Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Michael le Cordeur: Die punt is

Hoe vier ons Jeugdag? Watter boodskap gee ons aan die jeug?


Michael le Cordeur - 2011-03-22

Ons het so pas Menseregtedag gevier en dis binnekort weer tyd om Jeugdag te vier. Maar die jeug het steeds geen basiese menseregte nie en Jeugdag is vandag een van die mees verdelende dae op ons kalender. Aan die een kant is daar die groep wat ’n groot byeenkoms bywoon terwyl die hoofspreker slagspreuke skreeu met ’n gebalde vuis in die lug. Aan die ander kant is daar diegene wat 16 Junie sien as net nog ’n dag weg van die werk en die boeke en as hoogtepunt ’n braai.

Toe die Afrikaanse Taalraad (ATR) die geleentheid gekry het om ’n gesprekreeks te hou tydens die pas afgelope (mag ek byvoeg, uiters suksesvolle) Woordfees, het ek dadelik die geleentheid gesien om ’n gesprek vir die jeug te reël. Immers word daar by hierdie fees hulde gebring aan die woord, veral die letterkundige en meestal volwasse woord. Om ’n platform te skep waar die jeug met mekaar kon praat oor sake wat hulle raak, was vir my ’n ooglopende keuse. So dikwels word die jeug en hul behoeftes as metafoor in toesprake gebruik oor waarom ons sus of so moet doen. “Dis in belang van ons toekoms, en die jeug is ons toekoms” is ’n anekdote wat ’n cliché geword het in ons toesprake. Te veel praat ons óór die jeug. Te min praat ons mét die jeug.

Die tema wat die ATR gekies het, was ’n omstrede een: 16 Junie, 35 jaar later,  maar, het ons geoordeel, ’n uiters relevante een, gegee die diverse samestelling van ons jeug en die kompleksiteit van ons nuutgevonde demokrasie waarbinne daar weinig ruimte gelaat word vir demokratiese denke (vgl Sampie Terreblanche se artikel “Sewe nuwe doodsondes”, By, 19/3/2011). Die versoek aan die jeug by hierdie beraad was eenvoudig. Ons soek ’n nuwe visie vir Jeugdag wat ons in staat sal stel om hierdie geskiedkundige dag op ’n inklusiewe manier te vier.

Oor die redes vir die 1976-opstande is daar al baie gesê en geskryf en baie lesers mag dalk voel dat hierdie hoofstuk begrawe moet word. Die ATR het egter geoordeel dat dit wel nodig is vir Albert Grundlingh van die Departement Geskiedenis aan die US om ’n historiese oorsig te gee van wat werklik daardie dag gebeur het. Dit is aangevul deur twee referate deur individue wat self by die 1976-opstande betrokke was. Cecyl Esau van Worcester, tans werksaam by die Instituut van Geregtigheid en Versoening, asook Zach Mokgoebo van die VGK-gemeente in Orlando, Soweto, het hul aangrypende lewensverhale met die jeug gedeel. Jongmense kon hul eie opinie vorm oor 1976. Want slegs as jy weet waar Jeugdag vandaan kom, kan jy nuwe inhoud daaraan gee.

Die bloedige opstande van 1976 en die daaropvolgende katarsis was bedoel om ’n nuwe stem en nuwe regte aan die jeug toe te ken. Maar anders as wat die demokratiese regering gehoop het, het sake inderwaarheid agteruitgegaan. Juis daarom was dit ontstellend dat so min skole en leerlingrade gereageer het op die uitnodiging om deel te neem aan hierdie geskiedkundige gesprek. Skole en universiteite is vandag, anders as in 1976, diverse en multikulturele instellings waar leerders uit die beste woonbuurte en uit die townships met mekaar móét praat – in Afrikaans, Engels en isiXhosa. Is dit dan ’n te groot opoffering om te vra dat kinders toegelaat word om die Jeugberaad by te woon?

