Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Brief aan my broer, Wilhelm: Oor die versamelbundel


Deon Knobel - 2011-03-17

22 Februarie 2011

Liewe Wilhelm

Ek gaan nie eers probeer onthou wanneer laas ek aan jou geskryf het nie. Maande der maande gelede, in elk geval.

Dalk moet ek jou vertel wat die rede is en dan kan jy self oordeel of ek skuldig is of nie.

Die 75e herdenking van jou geboortedag het op 26 Oktober verlede jaar, 2010, plaasgevind. En in my agterkop was reeds vir jare die gedagte om dit te herdenk deur ’n versamelbundel van jou totale oeuvre te laat saamstel.

Hierdie behoefte het sterker gegroei en ek het begin navraag doen wie as letterkundige/digter sou belangstel en beskikbaar sou wees om die taak aan te pak.

Die eerste persoon aan wie ek kon dink, was prof Louise Smit van die Departement Afrikaans aan jou alma mater, die Universiteit Stellenbosch. Weens ernstige gesondheidsprobleme was dit vir haar nie moontlik nie. En John Kannemeyer was so diep aan die skryf aan JM Coetzee se biografie dat hy ook nie beskikbaar was nie.

Ek was egter bewus daarvan dat die jonger bekroonde digter Johann de Lange sy en Lina Spies se versamelbundels met groot sukses gehanteer het, en sowel Louise Viljoen as John het hom sterk aanbeveel.

Op 24 Julie skryf ek die volgende elektroniese brief aan hom, en dit sou die eerste wees van ’n menigte tydens die volgende ses maande en drie dae kort van sewe. Ek spot dat dit so lank was as wat ons mamma swanger was voordat ons premature sussie, vir jou Tittie en vir my Thereschen, gebore is. (Ek moet onthou om jou ’n volgende keer nuus te vertel van professore André Beyers en Louwna Keet. Dis mos prof André wat met sy professionele vernuf bygedra het tot die oorlewing van die klein bondeltjie prematuriteit.)

Hier volg die brief aan Johann, opgestel op 24 Julie 2010, maar, soos jy sal lees, nie dadelik aangestuur nie.

---

Beste Johann

Ek skryf vandag vir jou oor ’n saak wat my baie na aan die hart lê en waarmee jy dalk sal kan help.

Wilhelm sou op 26 Oktober vanjaar 75 jaar oud geword het, en ter viering daarvan wil ek baie graag ’n versamelbundel van sy gedigte uitgee. Aangesien die tyd baie kort is, sal ek dit self publiseer, soos ek reeds twee vorige uitgawes uitgegee het vir sy 70e verjaardag.

Ek het ’n uitstekende projekbestuurder en redigeerder wat sorg dat die publikasies uitmuntend en absoluut professioneel versorg word. Geen uitgewer sal op hierdie laat stadium instem om die boek uit te gee nie. Om die waarheid te sê, het ek ’n tyd gelede vir Marga Collings van H&R genader en die antwoord was kort en bondig: “Die ekonomie!”

Johann, jy het so ’n uitstekende stuk werk gelewer met Lina Spies se bundel, en sowel Louise Viljoen as John Kannemeyer het jou aanbeveel as die ideale persoon om dieselfde te doen met Wilhelm se werk.

Ook Lina Spies het die hoogste lof vir jou werk met haar bundel.

Ek het reeds Phil du Plessis gevra om sy keuse af te merk, omdat hulle sulke goeie vriende was – slegs as riglyne vir my, maar iets waarna jy ook dalk sal wil kyk.

Dit blyk voor die hand liggend te wees dat sy twee H&R-bundels, Bloedsteen (1966) en Mure van mos (1970), wat nog deur Opperman gekeur is, volledig opgeneem kan word met een verskil: dat die volledige Bloedsteen-siklus,en nie net dele daarvan nie, opgeneem word.

Die bundel Nagelate gedigte (Perskor 1976) het geweldige kritiek uitgelok as “veels te lywig” en is nie geselekteer nie.

In die voorwoord daartoe het ek egter die doel van die bundel baie duidelik uitgespel: enersyds dat ’n digter sy ervaring van ’n aftakelende siekte in aangrypende verse beskryf, wat ek as ’n unieke geleentheid in Afrikaans beskou, en andersyds om aan te toon hoe hierdie siekte ook sy digtersvermoë afgetakel het; vandaar die laaste “Hy is toegekomkommer …”kort voor sy dood.

