Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Van hip-hop tot hippie-hophop en pp


Theunis Engelbrecht - 2011-03-23

Luisterpaneel:Elsie Els en Beyers Eybers
Sameroeper en notuleerder: Theunis Engelbrecht

Cypress Hill: Rise Up 
Lupe Fiasco: Lasers 
KiD CuDi: Man on the Moon II
Entertainers Vol 1: The Official SA Hip-Hop Compilation

Elsie en Beyers sê hulle het albei nooit regtig van rap en hip-hop gehou nie (in Beyers se geval met enkele uitsonderings, soos Cypress Hill en Public Enemy), maar danksy Die Antwoord en Jack Parow is hulle belangstelling in die rap- en hip-hop-kultuur geprikkel en luister hulle deesdae met ’n ontvankliker gemoed, skerper oor en oper kop as dié musiek hulle pad kruis.

Elsie sê sy het onlangs gelees ’n Afrikaanse sanger van minneliedere en ligte klassieke cover versions meen rap en hip-hop is nie musiek nie. Ons luisterpaneel en sameroeper stem glad nie met so ’n oningeligte mening saam nie en wil die betrokke sanger graag aansê om op ’n kaktus te gaan sit en in die rondte te draai. Beyers glo rap en hip-hop het deesdae meer cutting edge as rock en pop. Rap en hip-hop is musiek van die strate en handel in baie gevalle oor sosiaal-politieke sowel as maatskaplik-politieke kwessies. Onreg en swaarkry en vervreemding word skerp en genadeloos aan die kaak gestel, baie rappers het ’n skerp sintuig vir ironie, satire en fabulering. Goed, uiteraard is nie alle rap so nie – daar is maar baie musiek in dié genre wat pleinweg kak is, veral dié wat handel oor hartsake, blink karre, orgieë op luukse seiljagte en waarin misdaad, geweld en vrouehaat verheerlik word.

En o ja, asseblief: mense moet ophou om in Afrikaans van rap as kletsrym te praat, dis ’n walglike woord. Dit het so ’n gemoedelike klankie, dit is so ’n lig-in-die-broek woordjie - klets en skerts is allesbehalwe wat rappers doen. En buitendien, hoekom moet rap ’n Afrikaanse naam hê as rock, jazz, blues, soul, house ens dit nie het nie? So, as jy weer iemand die woord kletsrym hoor gebruik, gee hom ’n taai snotklap, vra Beyers.

Mense wat dus hou van goeie hip-hop en rap kan nou op die uitkyk wees vir drie lekker CD’s wat heelwat luisterplesier bied – selfs ’n skootdanser kan nie soveel plesier skep nie. Hulle is Rise Up deur Cypress Hill, Lasers deur Lupe Fiasco, The Man on the Moon II deur KiD CuDi en Entertainers: The Official SA Hip-Hop Compilation.

Rise Up is Cypress Hill se negende amptelike album in hul twintigjarige bestaan. Dit is ook nie splinternuut nie – dit is laat verlede jaar uitgereik, maar omdat daar elke maand so ’n stortvloed van duisende CD’s is, het Rise Up tussen die krake deurgeval. Dit sal ’n groot verlies wees as die album bloot aan ’n mens verbygaan, want dit is Cypress Hill op sy intense gatskop-beste. Die titelsnit is genoeg om mense wat revolusie wil hê, daartoe op te sweep. Oudergewoonte is daar ’n paar liedjies oor papegaaislaai (“Pass the Dutch”, “Bang Bang” en “KUSH”), behoefte aan bevryding en verlossing van een of ander aard (“Carry Me Away”, “Take My Pain”), outsiderskap (’n deurlopende tema) en ’n hardegat attitude om deur die lewe te kan kom (“Trouble Seeker”, “I Unlimited”, “Shut ‘em Down”). Die lirieke is skerp en snydend, en die beats en musiek het genoeg variasie en twists en afwisseling om verveeldheid en eenselwigheid uit te skakel. Beyers en Elsie, en ook die sameroeper, gee al drie hierdie CD’s ’n lekker vet thumbs-up. (Ons het ’n voëltjie hoor fluit dat Cypress Hill alweer ’n nuwe CD gereed het, Cannabis Dreams, wat hierdie jaar nog uitgereik gaan word. En nee, dis nie Vanilla Ice se voëltjie wat dit gefluit het nie.)

