Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans > Ongepubliseerde digters

vir klaasman


Hilda Smits - 2011-03-18

vir klaasman

geliefde broer, die seisoene verander hier tydsaam soos ’n ou dame
met rumatiek wat soggens pynlik stadig haar trui toeknoop haar
misvormde vingers soek en vat soek en vat sy stap saam met my
op die grondpad stasie toe gebukkend onder die koue wat vat en
los vat en los skuifelend stap ons geliefde broer – daar is ’n kroeg
in soho jou vingerafdruk blink op ’n pint staropramen die reuk van
jou tabak talm in die lug terwyl ek drentel my gedagtes vat en los
vat en los die grate van ons midnag- gesprekke lê die huis vol broer
in jou kamer sit ek soms toe-oog en dink en die lente bloei soos ’n
diep sny in greenwich-park ons kamera-oog is ’n kamer vir twee mense
broer ek raam die lente daar vir jou terwyl die lewe vat en los vat en los