Tog het Komrij die maksimum getal gedigte van tien per digter van Wilhelm opgeneem, waarvan sewe uit Nagelate gedigte gekom het. Komrij het ook in die Nederlandse koerant NC Handelsblad se agterbladrubriek, Trouw moet blijken, ’n oorsigsoordeel oor sy werk as digter gegee en twee van sy gedigte fyn ontleed: “Broers” (Nagelate gedigte) & “Miskien is dit tog moontlik” (Mure van mos). Dan is daar natuurlik ook sy gedigte en vertalings wat deur die jare in die Tydskrif vir Letterkunde, Contrast, Wurm, Ophir, Sestiger en ander verskyn het.

Ek het afskrifte van al die resensies van sy werk deur die jare, insluitende dié wat na my eie publikasie, Twee siklusse, verskyn het, vir sy 70e verjaardag.

Wilhelm se gedigte oor die liefde en die waansin en die elegiese gedigte is vir my van die mooiste, en daarmee saam sy gedigte oor die noordoos-Vrystaat en jeugherinneringe.  

Ek het ook die keuringslyste vir Nagelate gedigte ontdek, waar Bartho Smit en John Kannemeyer se keuses vergelyk kan word. Kannemeyer het ook in ’n onlangse e-brief aan my die opinie uitgespreek dat so ’n versamelbundel die aandag opnuut op Wilhelm se werk sal vestig en dat hy Wihelm Knobel nou beskou as “die Heroutvan Sestig,nog voor Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker met hulle vrye vers gekom het”.

Interessant is ook ’n dokument wat opgestel is deur Casper Schmidt, waarin hy sy mening gegee het oor die gedigte wat Wilhelm vir Mure van mos wou voorlê. Baie opvallend hoe keuses en oordeel van keurder tot keurder verskil. (Ek heg dit ook vir jou aan.)

Dan is daar behalwe vir bogenoemde drie bundels ook heelwat nagelate en ongepubliseerde gedigte wat ek later opgespoor het. Iets wat jou sal interesseer, is die homo-erotiese verse, baie daarvan erg verskuil, maar ek weet aan wie en oor wie sulke gedigte geskryf is. In haar waarde-artikel oor Wilhelm se werk wat ek in 2005 van Louise Viljoen gekry het, maak sy hiervan melding as dalk die voorlopers van die latere homo-erotiese verse van jou en Hennie Aucamp.

Ook interessant is die politieke satires, nooit tydens sy lewe gepubliseer nie, en volgens Jeanne Goosen, nog ’n groot vriendin van Wilhelm, was dit uit vrees wat die Pretoria se Groep van Sestig vir die veiligheidspolisie gehad het. Joan Lötter het egter hierdie opinie van Jeanne weerspreek.

Daar is ook die vertalings van sewe Jules Supervielle-gedigte uit die Frans wat ná Wilhelm se dood deur Elize Botha as huldiging geplaas is in die Tydskrif vir Letterkunde, Februarie 1974, waarvan ek kopieë het.

Daar is ook enkele Engelse gedigte van Wilhelm, waarvan twee in Bloedsteen verskyn het, en ’n aantal gedigte oorspronklik in Frans of vertaal in Frans.

Charl JF Cilliers het in die sestigs heelwat van Wilhelm se gedigte in Engels vertaal, terwyl ek sedert 2006 onder toesig van en met die medewerking van Joan Lötter (oorlede in Mei 2009 – Sestigervriendin van Wilhelm uit Pretoria en op haar dag self digter en uitgewer) ook heelwat vertaal het vir my publikasie Wilhelm Knobel die ongewapende man; van kindertyd tot sterwenstyd.

Ná hierdie hele relaas wil ek graag vra of jy bereid sou wees om die taak aan te pak, wat dit my sal kos, en of jy kans sien om dit binne vier tot vyf weke klaar te maak.

Johann, ek het eksemplare van al drie die bundels waaruit gewerk kan word.

Ek het egter ook al drie die bundels sowel as al die ongepubliseerde gedigte uitgedruk en in ’n lêer geplaas waarop vryelik notas gemaak kan word om dit makliker te maak vir die uitsorteer en seleksie.

Sal jy oorweging skenk aan my versoek? Dan kan ons daaroor gesels wanneer jy ’n antwoord het. 

Met vriendelike groete

Deon Knobel

---

(Soos jy later sal lees, is die brief toe uiteindelik eers op 25 Julie aan Johann gestuur.)

Wel, Wilhelm, ek hoop jy is tevrede met my opsomming van jou nalatenskap. In reaksie op hierdie brief van my het Johann die uitdaging aanvaar.

---

----- Original Message -----
From: Johann de Lange
To: 'deon knobel'
Sent: Sunday, July 25, 2010 10:27 AM
Subject: RE: Wilhelm

Beste Deon

Baie dankie vir die aangehegte stukke; ek sal hulle beslis deurgaan.