Lupe Fiasco se CD Lasers het kort nadat dit twee weke gelede uitgereik is, die eerste plek op die Billboard Top 100 ingeneem, sê Elsie. Om op dié trefferlys te wees beteken nie noodwendig ’n CD is goed nie, en veel eerder dat dit deur en deur kommersieel is, meen Beyers, ingenome met homself oor dié aardskuddende insig.

Die munt het twee kante, kap Elsie terug: nie alle kommersiële musiek is noodwendig sleg nie. Kommersiële musiek is net ’n onding wanneer ’n kunstenaar se uitsluitlike doel met musiekmaak is om ryk te word. (Soos deur oorsese treffers in verbeeldinglose Afrikaans te herskryf, dit op te neem en ’n musiekvideo te maak vol halfkaal meisies om dit te help verkoop. Dié sindroom loop sterk.)

Lupe Fiasco is die verhoognaam van die 29-jarige Wasalu Muhammad Jaco, oorspronklik van Chicago, en Lasers is sy derde CD sedert sy hoogaangeskrewe Lupe Fiasco’s Food & Liquor in 2006. Interessant genoeg het Fiasco aanvanklik niks van hip-hop gehou nie omdat hy dit te vulgêr gevind het, en op sy CD’s sal jy ook nie gekruide taal hoor nie. Nie dat dit saak maak nie, al is sekere rappers baie irriterend as hulle dink hulle is op die morele hoë grond en soos hoofseuns raak in hul strewe na skoon en suiwer klanke en gedagtes wat heilsaam vir die hele familie is.

Gelukkig is Fiasco darem nie een van die hoogheilige hoofseuns nie. In die CD-boekie verskyn sy manifes, wat Elsie en Beyers baie instemmend laat knik het toe hulle dele daarvan gelees het: “To every man, woman & child: We want an end to the glamorization of negativity in the media. We want an end to status symbols dictating our worth as individuals … We want substance in the place of popularity. We will not compromise who we are to be accepted by the crowd.”

Die musiek self is kommersieel, ja, en baie toeganklik. Die eerste treffers wat nou baie gespeel word, is “The Show Goes On” en “Words I Never Said” en steek baie gou in die meeste mense se koppe vas. Die album self is in sy geheel die moeite werd en spog ook met ander hoogtepunte, soos “I Don’t Wanna Care Right Now”, “Never Forget You” (met John Legend) en “State Run Radio”. Uitstekende produksie en hoogs luisterbaar, selfs al is die lirieke nie oral so treffend en hard-hitting soos in die beste rap nie.

Dis ook die moeite werd om jou ore oop te hou as jy iewers in KiD CuDi se Man on the Moon II: The Legend of Mr Rager vasloop. Dis die vervolg op se debuut, Man on the Moon I: The End of Day. Mense wat nie van rap hou nie omdat hulle dit te intens en skel en skril vind, sal bly wees om te hoor dat dié CD ’n baie “sagter” aanslag het met selfs ’n strykensemble, arpeggio’s op klavier, die works, en beats wat jou nie laat voel of dit jou brein in jou kop rondskop nie. Die CD, met 17 snitte, is goed gekonstrueer om die luister daarna ’n trippie vol genoeg afwisseling te maak, sê Beyers, maar hy weet egter nie of hy oor ’n jaar nog hierna sal luister nie. Elsie sê sy het dit geniet om na hierdie CD te luister, maar as dit nie daarvoor was dat haar broer dit vir haar geleen het nie, sou sy nie self die CD koop nie – dis deesdae net te duur. Daar is nietemin ’n handvol prima snitte: “Marijuana”, “The World I Am Ruling”, “Erase Me”, “These Worries” en “Trapped in My Mind”. Desondanks meen ek en Beyers dat Elsie se benadering tot hierdie CD verstandig is.

