Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > LitNet Akademies > LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

’n Kritiese evaluering van godsdienstige verwysings in berigte oor misdaad en ongelukke in Beeld en Rapport


Johannes Froneman - 2011-03-17

Opsomming

Godsdienstige verwysings in berigte oor misdaad en ongelukke in die dagblad Beeld en die Sondagkoerant Rapport kom hier aan die orde, omdat sodanige verwysings soms prominent in opskrifte en beriggewing voorkom en dus (waarskynlik onbedoeld) ’n sekere blikpunt bied op gewone (veral Afrikaanse) mense se geloofsreaksies op die traumas wat met misdaad en ongelukke gepaard gaan. Hoewel sowel die aard van die negatiewe insidente as die dinamika van die joernalistieke proses hierdie godsdienstige inhoud kleur, speel hierdie faktore juis ’n rol in die vorming van openbare geloofsuitsprake. Dit bied ’n toegangspunt tot die ontleding en kritiese beoordeling van openbare spiritualiteit. Terselfdertyd gee dit insig in hoe die betrokke koerante godsdienstige verwysings hanteer, hoewel dit nie die hooffokus van hierdie artikel is nie. Die aard van die godsdienstige verwysings in die berigte is gekies volgens die metode van doelgerigte steekproeftrekking (“purposive sampling”/“judgemental sampling”). Dit word kwalitatief ontleed deur te let op die prominensie, omvang en gebruik van godsdienstige verwysings in die teks, aanhalings en opskrifte. Daardeur word vasgestel hoe die redaksies van hierdie koerante die verwysings “geraam” het. In die besonder word die misdaad- en ongelukbetrokkenes se gerapporteerde reaksies kortliks beskryf en ontleed. Vier hoofkategorieë verwysings kan onderskei word: verwysings na God as bewaarder; verwysings na slagoffers se geloof; verwysings na die hemel; en verwysings na ander geloofsreaksies op misdaad en ongelukke. Kritiese evaluering word deur hierdie studie op drie vlakke moontlik gemaak: die inhoud van die misdaad- en ongelukbetrokkenes se godsdienstige verwysings, soos gerapporteer; die “raming” daarvan in die beriggewing; en die rol van die pers binne die openbare godsdiensgesprek.

Trefwoorde: godsdiens in die pers, geloof en trauma, kritiese openbare spiritualiteit

Abstract

A critical evaluation of religious references in crime and accident reporting in Beeld and Rapport.

In this article religious references in articles on crime and disasters in the Afrikaans daily newspaper Beeld and the Afrikaans Sunday paper Rapport are investigated, because at times such references occur prominently in the headings and the articles and thus provide a (probably unintentional) view on (mostly Afrikaans) faith reactions to such traumatic incidents. Even though the nature of these negative incidents and the dynamics of the journalistic process colour the religious content conveyed, it is precisely such factors involved in giving form to public expressions of faith which provide entry points for analysis and critical evaluation of public spirituality. At the same time they provide some insight into the treatment of religious references by these newspapers, although this is not the main focus of this article. The nature of the religious references in the articles, chosen by “purposive sampling” or “judgemental sampling”, is analysed qualitatively, namely by noting the prominence, scope and use of religious references in the text, quotations and headings. In this way it is possible to determine how editorial processes “frame” such references. The reported reactions of the victims of crime or disasters are also analysed. Four main categories of such references are indicated: references to God as protector; references to the faith of the victims; references to heaven; and reference to other faith reactions to crime and disaster. Critical evaluation on three levels is thus enabled by this study: the contents of the religious references by the victims of crime or disaster; the “framing” afforded this by the reporting; and the role of the press within public religious discourse.

Key words: religion in the press, faith and trauma, critical public spirituality

1. Inleiding

Die hoë voorkoms van misdaad is saam met werkloosheid vir Suid-Afrikaners een van die mees knellende kwessies wat aandag verdien. Beriggewing oor misdaad, met name geweldsmisdaad, staan daarom hoog op die agenda van die meeste Suid-Afrikaanse dagblaaie en gemeenskapskoerante (Snyman 2007:103–18; Du Plessis 2003:169–86). Dit raak immers byna almal op die een of ander tyd.