Ek het nou deur ons e-mail-korrespondensie gegaan (ek hou mos kompulsief álles) & kan nie vasstel watter versoek van jou jy na verwys nie. Is dit dalk iets wat jy in ’n telefoniese gesprek aangeroer het? Ek kan my glad nie so iets herinner nie, maar my geheue is nie van die beste nie.

En nou moet ek gaan slaap, want ek is nog steeds wakker van laasnag af!

Johann

From: deon knobel
Sent: 25 July 2010 10:14 AM
To: johann de lange
Subject: Wilhelm

Beste Johann

Terwyl jy nou dalk besig is om my versoek te oorweeg, stuur ek vir jou die waarde-oordeel-artikels deur Louise Viljoen en Petra Müller soos in 2005 van hulle ontvang.

Ek het ook afskrifte van al die resensies wat deur die jare van Wilhelm se werk verskyn het, asook die huldeblyke ná sy dood, indien jy dit dalk een of ander tyd wil bestudeer. Die André P-huldeblyk heg ek sommer nou ook aan.

Groete op hierdie pragtige sonskyndag.

Deon

----- Original Message -----
From: deon knobel
To: Johann de Lange
Sent: Sunday, July 25, 2010 11:45 AM
Subject: Re: Wilhelm

Nee Johann, dis nie jou geheue nie; dis my oumansbrein wat al weer vergeet het om die vernaamste dokument aan te heg en aan jou te stuur. Hier kom dit nou.

Waar’t jy laasnag gepaartie, of het jy kompulsief gewerk aan iets belangriks?

Vriendelike groete

Deon

---

En letterlik dosyne der dosyne briewe het oor die volgende byna sewe maande in die kuberruimte heen en weer tussen ons twee en later ook Jo-Anne Friedlander, die DTP (ja, jy vra: dit staan vir Desktop Publisher),geflits. En vir ekstra opinies en “gevoelenthede” as ek oor ’n klein besonderheid twyfel, het ek ook drie formidabele vroue geraadpleeg – waarvan jy twee goed geken het: Agnes van Schoor en Ellen Botha, en Doreen Zwiegers, ’n derde, meer onlangse vriendin van my wat deur jou gedigte en lewensverhaal oorrompel is.

Nadat Johann vir ’n paar weke met jou werk besig was, kry ek onverwags en uit die bloute twee boodskappe van hom, in moderne taal as SMS-boodskappe bekend, wat van selfoon tot selfoon gestuur word en feitlik oombliklik geskied. (Sorry man, nie nou tyd om SMS en selfoon te verduidelik nie! Dalk later.)

Ek heg nou vir jou die twee boodskappe verbatim aan.

Die twee SMS-boodskappe wat hy “onverwags” aangestuur het, sal jou die diep betrokkenheid wat Johann in jou werk ontwikkel het, laat ervaar.

----- Original Message -----
From: Johann de Lange
To: 'deon knobel'
Sent: Sunday, July 25, 2010 10:27 AM
Subject: RE: Wilhelm

11 September 2010, 01:22

Deon, ek dink die kritiek het
Wilhelm hopeloos verkeerd
ingeskat (hoe dan anders van ’n
dissipline wat so gebonde is aan
tyd & mode?)

Wilhelm het ’n feillose oor gehad
vir melodie, vir die musiek van
woorde.

Ek is baie bly dat ek deur hierdie
projek (& voor my tyd ook om is)
die kans kry om hom te herontdek.
Lekker naweek. J

Hierop stuur ek aan Johann my antwoord:

Johann, jy bevestig nou eintlik wat Uys Krige in ’n brief ná Wilhelm se dood aan my en my moeder geskryf het: “Beste mevrou Knobel en Deon. Twee dae voor ek van sy dood gehoor het, het ek skielik aan Wilhelm begin dink. Ek het sy bundel Mure van mos by die Hermanus-biblioteek gaan uitneem en met toenemende verwondering gelees. Die ‘Elegie vir M Cuenod’ is seker een van die mooiste treurliedere in ons taal en die ‘Brief’ van u is met soveel deernis geskryf. Toe sê ek: ‘Eulalia, het die kritici en opstellers van bloemlesings hom dan nou vergeet?’ Maar dit sal nog kom.”

Hierop volg weer ’n SMS van Johann wat insiggewend en roerend is:

30 September, 21:08

Hy had ’n elegante, lenige intellek, & hy het dinge baie dieper gevoel as ons meer siniese generasie. En hy was nie bang om te voel nie, hoe gevaarlik dit ook vir hom was, want hy het verstaan dat dit die bron is wat sy gedigte voed. J

Wilhelm, só sou ek kon aangaan met brief na brief soos ons jou nalatenskap stuk vir stuk ontrafel het. Soms was daar twyfel oor die oorsprong van gedigte en of dit wel joune is wat in die lêers gevind is.

