Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Gratis onderwys – ’n duur belofte


Jason Lloyd - 2011-03-23

Soos die gesegde lui, is politiek die kuns van die moontlike – maar dikwels ook die onmoontlike. En dat president Jacob Zuma in sy politieke loopbaan die kuns beproef, is gewis. In die proses is al menige politikus se beeld verbrysel. Daarom het die Britse politikus Enoch Powell lank gelede opgemerk dat alle politieke lewens in mislukking eindig.

Kom ons neem Zuma se doelwit om gratis en verpligte onderwys vir armes tot op voorgraadse universiteitsvlak in te stel, in oënskou.

Dit is ’n goeie truuk om stemme te werf, maar is dit haalbaar? In sy onlangse staatsrede was hierdie idee verbasend afwesig. Gaan dit miskien in die komende verkiesingsveldtog herleef?

Onderwys blyk ’n prioriteit vir die staat te wees. Vir die 2011/12-boekjaar is ’n allemintige R189,5 miljard begroot. Daaruit gaan tersiêre instellings ’n hap van R26 miljard kry.

Onderwyskenners sê dit is nie haalbaar nie, want daar is iets ongesonds aan die staat se prioriteite. Ons het streng fiskale dissipline, maar staatskuld hoop op en die staatskas word leeg. Dit word gemelk deur ’n stygende salarisrekening wat nie met inflasie tred hou nie.

Selfs in die private sektor is salarisse te hoog in vergelyking met relatief lae produksie-uitsette. Vir ’n ontwikkelende ekonomie kan Suid-Afrika dit nie bekostig nie. In industriële ekonomieë is dit presies andersom. Hoekom leer ons nie?

Die inkomstebelastingregister het sedert 1995 verblydend gegroei van onder drie miljoen belastingbetalers tot net oor die huidige tien miljoen. In werklikheid moet dit egter nagenoeg 40 miljoen mense dra. Met die regering se maatskaplike prioriteite te hoog op die agenda lyk dit nie of die situasie gou gaan verander nie.

Ons het eenvoudig ’n groter belastingbasis nodig om gratis onderwys en ander luukshede te kan bekostig.

Die geskiedenis bewys dat investering in infrastruktuur die ekonomie stimuleer, vaardigheidsvlakke verhoog, en – belangriker – werksgeleenthede geskep. Maar dan moet mense minder afhanklik van die staat gemaak word. Stel streng kriteria daar om te verseker dat diegene wat nie vir maatskaplike toelaes kwalifiseer nie, uitgeskakel word. En stop asseblief die kindertoelae – want studies wat kamstig bewys dat dit nie die geboortesyfer verhoog nie, se geloofwaardigheid word grondig bevraagteken.

Ekonome is van mening dat die begroting van R3,6 miljard vir die nasionale studentehulpskema (NSFAS) moet verdriedubbel om arm studente gratis te laat studeer. Boonop voltooi ’n skamele nagenoeg 60 persent van alle eersjaarstudente hul studie. So, wie gaan dan hulle skuld delg as hulle uitval? En hoe word dit bepaal hoeveel staatshulp die onderskeie instellings gaan kry? En wat is die afsnypunt om te bepaal watter studente as arm gekwalifiseer word?

Te veel vrae en te min antwoorde.

In beginsel is die idee van gratis onderwys loofwaardig, maar ons kan dit nie bekostig nie. Ek’s bevrees in dié verband gaan Zuma ekonomies met die waarheid om.

Dié politieke taktiek van hom vergelyk sterk met dié van Nick Clegg, Britse adjunkpremier en leier van die Liberaal-Demokratiese Party, toe hy voor die Britse algemene verkiesing in Mei verlede jaar die skrapping van universiteitsklasgelde in die verkiesingsveldtog gepropageer het. Die nagevolg was dat die Lib-Dems veral kiesafdelings in universiteitsdorpe in Engeland gewen het – met die belofte: “Ons wil nie klasgelde hê nie.” Noudat Clegg en sy party saam met David Cameron, Britse premier en Tory-leier, die koalisieregering vorm, is hul standpunt egter anders. Einde verlede jaar het die koalisieregering universiteitsklasgelde met 300 persent verhoog en regeringsbesteding aan universiteite met 80 persent gesny. Dit beteken dat ’n eerstejaarstudent vanjaar byna R100 000 aan klasgelde sal moet bestee; die hoogste in die hele industriële wêreld.

Die vet was in die vuur en studente het die strate van Londen ingevaar; hulle het betoog en geplunder.

Studente van dié einste universiteitsdorpies – wat entoesiasties vir Clegg gestem het – vra nou hoe Clegg hulle so kon bedrieg het. Hulle sing nou: “Nick Clegg, shame on you for turning blue.”

Soos verwag het Clegg die ekonomiese resessie vir sy ommeswaai beskuldig. Clegg het dus in weerwil van die werklikheid die Britse kiesers laat verstaan sy party sal vra vir die uitfasering van klasgelde.

Die reputasie van Clegg en sy party is nou geskaad. Daar word selfs parallelle getrek tussen Clegg en wat met die vorige Britse premier, Tony Blair, gebeur het rondom Brittanje se betrokkenheid by die Irakse oorlog. Zuma gaan nog duur betaal vir sy belofte van gratis onderwys wat (miskien) nooit ’n werklikheid gaan word nie.