Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans

Urban jungle


Dineke Volschenk - 2011-03-23

Sy word honger wakker.

Vir ’n oomblik is sy gedisoriënteer. Wanneer dit gebeur, lê sy gewoonlik eers stil vir ’n ruk, dan word die konteks van waar sy haar bevind weer duidelik. Jare se ondervinding het haar dit geleer. In haar onverantwoordelike jare was dit drankmisbruik wat haar deurmekaar laat wakker word het. Nou, in haar middeljare, is dit bloot net lewensverwarring, en soms die slaappille wat sy drink om dit te ontsnap, wat haar baie diep en vermoedelik droomloos laat slaap en waaruit sy haarself dan met moeite moet paai.

Sy lê op haar linkersy, op haar hart, en kyk by haar kamervenster uit. Die groot bottlebrush wat net buite haar tuinmuurtjie staan, beweeg effens – dalk ’n reënwind? Agter hom is nog ’n uitheemse boom waaruit die duiwe hulleself graag lanseer en dan meer kere as nié in haar of een van die bure se vensters vasvlieg. In die afgelope jaar het sy twee keer duiwe op haar stoep gevind, hulle met ’n graaf opgetel, want sy gril vir dooie diere, en in die bedding buite haar hek gaan inspit. Een keer het sy buite toe gestorm toe die duif val en huilend langs hom gestaan en kyk hoe hy spasmaties vrek.

Die uitsig met bome en vet, dom duiwe en die geruis van die snelweg in die agtergrond stem haar rustig. Sy voel tog verfris. Sy sukkel so om te slaap die laaste tyd, dis asof sy heeltyd uitgeput is.

Die braaireuk trek dan weer haar aandag. Sy voel hoe moedeloosheid in haar maag dadelik vlegsel maak: die bure braai. Net toe sy gedink het hulle is weg vir die naweek, kom die bekende reuk van paraffien en rook en vleis haar bewussyn binne. Sy wens sy kon dit wegslaap. ’n Groot huil is skielik in haar keel. Net een naweek om te rus en te lees ... net één ...

Sy staan swaar op. Besluit teen tande borsel. Wil die verval saam met haar koffie sluk.

In die kombuis skakel sy die ketel aan en glip ’n sny brood in die toaster. Langsaan begin die doef-doef van die bure se musiek. Elektroniese dansmusiek. Soms rock. Nooit blues of jazz of Maria Callas of enigiets wat naastenby van oordeelkundige smaak getuig nie. Net geraas. Nimmereindigende geraas. Elke naweek, die hele naweek lank. Vrydag, Saterdag, Sondag. Winter en somer. Reën en sonskyn.

Sy sal sit en eet en huil op die bank, besluit sy. Grondboontjiebotter en ’n dik laag botter op die roosterbrood. Sy trek die prop van ’n bottel chardonnay uit en skink ’n glas vol. Fok koffie. Sy het lus en drink uit die bottel uit. Maar sy weet ook dít sal ’n hensop wees wat sy haarself nie maklik sal vergewe nie. Ek het dus nog ’n gevoel vir selfpreservering. Ek is nog nie dood nie.

Dit doef-doef deur die mure. Daar is jillende en laggende, bierdrinkende, burpende, oorvrete boere in ’n tuin van vyf by ses meter groot, tien meter van haar deur af. Sy moet die deur toemaak, anders sal sy haarself nie kan hoor dink nie. Maar sy kan nie opkom nie. Dis asof haar bene jellie is. Sy sluk die hele glas wyn kopagteroor leeg, skink nog een. Die ongewaste-mond-smaak verdwyn.

Sy staan op, trek haar kamerjas reg, stap na haar deur toe en trek die glasdeur hard toe. Kyk, fokkers, mense leef hier.

“Neurotiese ou oujongnooi ...” sê iemand. Ke-ke-ke-ke lag iemand.

Sy voel iets in haar opstu soos naarheid. Sy haal diep asem, sit haar glas en halfgeëte roosterbrood op die koffietafel neer, stap na die binnehof buite haar kombuisdeur toe.

Sy kyk rond. Daar is ’n geroeste graaf en tuinvurk in een hoek. Sy kies die graaf. Die vurk mag haar verlei om te steek ook.

Sy maak seker sy het haar voordeursleutel in haar kamerjas se sak. As sy haarself moet uitsluit, is haar waardigheid ook geskend. Sy stap vasbeslote om na die bure se voordeur toe. Sy besef haar bralose borste skommel onooglik, dat haar grimering gesmeer is onder haar oë, haar hare ongekam, haar asem stink. Sy gee nie om nie.

Die bure se deur staan oop.

