Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Egon se nuusbrief uit Israel

Weer tyd vir die Jerusalem Internasionale Boekefees


Egon - 2011-03-18

Elke tweede jaar is dit boekfeestyd – ek het al meermale in hierdie nuusbrief oor die fees geskryf en moet maar weer so maak. Lekker was tog nog nooit sleg nie.

Hierdie jaar het ek besluit: ek pak my koffertjie en gaan bly vir die hele week in pelle wat oorsee is se woonstel. Dit was heerlik. Ek het my vir vier dae tuisgemaak en al die baie verloklikhede van die Heilige Stad ontsê om my in boeke te verdiep. Elke dag het ek tussen drie en vyf seminare oor boeke en skrywe bygewoon en gewonder wat nou eintlik lekkerder kan wees. Al die Israeliese boekhandelaars was verteenwoordig en daar was eindelose rye boeke teen belaglike lae pryse te koop. Ek is trots om te kan vertel dat ek my nie vergryp het nie, maar versigtig en aandagtig gekoop het. Dit was vir my belangriker om van die geleentheid gebruik gemaak om te ondek wat in ander lande op literêre gebied gebeur.

My geliefkoosde plek was die Literary Café, waar Israeliese skrywers in gesprek met buitelandse skrywers getree het. So het ek David Eherlich van Jerusalem met Angelo Pezzana uit Torino hoor gesels oor die bedryf van ’n boekwinkel-kafee en die vreugdes en frustrasies van so ’n besigheid bestuur. Oor David se boekwinkel-kafee skryf ek later meer. Angelo het nie net die eerste so kafee in Italië geopen nie, maar ook die eerste organisasie vir gays en lesbiërs gestig, sowel as die eerste boekfees in sy tuisland tot stand gebring.

My liewe professor Michale Kramer het gesels met die Amerikaanse skrywer Robert Cohen. Robert doseer kreatiewe skrywe aan Middelbury College in Vermont en is outeur van drie romans, waarvan die jongste, Amateur Barbarians, verlede jaar verskyn het. Toe ek lees dat Michael met hom gaan praat. het ek geen idee gehad wie die man is nie. Ek was besig om in die koerant te sit en lees van wie almal by die fees sou wees en besluit om die naam te gaan google. Soos ek opstaan, vang my oog ’n boek op my eie boekrak, Inspired Sleep deur Robert Cohen – hoe dit daar gekom het weet nog Judy nog ek, maar daar staan dit op my rak. Ek lees dit dadelik en geniet dit baie: dis die ideale boek om op ’n stormagtige middag onder die komberse te lees. In hulle tweegesprek by die fees gesels hulle veral oor tegniese aspekte van skryf. Robert meen dat elke sin perfek gebou moet word, maar dat die leser nooit bewus mag wees van hoe hard die skrywer aan die konstruksie van die roman gewerk het.

Daar was ’n heerlike tweegesprek oor die Poolse digters Czeslaw Milosz en Abraham Sutzkever, een ’n Christen, een ’n Jood, en tog vriende uit Vilnius, hoofstad van Litaue en eens beskend as “die Jerusalem van die Noorde”. Beide sprekers het die twee digters geken en die stories wat vertel is, het die gehoor gefassineer. Die werk van Milosz het ek al bietjie gelees, maar Sutzkever was vir my nuut – maar nie vir lank nie – na die gesprek het ek geweet wat my boekrak kort.

Tussen al die literêre gepraat is dit ook heerlik om ou bekendes raak te loop, voor lang rakke deur allerhande boeke te blaai en hier ’n stukkie, daar ’n versie te lees – boeke wat nooit op my boekrak sal slaap nie, maar tog wêrelde open. En dan die mense: ’n soldaat met sy geweer oor sy skouer blaai deur Engelse tydskrifte wat nie normaalweg hier beskikbaar is nie; ’n ou oom sit in ’n groot gemakstoel en rus sy voete terwyl hy deur ’n nuwe roman blaai; ’n klein dogtertjie is verlore in die wêreld van ’n kinderboek met helder illustrasies ... en die tou voor die verkooptoonbank word nie korter nie.

Ek besluit ek kon vir ’n jaar lank van een boekfees na die volgende reis net om die boeke en die mense te kyk, maar dan onthou ek wat die skrywer Alex Epstein in gesprek met Jenny Erpenbeck uit Berlyn gesê het: “Home is a place where writing can take place.” Dalk wil ek nie so lank van my huisie by die see weg wees nie!

Daar was vir my twee hoogtepunte tydens die fees. Die eerste was Marina Nemat uit Iran wat van haar ervarings in die berugte Evin-gevangenis in Teheran vertel het. Sy vertel van martelling en verkragting, van skynverhore en wetteloosheid op ’n vlak wat moeilik is om jou voor te stel. En tog, sy vertel dit sonder bitterheid of wraaksugtigheid. Haar boek Prisoner in Teheran (uitgegee deur John Murray, Groot-Brittanje 2008) is pragtig geskryf en ’n moet vir elkeen wat in die Midde-Ooste en/of vroueregte belangstel. Ek het selde in my lewe ’n vrou so vreesloos oor sulke pynlike en vernederende ervaringe hoor praat – dit was ’n voorreg.

Natuurlik ook indrukwekkend was die Israeliese skrywer Meir Shalev se gesprek met Ian McEwan, die Britse skrywer wat vanjaar se ontvanger van die Jerusalem-prys was. Shalev is nie net ’n wonderlike skrywer nie, maar het die vermoë om ander skrywers met helderheid oor hulle eie werk te laat praat. ’n Paar jaar gelede het ek hom in gesprek met die Italiaanse skrywer Erri de Luca gehoor en dit was hoogs amusant en tog diep ernstig. McEwan het in sy toespraak ná hy die Jerusalem-prys ontvang het, skerp teen Israel te velde getrek en die gehoor was die aand krities wagtende op wat tussen die twee skrywers sou plaasvind. Met ’n klein glimlaggie het Shalev vir McEwan gevra: “Gegee dat u nou klaar redelik oor politiek die ander aand gesels het, mag ons maar vanaand onsself tot die kuns van skrywe bepaal?” McEwan het so bietjie rondgekyk, in sy stoel teruggesak en gesê: “Dit sal lekker wees!” Vir die volgende uur het hulle oor skrywe, boeke, publiseer gesels. Oor Israel het McEwan wel gesê: “All conversations here are so intense - Israel fatally lacks small talk” – dit gebéúr gewoon nie. Oor Jerusalem het hy ’n ou Jiddisje skrywer aangehaal: “The ghosts of this city determine its future – the dead who have described it, recreated it and then gave it back to us.”

Dis so waar – mens kan nooit vir een oomblik die stad van sy geskiedenis losmaak nie. Selfs in die moderne Internasionale Kongressentrum van Jerusalem waar die boekfees gehou is, kan jy nie eers in die kelderverdieping van die gebou toilet toe gaan sonder om by argeologiese uitgrawings, pragtig agter glas beskerm, verby te moet loop nie. Ek is mal daaroor – dit herinner my altyd weer waarom ek so lief vir hierdie stad, hierdie land is. Die nuwe en die oue, die antieke leef in harmonie – soms in ’n ongemaklike harmonie, maar tog altyd in gesprek met mekaar.