Beyers sê wat hom opgewonde maak, is die feit dat Suid-Afrikaanse rap en hip-hop baie meer opwindend is as enige ander rap en hip-hop. Dis seker omdat ’n mens jou meer daarmee kan vereenselwig, omdat Suid-Afrikaanse realiteite neerslag vind in die musiek, maar dit het ook ’n meer bruisende energie as byvoorbeeld Amerikaanse hip-hop en rap. Suid-Afrika het ’n trotse tradisie van goeie hip-hop en rap – van die destydse briljante groep Prophets of da City tot Brasse vannie Kaap en deesdae kunstenaars soos Garlic Brown, The League of Shadows, Jaak Paarl, Isaac Mutant en natuurlik Die Antwoord en Jack Parow.

EMI se uitreiking Entertainers: The Official SA Hip-Hop Compilation Vol 1 fokus weliswaar meer op kommersiële rap en hip-hop, maar is nietemin ’n album wat beslis die moeite werd is om na te luister. Die eerste twee snitte, Jozi se “Turn It Up” en JR en HHP se “Show Dem”, trek jou dadelik in met die uitbundige vrolikheid daarvan. “Show Dem” (ook bekend as “”Make the Circle Bigger”) is maklik een van die warmste dansliedjies uit Suid-Afrika die laaste ruk.

Entertainers gee jou ’n goeie idee van die uiteenlopende rap en hip-hop wat tans in Suid-Afrika gemaak word. Ná die goeie begin is daar nog 12 ander sterk snitte deur kunstenaars soos Zeus, Teargas, Tuks, Octave Couplet, Molemi, 985, Khuli Chana, Young Nations, Zubs en Prokid. Die CD word afgesluit met vyf sogenaamde lounge-snitte, wat maar kon gebly het. En as ’n bonus is daar ook ’n DVD met die musiekvideo’s van al die liedjies op die CD.

Die Heuwels Fantasties: Wilder as die Wildtuin

Beyers sê: Die Heuwels Fantasties is die beste Afrikaanse popgroep in die land. Mense het nog altyd gedink as jy van Afrikaanse popmusiek praat, praat jy van die werk van die tipe kunstenaars wat by Skouspel optree en ons op kykNET oordonder. Jy dink Snotkop en Eden maak popmusiek. Nee, ouens, dis nie popmusiek daai nie – dis eerder pôpômusiek. Almal – van Hofmeyr, Louw, Van Blerk en Du Plessis tot Jay, May, Darren en Dylan (nie Bob nie) – kan by Die Heuwels Fantasties gaan leer hoe ware, ordentlike en opwindende popmusiek in Afrikaans klink. (Indien dit nie heiligskennis is om DHF in dieselfde asem as die pôpô-spul te noem nie.)

Elsie sê: Ek kan nou nog nie genoeg kry van DHF se fantastiese CD-en-DVD Deluxe Edition wat einde verlede jaar uitgekom het nie, en hier is hulle alweer met nog ’n CD. Ek stem saam met Beyers dat hierdie die beste Afrikaanse popmusiek ooit is. Dit is so vars en modern en verbeeldingryk dat ’n mens nooit moeg sal raak daarvoor nie – jy sal oor 20 jaar nog daarna kan luister (terwyl al die ander huidige Afrikaanse pôpômusiek al die fên, en ook hulle fêns, getref het. En derhalwe van pôpô- tot poepoemusiek gevorder het.)