Sy stap in en staan eers en kyk na die petalje: ’n handjie vol jongmense, halfdronk, giggelend, want alles is snaakser as wanneer ’n mens nugter is; die mans buite by die Weber, die meisies binne. Waarskynlik ordentlike mense, uit tradisionele huise. Wat goedgemanierd is en ouer mense oom en tannie noem, dalk selfs nou en dan kerk toe gaan, wat werk saam met jong swart mense en goed oor die weg kom met hulle, wat die woord kaffer gebruik net as hulle dronk is en kwaad is oor misdaad of Julius Malema, wat rugby kyk, wat onbeholpe en vervelige seks het met hulle meisies en vroue wat hulle wil hê soos supermodelle moet lyk, wat elke naweek braaivleis hou, en altyd net hier, by háár bure, want hulle is nie avontuurlik genoeg om ’n ander plek te oorweeg nie, en selfs hulle braaivleise is op hulle jeugdige 28-jarige ouderdom al voorspelbaar: elke naweek dieselfde tyd, dieselfde plek. Jongmense wat nog nie eens besef hulle probeer verveling en die dood wegsuip en dat dit onmoontlik is nie, wat steeds oortuig is dat die lewe regverdig is en dat eensaamheid langer as ’n orgasme lank opgehef kan word, en dat hierdie patroon van elke naweek se vreet en drink op maat van aggressiewe musiek die weg na geluk is.

Sy besef sy kan nog omdraai en wegloop, want niemand het haar nog gesien nie. Sy besluit daarteen.

Toe sy die graaf lig om die eerste hou te slaan, is dit asof sy lig word, mooi word, jonk word.

Sy mik na die eetkamertafel waarop ’n klomp Clicks-bakke staan vol slaai en broodrolletjies; hulle wag nog net vir die vleis om gaar te word. Niks pap nie. Braaivleis light, dink sy.

Sy slaan lomp teen die tafel vas wat effens skuif. Die musiek is te hard vir enigiemand om dit te hoor of haar te hoor hyg na haar asem. Sy lig die graaf weer en slaan ’n bak slaai dat dit met ’n boog trek. Die bak val flenters op die teëlvloer.

“Ie-iek,” gil ’n vrou toe splinters en tamatie oor haar voete spat.

Jou jeans span maar lekker oor jou gat, poppie. Ek gee jou nog drie jaar en twee broekgroottes, dan vat hy vir hom iemand anders as jy nie pasop nie.

Dis nog net die meisies wat haar raaksien. Hulle is ’n verbysterde koor: stywe rekjeans, platformskoene, v-nek-bloesies en T-hemde wat die tiete ten beste ten toon stel, flashes in die hare, ’n rits silwer ringe aan die regterhand en hier en daar ’n trou- en verloofring aan ’n linkerhand. Almal sal inskryf vir Beeld se bruid-van-die-jaar-kompetisie.

Nog ’n behaaglike swaai van die graaf. Kolskoot. Die bak en die broodrolletjies hop oor die vloer soos prettige animasiemannetjies uit ’n Hollywood-kinderfliek.

“Aaa ... ooeee ...!” gil die meisies en spring rond.

Sy kyk op. Dis ’n iPod op ’n sytafeltjie waaruit die musiek basuin. Kán so ’n klein dingetjie soveel lawaai maak? Sy hou haar kop skeef en kyk na die toestelletjie. Dan draai sy die graaf horisontaal plat, lig dit bokant haar kop op en slaan met al haar krag daarop. Dit is dadelik stil.

“Olé!” roep sy en glimlag na die vroue toe. Hulle is steeds sprakeloos.

Die mans kom by die deur ingehardloop. Hulle gaan staan onseker stil, want sy hou die graaf soos ’n swaard voor haar.

“Hei! Wat de donner maak jy!” gil haar buurman.

Sy druk haar vry hand onder een van haar los borste in en druk dit uittartend in sy rigting.

“Ek gaan jou bliksem!” skree hy grootoog.

“Het jou ma jou nie maniere geleer nie?” gil sy.

Sy draai weer die graaf om vertikaal in haar hande te lê, vervat haar greep sodat sy ’n stewige houvas het. Sy gee een tree vorentoe, lig die graaf. Sy slaan die buurman met die plat kant van die graaf vol op sy neus.

Sy voel kraakbeen meegee. Wat ’n interessante sensasie, dink sy.

Sy laat sak die graaf.

Sy gesig is vol bloed en snot.

Die uitdrukking in sy oë is onpeilbaar. Eers lyk dit of hy gaan huil, dan word die oë dof. ’n Lang druppel spoeg val in stadige aksie oor sy onderlip grond toe. Hy maak sy mond oop en dan weer toe.

Die vroue skree nou almal en een huil. Die ander mans kom versigtig dreigend nader. Sy swaai die graaf in hulle rigting. Hulle tree amper almal gelyk agtertoe.

Sy draai weer na die buurman toe. Hy staan nog steeds slap arms en wieg. Sy besef dis skielik doodstil in die vertrek. Sy druk met die skerp kant van die graaf teen sy bors.

Hy tree agtertoe. “Jou ... ou ... mal … poes ...” sê hy en val om.

“Sies, man,” sê sy.

Sy draai om, tel ’n kersietamatie op wat op die eetkamertafel lê, druk dit in haar mond en stap dan kouend, graaf in die hand en uitasem, by die deur uit.