In ’n ongepubliseerde studie oor misdaadberiggewing in enkele Suid-Afrikaanse koerante is gevind dat die dagblaaie Daily Sun, Sowetan, The Star en Beeld oor ’n tydperk van tien weeksdae in 2007 en 2008 onderskeidelik 92, 109, 175 en 134 misdaadberigte geplaas het (Froneman en Swanepoel 2008). Dit bevestig die onjuistheid van die beskuldiging wat soms teenoor spesifiek Afrikaanse nuusmedia gemaak word dat dit ’n buitengewoon hoë klem op misdaadkwessies plaas: Beeld is naamlik geen uitsondering as dit by die frekwensie van misdaadberiggewing in dagblaaie kom nie. Snyman (2007:103–18) se studie in dié verband klop ook met hierdie gevolgtrekking.

In hierdie artikel word egter nouer gefokus: godsdienstige verwysings in misdaadberigte, naamlik in Beeld asook in die Sondagkoerant Rapport, word aan die orde gestel, juis omdat sulke verwysings soms prominent in die koerantopskrifte en die teks van berigte voorkom, en omdat dit sodoende, waarskynlik onbedoeld, ’n blik bied op gewone mense se diepste godsdienstige oortuigings. Die gebrek aan godsdienstige verwysings in opskrifte (wanneer daar wel goeie rede daartoe was) vertel ook ’n eie verhaal van seleksie en raming waardeur die betrokke koerante ’n bepaalde agenda stel én misdaadslagoffers se ervaring van hierdie traumas op ’n bepaalde wyse aanbied (of juis nie).

Godsdienstige verwysings soos in die koerantopskrifte en beriggewing weerspieël, gee natuurlik nóg direkte, nóg gedetailleerde toegang tot mense se geloofsbelewenisse.2 Te veel filters, oftewel “geraas” in die kommunikasieproses (Tubbs en Moss 1991:11–2), verhoed sodanige toegang (wat byvoorbeeld deur reekse diepte-onderhoude met ’n teikengroep oor hulle geloofslewe verkry kan word; vgl. bv. Van de Vyfer 2009, opgesom in Van de Vyfer 2011). In die geval van hierdie studie sluit dit in dat nie in alle gevalle waar misdaadslagoffers deur middel van godsdienstige uitlatings hulle ervaring verwoord, sulke uitlatings in die koerant weerspieël word nie. Waar dit wel gedoen word, bly die weerspieëling onderhewig aan die gewone joernalistieke proses (Lombaard 2002:13–60; Snyman 2007:103–18), naamlik die vertolking deur die joernalis (aan die hand van eie insigte oor nuuswaardigheid3 en koerantbeleid4), die hekwagterrol van die nuusredakteur,5 asook subwerk (taalredigering, skryf van opskrifte) aan die teks, en dan die plasing van die berig op ’n bepaalde bladsy.

Die tipe godsdienstige verwysings wat ons in misdaadberigte vind, is dus reeds deur verskeie interpretasielae heen gedistilleer. Dit is egter in hierdie studie juis die interpretasielae wat om ontleding vra: as die interpretasies geïnterpreteer word, bied dit in so ’n hermeneutiese besinningsproses6 insig in die tekstuur van wat genoem kan word openbare of publieke spiritualiteit: hoe geloof binne die breër samelewingskring tot verwoording kom – om dan in opskrifte saamgevat te word deur subredakteurs, of met opset uitgelaat te word.

2. Teoretiese vertrekpunte

’n Aantal basiese vertrekpunte rakende die media en godsdienstige verwysings word hier gebruik ten einde die koerante se gebruik van die verwysings te probeer verklaar. Die belangrikste van hierdie vertrekpunte sluit in dat die media ’n bepaalde invloed op sy gebruikers het, hoewel hierdie invloed beperk is, en meestal nie so direk is as wat dikwels aangeneem word nie (Fourie 2007a:228–68). So kan die media nie summier ’n gebruiker se fundamentele oortuigings verander nie, maar oor tyd heen kan ’n bepaalde invloed wel verwag word. Toegepas op godsdienstige oorreding beteken dit: lesers se godsdienstige sieninge kan nie maklik deur die media verander word nie, maar hoogstens oor tyd heen gaandeweg en breedweg gerig word, veral as die leser nie diepgeankerde standpunte huldig nie. Anders gestel: indien ’n leser besonder sterk geloofstandpunte nahou, gaan die media dit nie sonder meer verander nie – veral nie op kort termyn nie, en sekerlik nie in isolasie van allerlei ander invloede nie.