Dan kon ek na jou oorspronklike manuskripte gaan soek, sommiges handgeskrewe op velle papier en dikwels in klein notaboekies uit die laat 1950’s.

Met die naderende voltooiing van die seleksie het Jo-Anne, wat as professionele desktop publisher onder die naam User Friendly werk,begin met die uitleg van die tekste en is manuskrip na manuskrip aangestuur vir proeflees en vergelyking van die gedigte met die oorspronklikes – baie nog in jou handskrif, soos spinnekopspoortjies oor die blad, volgens Breyten.

Ten opsigte van die gebruik van kleinletters vir “here”, byvoorbeeld in die gedig opgedra aan Herman en Estie ná klein Estietjie se dood, verduidelik jy later in ’n brief aan hulle dat jy die eenvoud van die kind en haar dood daardeur wou skilder.

En dan kom dit weer een maal voor in ’n latere gedig van die slangvanger, “Hy het jou in die hakskeen gebyt”. En weereens moes ek na jou oorspronklike kopie gaan om die spelling met kleinletter – “here” – te bevestig.

Wel, Wilhelm, só het dit vir die byna volle sewe maande gegaan, en soms was humeure en geduld tussen my en Johann byna op breekpunt. Dit het veral gegaan oor die weglating van onder andere vier gedigte deur Johann wat ek om geskiedkundige redes en om volledigheidshalwe ingesluit wou hê. Wel, as die dreigement kom dat die versamelaar se naam van die bundel sal verdwyn, het ek my daarmee vereenselwig. Maar saam met ’n hele bondel ongepubliseerde gedigte wat ek weer in baie ou notaboeke en lêers ontdek het, lê daar dalk in die toekoms nog ’n opwindende reis voor.
Ek gaan nie nou in verdere detail oor die verloop – van bevrugting tot die kraamproses – van die versamelbundel nie. En die geboorteproses van druk en bind van die bundel moet nog afgehandel word. Net dit: Die finale manuskrip is gisteroggend, Maandag 21 Februarie, afgestuur na die drukker. Ons wag in spanning en ek kon vir die eerste keer in sewe maande ontspan en net lui wees. Veral die stad platry met my ou Honda Scooter wat ek nog van Roy gekoop het. Almal se “bekke klap oop en toe”, soos ons liewe tante Lotta sou sê as iets haar werklik verbaas, wanneer ek vertel dat die ponieperdjie reeds oor die 30 jaar oud is.

Nou sluit ek af, maar net om my te herinner aan dinge wat ek later weer met jou wil bespreek – enkele aides memoires:

“Bak met visse”; “bergklimmer”; ’n groep gedigte in Engels opgedra aan “JP” (ek het enkele jare gelede sy identiteit vasgestel); die waarde van bewaarde handgeskrewe en/of getikte manuskripte in teenstelling met moderne skryfmetodes op die rekenaar; ooglopende foute in twee van jou gedigte – die datum van jou geboorte in “Ons gaan vanaand nie praat oor ...” en die verkeerde aftelsom in jou psigiater se kantoor by Stikland, om vas te stel of jou geestestoestand normaal was of nie, in “vir Filippa”, ’n gedig ongelukkig deur Johann afgekeur; “Eine Kleine Nachtmusik – 6 gedigte vir Ineke”, waar ons nie seker was watter verse in dié groep hoort nie; die voorblad, wat deur verskeie pogings en stadia moes gaan voordat op die ideale ontwerp besluit is; die identiteit van die skilder van die skildery le dialogue, wat ek ná jou dood in jou kunslêer ontdek het; die toetrede van ’n afgetrede professor in Engels aan die Universiteit van die Vrystaat, Tony Ullyat, deur middel van ’n verrassende en onverwagte elektroniese brief en hoe hy met nugterheid en gesonde oordeel vir my van groot hulp was; die seleksie en opname van ’n keur uit jou gedigte vir die Vers en Klank-program oor Radio Sonder Grense (RSG), uitgesaai op jou geboortedag, 26 Oktober, wat toevallig op ’n Dinsdag geval het; en dan in die idiom van Shakespeare – to motto or not to motto; om te vertaal of nie!

Nou ja, dít oortuig jou seker dat my korrespondensie met jou nog lank nie oor is nie.

Ek groet en moet jou dalk bedank dat jy en jou gedigte hierdie opwindende ervaring en uitdagende reis van “boek maak” vir my moontlik gemaak het.

Liefde

Deon – as jy nie omgee nie – van Bel Monte Uitgewers





<< Terug na Vintage@LitNet <<