Weer Beyers se beurt: DHF se debuutalbum, waarvoor hulle so twee jaar gelede ’n Sama-prys vir die beste alternatiewe Afrikaanse album gewen het, sal ook lag-lag die toets van die tyd deurstaan met puik liedjies soos “Oorlewing 101”, “Leah”, “Sonrotse”, “Hyg Duiwel”, “Noorderlig”, “Vinger alleen”, “Die vraagstuk” en “Nare Kaskenades”. En wat my so eindeloos beïndruk van DHF, is dat hulle nie net maar by die beproefde wenresep van hul debuut bly nie, maar op Wilder as die Wildtuin dit verder verfyn en nuwe, anderster dinge probeer. Waar die groep aanvanklik bestaan het uit Pierre Greeff, Hunter Kennedy en Johnny de Ridder, het Fred den Hartog en Philip Erasmus bygekom. De Ridder en Den Hartog is die vervaardigers. Die produksiegehalte is baie, baie hoog – De Ridder is betrokke by die produksiehuis Soft Light City, wat op byvoorbeeld Jax Panik se I Am Jax Panik verbluf en verstom het met die cutting-edge internasionale standaard daarvan.

Elsie: Die DHF-liedjies wat pomp van energie en ritme word altyd afgewissel met musiek van ’n byna melancholiese, introspektiewe aard – soos “Leah” en “Pêrels en lewensredders” op die debuut. Liedjies wat ’n mens amper hartseer kan laat voel. Ek is mal oor hierdie sensitiewe kant van DHF, en op die nuwe CD bederf hulle my met “Verlore Stilte”, “Waar die hel uitkom”, “Verwag my Terug” en “Wind en weer”.

Beyers: Hulle skep ’n groot klank. “Verwag my Terug”, “Buitenste Ruim” en “Wonder bo Wonder” is epiese musiek. En wanneer hulle ’n beat gooi, kook dit – check maar net die titelsnit uit en “Heel te mal”, “In en Uit”, “Nog ’n jaar”, “Modus Operandi” en “Los my uit”. Hulle klank is heeltemal oorrompelend.

Elsie konkludeer: Hulle lirieke is ook heeltemal anders as dié van ander Afrikaanse “popmusiek”, wat basies maar handel oor bokkies wat bybies wil hê. Die tydsgees van vandag slaan sterk en skerp deur in DHF se musiek – “Die Vraagstuk” op die vorige album is ’n skitterende bewys daarvan – en wanneer hulle wel oor liefde en verhoudings s’n, is dit vanuit ’n dieper perspektief. Die soort werklikheid waaroor hulle sing, is onherbergsaam, en met hulle musiek probeer hulle dit besweer. Dit is nog ’n aantreklike aspek van hulle musiek. En ek is mal oor die surrealistiese lirieke van “Wilder as die Wildtuin 2”, waarin daar onder meer gesing word van “die stad se statiese neurie wat in die dagmoeders van De Waalpark se ore suis”.

Beyers rond af: Wilder as die Wildtuin is die beste nuwe Afrikaanse CD wat jy tans kan koop. En as jy nie Deluxe Edition het nie, koop dit ook sonder om twee keer te dink. Ook met die verpakking en artwork wys DHF wat kan met vindingrykheid en verbeeldingrykheid gedoen word. Dié twee uitreikings saam in een hand is koningskos.

Translate: Wanderlust

Musiek wat vars, kreatief en oorspronklik is, staan altyd duidelik uit: dit tref dadelik die oor wat al afgestomp is deur te veel blootstelling aan die Britneys, Celines, Avrils, Janets, Madonnas en Rihannas van ons wêreld. Translate se debuut-CD, Wanderlust, loop oor van sulke musiek. Beyers en Elsie neem persverklarings nooit ernstig op nie, maar in dié geval stem hulle heelhartig saam met wat daar swart op wit staan: “Wanderlust is fun and stylish. Wanderlust is cocktail and sleaze. Wanderlust is danceable and cinematic.”

