respek gehad vir die Indiër-gemeenskap in Suid-Afrika. Vandag se politici kan nie vooruit beplan nie.”

Priya hou haar hand op. “Ek bly ver weg van politiek af.”

Johan hou Priya noukeurig dop. “Die politiek van die dag tel tog tot jou voordeel, Priya?”

“Ek wil nie ’n projek of tender kry oor my velkleur nie. Ek wil nie die wantroue hê wat daarmee saamgaan nie. Ek moet aangestel word oor my harde en goeie werk en oor ek nie staan vir ‘handouts’ nie.”

Johan doop ’n gemmerkoekie in sy koffie. “Interessant.”

“Genoeg politiek. Kom ons praat oor die windturbines.”

“Dit is nie nodig nie. Jou ‘harde en goeie werk’ op vorige projekte spreek boekdele.”

Priya glimlag rustig. “Wat het jy nog nodig om jou finale besluit te maak?”

“O, my besluit is gemaak.”

“O?”

Johan hou sy hand uit. “Geluk, Priya.”

“Werklik?” vra sy en skud sy hand.

“Werklik.”

Die ekstra vloerteëls arriveer en die Suid-Afrikaanse crew spring in om hulle in posisie te kry. Henk smeer modder oor Lize se boarm. Sy gooi hom in die gesig met ’n modderige graspol. Nina pootjie vir JP en hy beland op sy gat in ’n poel water. Philip neem wraak en tel vir Nina oor sy skouers. Hy dreig om haar in die dam te gaan gooi.

“There’s a car!” gil Sally en die stout kinders staan almal, effens modderig, maar sedig op aandag soos hulle aangesê is om te doen.

Die Hummer parkeer presies so dat die “sterre”op die nuwe teëls trap en dan in die tent verdwyn om afgeneem te word. Die chauffeurs en lyfwagte, almal Suid-Afrikaans en die meeste Afrikaans, kom drink ’n koffie saam met die local crew.

Lize verskoon haarself en stap die 500 meter toilet toe. Daar betrap sy vir Sally met ’n sigaret in die hand.

“Don’t tell my husband,” maan Sally heel skuldig.

“Give me one and don’t tell my girlfriend. Then we’re quits.”

Sally grinnik en steek vir Lize ’n sigaret aan en vra: “Was that your girlfriend that phoned earlier?”

“Yip.”

“Priya? Is that not an Indian name?”

“Yip. She is Indian.”

“Yet you speak Afrikaans to her?”

Lize vat ’n diep trek van die sigaret. “Yip.”

“She doesn’t mind?”

“Why would she?”

“Isn’t Afrikaans the language of apartheid? The language of the oppressor?”

Lize glimlag en tik die as van haar sigaret af. “A language cannot oppress anyone, Sally. If it could, English would be a hated language, wouldn’t it?”

Sally lag vir die eerste keer op die job kliphard. “Good answer, Lize.”

“I try.”

“Surely it must be challenging? Having come from such different backgrounds?”

“Life is as complicated as you make it. We kept that which resonated with us from our childhoods and decided to build something new together. No politics allowed.”

“Your parents?”

“My father is dead. My mom adores Priya. When I walk through her door, she peers behind me to see if Priya came with. And let me tell you, she’s disappointed if it’s only me.”

“How long have you been together?”

“Seven years.”

“Wow. That’s a long time. Are you married?”

“No.”

“Why not? It’s legal here now, isn’t it?”

“Yeah, it is. We were committed from the beginning. We didn’t need a piece of paper.”

“Legalities aside, would you like to be married?”

“I haven’t thought about it much.”

---

Priya stop by die groentewinkel om die hoek van die huis. Sy loop ingedagte en glimlag. Sy kan nou nog nie glo Slabbert gaan belê in haar projek nie. Dit is surrealisties. Sy koop rose, aartappels, uie en groenrissies en vat dit huis toe. Priya mis altyd haar ma as sy masala dosa maak. Sy sit Florence and The Machine aan vir agtergrondmusiek en skink vir haarself ’n glas wyn. Sy weet haar ma sal die alleendrinkery nie goedkeur nie. Priya sug, maak haar hare vas en meet die rys en swart lensies af. Sy maal dit fyn en verhit solank die pan. Daar is baie dinge wat die vrou nie goedkeur nie, dink Priya. Soos Lize, byvoorbeeld.
Sy braai ingedagte die “pannekoeke” aan albei kante en onthou hoe sy kleintyd by haar ma en tannies in die kombuis gesit het terwyl hulle kook. Sy vee die gedagte weg, rol die pannekoeke op en sit hulle weg. Sy sal die masala later maak, maar die pajasam, Lize se gunsteling-nagereg, moet nou gemaak word oor dit ’n ruk lank moet staan. Priya was die rys en laat dit vir omtrent ’n halfuur week. Terwyl sy die melk, kondensmelk en suiker tot kookpunt bring, kruip die gedagtes oor haar ma terug. Sy wonder of haar ma besef dat sy al hoe verder wegdryf van haar dogter af. Haar oordeel gaan niks aan Priya se besluite verander nie. Priya se ma mis uit op ’n ongelooflike skoondogter, besluit Priya en voeg die rys by.

