Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

Wilder as die Wildtuin groei geleidelik op die oor


Annie Klopper - 2011-03-23

Untitled Document

Wilder as die Wildtuin
Die Heuwels Fantasties


Klik hier en koop Wilder as die Wildtuin nou op Kalahari.net!

My gemengde gevoelens veroorsaak dat ek moeilik aan dié resensie begin skryf. Maar hoe dan anders as gemengde gevoelens oor ’n vars mengsel gevoelens?

Die titelsnit waarmee Die Heuwels Fantasties se tweede album, Wilder as die Wildtuin, open, is duidelik ontwerp as ’n doeltreffende vangnet met laag op laag verweefde catchy melodieë en sinne. Maar hierdie eerste snit grens net-net aan oorproduksie en is dus ’n onwillekeurige herinnering aan iets wat een lang somervakansie te veel op die radio gespeel het. Tog is dit nie ongewoon dat die nuwe snitte natuurlik moeilik die etse van die vorige album se herkenbare liedjies – meermale treffers – sal platvyl en plek maak vir waardering van die nuwe liedjies nie. Heelwat snitte sal vir seker moet groei op ’n mens, maar dis immers wat Die Heuwels Fantasties reeds met die aanvang van die groep se bestaan so uitstaande gemaak het: ’n deurdringende klank met dikwels geleidelike (en daarom meer blywende) groei op die oor. Nommers drie tot vyf van hierdie nuwe aanbieding het gevolglik so drie tot vyf herhaalde luisters gekos om vir ewig ingeboesem te word. Maar hoe dan anders met treffende sinne soos: “dinge wat jy miskyk sal altyd in opstand kom” (“Waar die Hel Uitkom”).

Teen snit nommer nege was ek dus baie bly dat ek hier reeds met die eerste ooropslag van iets op die album kan hou. Dis nie slegs omdat die stem van Inge Beckmann seepglad en met passie ’n verskyning op hierdie lied, getiteld “Modus Operandi”, maak nie. Dis omdat die ritme en wysie die Heuwels soos ons dit leer ken het, ure … dae ... later in jou onderbewuste laat broei. ’n Onmiddellike gunsteling en onfeilbare treffer wat op spitsvondige wyse gelyktydig spreek van war en duidelikheid.

Nommer tien, “Los my uit”, is tot groot verligting in die lig van my hoë verwagtinge ’n soortgelyke geval aan bogenoemde. Welkom gaskunstenaar, soos op die debuutalbum destyds, Francois van Coke.

Maar dis nie net die byspelers wat, soos hier, plek-plek, die album iets besonders maak nie. Dis die energie en charisma van liedjies soos hierdie wat te kenne gee dat Die Heuwels Fantasties waarvoor ek lief geword het, nog daar iewers is – iewers tussen die wollerigheid van oormatigheid waarmee die album aanvanklik begin, gryp hulle jou tog nog met klipharde wysies wat tot die einde en lank daarna nie laat los nie.

En toe kom die groot deurbraak wat die laaste bietjie salf is wat aan hierdie album gesmeer moes word om dit te red van die smerige pop wat ek aanvanklik gedink het dit dalk mag wees. Die salwing kom toe soos ’n ligdans op die water aangedra deur “Wind en Weer”. Die luisteraar word meteens weer bewus van hoe intiem die liedjieskryfproses vir hierdie groep kan wees:

Ek het jou vergeet by die agterdeur
jou weer opgetel toe ek arriveer
al die garing wat jou aanmekaar hou losgetorring
te hard hanteer
my blinkoog lappop gelos om buite te slaap
tussen wind en weer.

So swart op wit soos hier bo kom die lirieke nie tot hul reg soos in hierdie sagmoedige, eerlike en gestroopte liedjie nie. Dis dalk selfs wat “Leja” op die debuut was, maar sonder die grootsheid van laasgenoemde se musikale verwerking en tog beeldskoon in sy eenvoud. Onverward oor wat gevoel word, kan duidelik gehoor word dat die liedjieskrywer hier bloot besig is om deur die proses van skryf en musiekmaak sin te probeer maak en sodoende mooi te maak. Goed geplaas as snit nommer elf, kan ek al hierdie gunstelinggroep van my begin vergewe dat hulle my nie gevang het met snit nommer een nie.

Weer, soos met die selfgetitelde debuutalbum, maak Frieda van den Heever se soetsagte stem ’n verskyning op dié een. Hierdie keer vir “Mangemaak”. Frieda het die manier om engelagtig Pierre se stem te agtervolg met iets mooier, maar ewe teenwoordig as ’n gewete.

En Coenie de Villiers, daar kom hy ook toe oor die Heuwels aangestap en maak sy verskyning op snit nommer dertien, “Wonder bo Wonder”. Wat sou die modus operandi wees wat hierdie besluit meegebring het? ’n Verbreding van die teikenmark? Verrassing? Verwarring? Ek het vir Pierre hieroor uitgevra en hy vertel dat Coenie tydens ’n onderhoud met Die Heuwels Fantasties op die program Kwêla, hulle meegedeel het dat hy baie van hulle debuut hou, en later het hy gesê hulle moet net skree as hulle ooit lus is om saam te werk. Pierre en Hunter was dit eens dat dit ’n goeie idee is en ná ’n proses het dit toe realiteit geword. Vir ’n liedjie getiteld “Onbeplan” (destyds deur die Heuwels op die internet vrygestel) het Coenie vir hulle ’n koorgedeelte geskryf wat vir Pierre laat voel het Coenie het geskryf wat hulle vir daardie liedjie self nie kon nie. Maar hierdie samewerking tussen Coenie en die Heuwels het mý nog nie oortuig nie. Ek voel ongemaklik daarmee dat Coenie ’n verhoog deel met mense wat onlangs ’n verhoog met Billy Talent kon deel.

Tog is hier ’n interessante uitbreiding van die speelveld waarin die Heuwels musiek maak, en ’n album is deels mos maar speel-speel, soos die volgende snit, “Wilder as die Wildtuin II”, bevestig. Hier is die Heuwels se geliefde kenmerkende (en onbeskryfbare) manier van wysie tot stem voeg, besonder sterk, en ek verwelkom dit.

En die laaste note van die album skitter soos diamante op die sole van die skoene van daai meisie oor wie Paul Simon gesing het.

Een ding was teen die einde van die eerste luister al duidelik: selfs al gaan ek sukkel om gewoond te raak aan die nuwe klanke, is daar ’n ryk mengsel van gevoelens, emosies en invalshoeke op hierdie album. Dit moet deels wees omdat die aanvanklike setup van die band sedert sy ontstaan verander het: Van Hunter Kennedy en Pierre Greeff wat skryf en sing terwyl Johnny de Ridder produce, is daar nou die waardevolle toevoegings van Phillip Erasmus (tromme) en Fred den Hartog (kitaar, klawerbord en stem) wat ingetree het.

Maar die slotsom is dat die wildtuin nie te wild moet raak nie. Ons gaan daarheen om diere onverwags agter bome te sien verskyn, ja, en dit is hier reggekry, maar die paaie wat daar deur lei moet steeds toeganklik bly en nie te toegegroei raak met ranke van oorproduktiewe pop nie. Ag, maar die verkleurmannetjie wat subtiel tussen die takke loer, is tog mooi. En ’n luisteraar sal sy pad deur die album vind, al is dit soms soos die kraai vlieg.