Die meesterbrein agter Translate is Larah Eksteen, ’n klassiek-opgeleide violis. Volgens Beyers word in die platemaatskappy se persverklaring gesê: “If you love iconic larger than life women who are adept at vocal gymnastics with voices that are sweet and dark and carry within their tones warmth and grace, then Larah Eksteen’s Wanderlust is for you.” As ’n persverklaring daarin slaag om jou nuuskierig te maak, moet jy weet the proof lies in the pudding, sê Beyers, en toe hy na die CD geluister het, het hy besef die lusmakertjies in die persverklaring was nie die holle retoriek van reklametaal nie. Die musiek op Wanderlust het substansie – iets wat deesdae nie juis van die meeste popmusiek gesê kan word nie – en die verwerkings getuig van sofistikasie, speelsheid en oorspronklikheid. En dat Eksteen ’n cover version van Muse se “Starlight” kan aandurf en daarin slaag om ’n hele ander dimensie en tekstuur aan die musiek te verleen wat selfs nog meer treffend as die oorspronklike weergawe is, weet jy jy het hier met uitsonderlike talent te doen.

Beyers wil dit pertinent onder ons aandag bring dat die slotwoorde in die persverklaring oor Translate se Wanderlust ’n aanhaling van Paul Riekert van Battery 9 is: “Larah Eksteen excels on this album, albeit that she is classically trained she does not fall in the trap of music that looks good on paper, this is music that feels good in the gut – she should be proud of her debut. The beats are up to date, the arrangements are excellent, Wanderlust is most certainly going to be well received.”

Dis ook musiek waarna jy oor en oor kan luister sonder om moeg te raak daarvoor, sê Elsie. En dis altyd ’n groot, groot pluspunt, want ’n mens wil waarde vir jou geld hê as jy ’n CD koop. In dié geval kry jy dit beslis.

REM: Collapse Into Now

’n Mens weet ook nooit wie jy kan glo nie, sug Beyers. In die overseas is daar mense wat sê Collapse Into Now, REM se 15de album, is hulle beste in meer as ’n dekade. Daar is selfs mense wat sê dis beter as hul 1991-album, Out of Time, en 1992 se Automatic for the People. En dan is daar mense wat sê Collapse Into Now is “flawed”. Soveel hoofde, soveel sinne – soveel so dat dit genoeg is om van die sinne af te raak. Dit is onmoontlik om soos Salomo of Moses te sê watter REM-album is die beste een. Dis buitendien ’n sinlose oefening, want smaak is arbitrêr. Luister net na die musiek en geniet dit eerder as om eindeloos daaroor te teoretiseer.

Wat wel waar is, is dat Collapse Into Now lekkerder is om na te luister as die groep se vorige twee albums, Accelerate (2008) en Around the Sun (2004). Al was dié twee albums nie geheel en al kak nie, het ’n mens tog begin voel REM rus op hul louere en dat hulle hul edge begin verloor. Maar op Collapse Into Now, is ons verheug om te sê, klink dit wel of daar sedert die vorige album nuwe energie in REM geblaas is. ’n Mens hóór dit net. Dis asof daar weer iets is van die verlore jeugdigheid wat hul eerste albums jare gelede gekenmerk het. Die musiek het weer daai ekstra skop.

Die CD skop op ’n hoë noot af met die pompende rock van “Discoverer”. En verder stoom dit kragtig en sonder nonsens voort – van die kragtige “All the Best”, “Mine Smell Like Honey”, “That Someone is you” en die frenetiese “Alligator_Aviator_Autopilot_Antimatter” (met vreeslik fantastiese sang deur die kokende sangeres Peaches) tot stadiger liedjies waarop Michael Stipe se stem jou hoendervel gee, soos die meesleurende “Everyday is yours to win”, “Walk It Back” en “Oh My Heart”, ’n aangrypende liedjie oor bevryding, verlossing en tuiskoms.