Sy hou op tob oor haar familie en dink eerder aan vanaand. Opgewonde roer sy die mengsel tot die melk met 50 persent verminder het. Sy voeg amandels en kardamom by, maar los die rosyntjies oor Lize daarvoor gril. Die roosblare sal sy pluk en op die ryspoeding sit net voor Lize huis toe kom.

---

Die res van die middag is ’n nagmerrie vir Lize. Die middagete by die lodge is pap gekook. Die kragopwekker breek kort daarna. Gelukkig is die laaste ster vir die dag afgeneem en al op pad terug Sandton toe. Dit kos Lize in haar kar klim, terug Jo’burg toe ry, met die kragopwekkermense baklei, ’n nuwe kragopwekker toets en weer terug ry Muldersdrif toe.

Met die kragopwekker ingekoppel, die tente ordentlik geseël en die ekstra vloerteëls opgetel en gestoor, kan Lize en die crew huis toe keer.

“Bier?” vra Nina. Almal stem.

“Sorry ouens, ek het ’n hot date,” skerm Lize.

“Ek gaan vir Priya sê,” spot Henk.

“Henkie, jy weet die baas het net oë vir een chick,” antwoord Nina.

“Ek is nie die baas nie,” sê Lize en stap kar toe. Sy sak moeg in die bestuurdersitplek neer, skakel die Spark aan, maar bly op een plek staan. Sy loer by die venster uit. “Henk?!” roep sy. “Ek sit vas.”

Henk kom aangestap met die einste vierkantige vloerteëls onder die arm.

“Ons gaan dit mos nou vol modder smeer?” probeer Lize keer.

“Wil jy by jou hot date uitkom?”

Lize gee op en laat Henk en JP die teëls uitpak en die kar uit die modder uit ry. Dit is eers toe sy in die verkeer vassit dat sy sien dit is al sewe-uur. Dit gaan ’n goeie uur wees voor sy by die huis is!

“Engel, ek is so jammer.”

“Waar is jy?”

“Nog in Muldersdrif en die verkeer is mal. Ek dink daar is ’n robot uit.”

“Ry net mooi.”

Dit is toe nie ’n dooie robot nie, maar ’n trok wat omgeval het. Lize stop eers 20:38 in die driveway. Oormoeg en gatvol, moer Lize haar deur toe. Sy stap deur die kniehoogte bossies en gras. Sy hoop nie haar girlfriend is te kwaad nie.

Sy gaan staan voor die gedekte tafel, die dosa, pajasam en kerse wat amper klaar gebrand is. O jinne. Lize kyk op haar horlosie. Het sy dalk hulle herdenking vergeet? Nee, dit is nog twee maande weg. Nou wat is die okkasie?

Priya lê in die hangmat op die agterstoep. Sy het die kardeur hoor slaan, kort daarna hoe Lize haar roep.

“Ek is in die hangmat, Kanna.”

Die agterdeur gaan oop en ’n bekommerde Lize tree in die stoeplig in. Haar hare is vasgemaak, haar bene vol modder en haar oë moeg. Sy wys na binne, seker na die eetkamertafel. “Het ek vergeet van iets?”

Priya se hart gaan uit na die meisie toe. Sy is so ongelooflik lief vir haar. “Jy is moeg, Kanna.”

“Ek is so jammer ek is laat. Alles het verkeerd gegaan! Die tente het gelek, die kragopwekker het gebreek en my bliksemse kar het vasgesit … Ek het …”

“Lize, jy hoef nie te verduidelik nie. Ek ken jou mos.”

“Ek is jammer.”

“Kom hier, Kanna,” sê Priya met empatie en hou haar hand uit.

Lize skop haar skoene uit en klim saam in die hangmat. Sy lê op Priya se skouer en laat gaan van die dag. Priya soen haar voorkop, maak haar hare los, en alles is oombliklik beter.

“Wat is die okkasie?” vra Lize en loer op. “Hoe was jou vergadering …?” Lize vlieg so regop soos wat sy kan sonder om hulle albei uit die hangmat uit te tiep. “Het jy die geld gekry!? Is dit waarvoor die kerse en kos daar is?”

Priya knik. “Ek het.”

“A! Geluk, Engel!” sê Lize en soen haar. “Dit is ongelooflike nuus.”

Priya soen haar stil, trek effens terug en sit haar voorvinger op Lize se mond. “Dit is nie waarvoor die blomme, kerse en kos is nie.”

“Nee?”

Priya kyk lank vir Lize. Sy soen haar weer een keer en sê toe: “Trou met my.”