Kyk jy rondom jou in Suid-Afrika, skreeu die onreg teenoor die jeug ten hemele: Ongeveer vier uit elke tien jongmense tussen 18 en 25 is werkloos met geen vooruitsig dat sake sal verbeter nie; jeugdiges ervaar steeds dieselfde struikelblokke as hulle aansoek doen om ’n beurs, universiteitstoelating of ’n betrekking. Baie jeugdiges is weens die MIV/Vigs-pandemie haweloos en daarop aangewese om vir hulself te sorg. Daar is tienduisende huishoudings op straat wat deur kinders bestuur word.

Volgens die 2011-jaarverslag van die Menseregtekommissie kom wydverspreide kindermishandeling steeds voor: in 2009/2010 was daar ’n 14,5 persent-toename in kindermoorde en ’n 42,3 persent-toename in pogings tot kindermoord; 36 persent van ons kinders het nie toegang tot vars water nie en 18 persent van alle kinders gaan saans honger slaap. Meer as nege miljoen kinders is afhanklik van ’n kindertoelaag wat meestal gebruik word om ander lede van die gesin te onderhou. 

Ten spyte van die mooi prentjie wat die onderwysowerhede skilder, het slegs 15,1 persent wiskunde met 40 persent of meer geslaag, en Suid-Afrika se kinders het uiters swak gevaar in internasinale geletterdheids- en syferkundigheidstoetse, wat selfs swak vergelyk met die armste lande in Afrika. Dit kan toegeskryf word aan die feit dat 78 persent van alle skole in Suid-Afrika nie oor ’n biblioteek beskik nie en 87 persent van alle leerders nie toegang tot ’n rekenaar het nie. Sprekers van inheemse tale in Suid-Afrika het nie voldoende toegang tot onderwys in die taal van hul keuse op enige vlak van onderwys nie.

Dink aan die pyn wat jeugdiges moet deurmaak as skoolhoofde op onmenswaardige wyse jeugdiges toelating tot ’n skool weier of hulle selfs hul skoolrapport weier as leerders vanweë die redes hier bo genoem nie skoolgelde kan betaal nie. Dis nie net ’n saak vir die Menseregtekommissie nie, dis ’n tydbom wat wag om te ontplof. Ons het die afgelope Menseregtedag gesien hoedat tienduisende leerders ’n protes-optog na die Wes-Kaapse parlement gehou het. Ons geheue is kort; en 1976 lankal vergete ...

Tydens die groepbesprekings, maar ook toe studenteleiers van die US, UWK, KSUT, UP, NWU en die Northlink Kollege hul referate en repliek gelewer het, het baie van hierdie kwessies opnuut na vore gekom. Dit was Poppie Nongena (vgl Die swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert, 1978) wat net na die opstande van 1976 gesê het: “Die kinders sal moet sien lat hulle regkom ... Want dis nou uit (ons) hande uit geneem ... dis nou (ons) kinders wat voortgaan” (276).

Die loodskomitee van ’n toekomstige jeugvleuel van die ATR is verteenwoordigend van daardie menings, maar het nou die enorme taak om (soos in 1976) hulself te organiseer en kwessies wat die jeug na aan die hart lê, op die agendas van die owerhede en politici te plaas. Die ATR verbind hom graag tot hierdie inisiatief en onderneem om sover moontlik die nodige steun hiervoor te gee.

Dit sal ons almal loon om opnuut na die stemme van die jeug te luister, en ek kan aan geen beter geleentheid dink as 16 Junie 2011 nie. Laat ons vroegtydig begin organiseer, sodat ons Jeugdag vanjaar op ’n inklusiewe wyse kan vier. Deur almal in te sluit, gee ons terselfdertyd geloofwaardigheid aan ’n baie spesiale dag.

Doen ons dit nie, kan ons gerus kyk na wat tans in Libië gebeur. Die punt is: Wil ons ’n herhaling van 1976 sien?

 

  • Michael le Cordeur is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch en was die gespreksleier van die Jeugberaad wat tydens die Woordfees by die US gehou is.