Nee wat, laat ons nou nie doekies omdraai nie: REM skop gat op Collapse Into Now. Te lekker vir fokken woorde.

Bob Dylan: The Witmark Demos: 1962-1964. The Bootleg Series Vol 9

Beyers vertel hy het onlangs by ’n folk-klub uitgehang en het ’n gesprek van ’n paar folk-puriste –sulke ware hippies en hippievrouens – afgeluister. Hulle het gepraat oor die zef-rap en Suid-Afrikaanse hip-hop wat nou so gewild is, spesifiek Die Antwoord en Jack Parow. Hulle het byna gehiperventileer en beroertes gekry van ontsteltenis daaroor. Dis nie musiek nie! Dis vulgêr! Dis totaal onaanvaarbaar dat sulke musiek so gewild moet wees! Ja-nee, ’n mens kan seker nie verwag hardcore hippies moet van hip-hop hou nie. Tensy daar ’n nuwe styl ontwikkel – iets soos hippie-hop-hop.

Moenie ’n fout maak nie: Beyers skiet folk nie af nie. Nie net die puriste en hippies nie, maar ook enigiemand wat van ordentlike, tydlose musiek hou, sal eindelose vreugde put uit die negende aflewering in Bob Dylan se Bootleg-reeks. Dit bestaan uit die demo’s wat hy opgeneem het reg aan die begin van sy loopbaan. In 1962 was Dylan maar 21, en soos met sy ander opnames van dié tyd hang ’n mens se bek altyd oop as jy daarna luister, want die diepte van die werk en die “natural wisdom” wat daaruit opklink, laat ’n mens dink hy moes veel ouer gewees het. Dat iemand op so ’n jeugdige ouderdom nie net uitsonderlike literêre vermoëns toon nie, maar ook vorendag kon kom met tydlose musiek wat die toets van die tyd deurstaan het, spreek boekdele van Dylan se grootsheid en meesterlikheid. Sy lirieke is in baie geval poësie – nie salonpoësie nie, maar poësie van die straat en van die hart, bloed en derms.

The Witmark Demos: 1962-1964 bevat altesaam 47 liedjies – wat ’n magdom! Heelwat daarvan het Dylan later weer opgeneem vir sy albums. Dit is egter baie besonders om na dié liedjies in hierdie gestroopte vorm te luister – net Dylan en sy stem, kitaar en mondfluitjie. Dis asof hy hier by jou sit en speel. Dis folk in sy rudimentêre vorm: rou en aards en direk.

Heelwat van die liedjies is bekend, soos “Blowin’ in the Wind”, “A Hard Rain’s A-Gonna Fall”, “Baby I’m in the Mood for You”, “Masters of War”, “Don’t Think Twice It’s All Right”, “When the Ship Comes In”, “The Times They Are A-Changin’” en “Mr Tambourine Man”, maar daar is ook baie minder bekende liedjies.

Soos met die vorige aflewerings in Dylan se Bootleg-reeks spog die jongste aflewering met ’n besonderse verpakking en ’n pragtige CD-boekie vol foto’s en uitgebreide teks waarin die hele verhaal van Dylan se Witmark-demo’s vertel word teen die agtergrond van die begin van sy loopbaan.

As sy na die foto’s daarin kyk, sê Elsie, kan sy nie glo dat Dylan, wat deesdae vir haar maar ’n lelikrige mannetjie is, destyds so beeldskoon was nie. Dis genoeg om haar geil drome te gee.

Kortom: ’n waardige, fantastiese toevoeging tot die Bootleg-reeks.

Neil Diamond: Dreams

Terwyl ons nou van gerespekteerde outoppies praat, kan ons net sowel Diamond se nuwe CD nadertrek. Wat ’n teleurstelling is dit nie ná Diamond se vorige twee briljante albums, 12 Songs en Home Before Dark nie. Op Dreams sing Diamond cover versions van liedjies soos “Ain’t No Sunshine”, “Midnight Train to Georgia”, “Yesterday”, “Let It Be Me” en “Desperado”. Oukei, oukei, oukei: die produksie is goed en die gestroopte klank het ’n besonderse warmte, maar na die derde liedjie wil ’n mens al aan die slaap raak, en verder gebeur niks wat jou wakkerskud nie. Die baie stadige weergawe van “I’m a Believer” is ’n laagtepunt, en soos so baie ander kunstenaars onlangs het Diamond ook Leonard Cohen se “Halleluja” opgeneem. ’n Mens wens Cohen wil mense verbied om dié liedjie op te neem. Dit is ’n pragtige stuk musiek, maar ’n mens voel dit word ontkrag en afgewater deur die talle covers daarvan – van Kurt Darren en Romanz tot Elvis Blue en Karen Zoid sing dit. Sal mens nie verbaas as Juanita du Plessis en die Drakensbergse Seunskoor dit volgende gaan doen nie.

Diamond se weergawes van The Beatles se “Blackbird” en “Yesterday” is die beste op die album. En dit is ook maar al.

Sting: Symphonicities

Steeds by gerespekteerde outoppies: Sting het verlede jaar 12 van sy en The Police se liedjies afgestof en met die Royal Philharmonic Concert Orchestra saamgespan om klassieke, simfoniese weergawes daarvan op te neem. ’n Interessante eksperiment – met gemengde resultate. Op liedjies soos “Next To You”, “Every Little Thing She Does Is Magic”, “The Pirate’s Bride” en “She’s Too Good For Me” werk dit soos ’n bom. “Englishman in New York” en “When We Dance” is ook nie sleg nie, maar ook nie juis verbysterend nie, klink nie juis anders nie, en ons paneellede sê hulle verkies die oorspronklike weergawes daarvan. So ook dié van “I Hung My Head”, “Roxanne”, “I Burn For You” en “We Work the Black Seam”. Die album is nie deurgaans boeiend nie, maar Sting-fanatici sal mal wees daaroor. Die res moet maar wag vir ’n nuwe album met nuwe liedjies.

Delta Spirit: History from Below

Hel, hierdie is nou vir jou ’n lekker plaat, sê Beyers opgewonde, en Elsie en die notuleerder stem 100 persent saam. Die groep is van Kalifornië en hul musiek word as alternatiewe country-rock beskryf met America-newetone. History from Below is hul tweede album en volg op hul debuut van 2008, Ode to Sunshine. Die groep se naam is geïnspireer deur baskitaarspeler Jonathan Jameson se oom se maatskappy Delta Spirit Taxidermic Station of North Central Alabama.

Sanger Matthew Vasquez se stem is van ’n ander wêreld. In die musiek toon hulle ’n skerp sintuig vir ironie (“9/11”, “Ransom Man” en “Golden State”) en betower die luisteraar deurgaans met uitsonderlik sterk melodieë en liedjies wat jou hare laat regop staan, soos die briljante “Vivian”, “St Francis” en “Ballad of Vitaly” waarmee die album afsluit.

Volgens Beyers, Elsie en die sameroeper een van die sterkste albums van 2010. Dit is een van daardie albums waarvoor ’n mens net nie moeg sal raak nie. Uitstekend, uitstekend, uitstekend.

Duffy: Endlessly

In 2008 het die Walliese sanger en liedjieskrywer Duffy baie harte gesteel met haar treffer “Mercy” en debuutalbum, Rockferry, wat met ’n Grammy en drie Brit-pryse bekroon is. Waar dié album sterk soul- en Motown-invloede getoon het, probeer sy om op Endlessly ’n meer popperige klank te skep, al is die soul-invloed nog te bespeur op ’n snit soos “Well Well Well”.

Mense wat verwag het dat Duffy op haar nuwe album sal voortploeg met soul, mag dalk teleurgesteld wees daarmee, maar ná die derde luister begin dit tog onder ’n mens se vel inkruip. Elsie sê Duffy se stem irriteer haar eindeloos, veral waar sy aan die einde van reëls soos ’n lammetjie blêr, maar Beyers en die sameroeper is mal oor die broos, maar terselfdertyd koketterige klankie in haar stem. Dis sexy, breezy klanke wat sy opklits – van die bykans cheesy pop van “My Boy”, “Girl” en “Well Well Well” tot die meesleurende ballade “Too Hurt To Dance”.

’n Prettige luisterervaring, al is die album nie so sterk soos sy voorganger nie. (Sedert die vorige album het Duffy na ’n ander platemaatskappy oorgestap en vir Albert Hammond gekry om saam met haar liedjies te skryf). ’n Mens voel wel die CD is te kort (net oor ’n halfuur) vir al die geld wat jy daarvoor moet opdok.

Bruce Springsteen & The E Street Band: London Calling – Live in Hyde Park

Hierdie dubbel-DVD neuk ’n mens soos ’n voorhamer. Dis ’n opname van ’n drie uur lange konsert wat die Boss in Junie 2009 as deel van sy Working on a Dream-toer in Hyde Park in Londen gehou het en is ’n roller coaster-rit van intense energie, tydlose treffers en so ’n groot skare mense dat mens byna nie jou oë kan glo as jy dit sien nie.

Die digby 30 liedjies wat gehoor kan word, dek hoogtepunte van die Boss se lang en roemryke loopbaan. Hy sing oudergewoonte met hart en siel en gee absoluut alles op die verhoog, en die E Street Band is eweneens onverbeterlik. Ongetwyfeld een van die beste onlangse konsert-DVD’s. As jy ’n Springsteen-aanhanger is, is dié DVD onmisbaar in jou versameling is nie. As jy nié ’n Springsteen-aanhanger is nie, moet jy jou kop laat lees.

Op die DVD laat Springsteen ’n mens aan sy lippe hang met al die stories wat hy in sy liedjies vertel – van outsiders en outlaws, gevaarlike meisies, die futiliteit van oorlog en politiek, die drome en hoop van die werkersklas, die snykant van liefde en wellus, noem maar op.

Onmisbaar, soos gesê. Prysloos. Oorrompelend. Te lekker.

Rage Against The Machine: The Battle of Mexico City

Dié DVD is die eerste keer in 2001 uitgereik en dit verheug ’n mens dat dit onlangs heruitgereik is, want dis werklik uitsonderlik. Rage Against The Machine het in 2000 ’n konsert in Mexiko gehou uit solidariteit met die Zapatista-struggle in Suidoos-Mexiko. Dit drup dus van revolusie en verset en is lekker opruiend.

’n Mens sien nie net die konsert nie – die liedjies word afgewissel met grepe uit ’n dokumentêre prent wat die groep oor die Zapatistas se stryd gemaak het waarin die land en sy mense en hul stryd om oorlewing uitgebeeld word, en die onregte waaraan hulle onderwerp is, word aan die kaak gestel word. En, glo dit of nie, maar as deel van die bonusmateriaal op die DVD voer die groep se sanger en rapper, Zack de la Rocha, ’n onderhoud met Noam Chomsky oor die destydse situasie in Mexiko asook ander aktuele kwessies van die tyd. Boeiend, om die minste te sê.

Die konsert self is ’n kookpot, soos ’n mens van Rage Against The Machine kan verwag. Die uitvoering van treffers soos “Testify”, “Guerrilla Radio”, “People of the Sun”, “Sleep Now in the Fire”, “Know Your Enemy”, “No Shelter” en “Killing in the Name” is soos knetterende masjiengeweervuur. Net wat jy nodig het as jy ’n revolusie wil aanvuur. The Battle of Mexico City is ’n belewenis.