Die media sê met ander woorde meestal nie wat en hoe mense moet glo nie; dit stel wel breedweg ’n openbare agenda daar waaroor gedink en gepraat word. Veral invloedryk is die media egter in hóé dan daaroor gedink en gepraat word (vgl. ook Du Plessis 2003:169–86). Andersyds kan die media die agenda bepaal deur juis nie oor bepaalde sake te skryf nie. Hoewel die effek van die media op die mediagebruiker geen maklike saak is om die vinger op te lê nie, is daar genoeg aanduiding dat beïnvloeding in die rigting soos hier bo aangedui, wel plaasvind. Daarom is godsdienstige verwysings in die media (of die gebrek daaraan) nie van bloot terloopse belang nie. Dit kan ’n invloed op lesers hê, veral as daar gereelde blootstelling aan bepaalde sieninge is, en sodoende kan dit die samelewing se persepsie van wat as godsdienstig belangrik geag word, in sekere rigtings stuur.
 
Soos reeds geïmpliseer, het lesers van ’n koerant ook ’n invloed op wat gepubliseer word. Agendastelling vind nie eensydig deur die media plaas nie, maar die media neem ook kennis van wat lesers, kykers en luisteraars wil hê én wat hulle nié wil lees, sien of hoor nie. In die geval van byvoorbeeld Beeld lê dit voor die hand dat die redakteur en senior redaksie ’n oog hou op wat die koerant se (gereelde en potensiële) lesers as nuuswaardig beskou, en dus bereid sou wees om daagliks voor te betaal. Daarom juis word sirkulasiesyfers en lesersreaksie deur onder meer briewe aan die redakteur deurlopend gemonitor. Sou die agenda, taalgebruik, foto’s, toon en algemene trant van ’n koerant lesers afstoot, sal die sirkulasiesyfers daal – behalwe as nuwe lesers gevind word by wie die veranderende koerant wel aanklank vind.

Daarmee word beklemtoon dat koerante nuus- en inhoudsbesluite nie noodwendig neem op grond van fundamentele lewensbeskoulike oorwegings van die redakteur of ander direk-betrokkenes nie, maar ’n nuusseleksie onderneem ook op grond van wat sirkulasie- en winssyfers sal dien (Bardoel en Van Cuilenburg 2008:156–93; Froneman 2002:64; Golding en Murdock 1996:23). Dat so ’n sake-oriëntering self ook ’n onderliggende lewensbeskouing verteenwoordig, spreek vanself (vgl. bv. Curran 1996:89–92).

Wanneer ’n koerant heelwat aandag aan kerk- of geloofsake gee, soos wat dit in die Afrikaanse nuusmedia in die besonder die geval is, dui dit nie noodwendig op ’n pro-geloofsbenadering nie; nuus kan steeds gewoon as kommoditeit hanteer word, wat beteken dat verwysings na geloof op dieselfde vlak van nuuswaardigheidsbeoordeling kan staan as verwysings na seks of rugby. As ’n koerant se lesers oorwegend (of net beduidend) godsdienstig ingestel is, kan selfs op blote marknavorsingsbasis aanvaar word dat die redaksie wel deeglik daarvan kennis sal neem, soos wat Tim du Plessis, redakteur van Beeld, geredelik toegee (vgl. The Media, Maart 2010:7). Snyman (2007:115) se opmerking met betrekking tot misdaadberiggewing is hier ook besonder relevant:

Die wyse waarop die verskillende koerante oor misdaad berig, word hoofsaaklik bepaal deur die profiel van hulle teikenlesers […]. Die koerante kan egter nie anders nie, omdat ’n koerant se lewensvatbaarheid en dus sy ekonomiese oorlewing afhang van die wyse waarop die behoeftes van sy teikengehore bevredig word. Die wyse waarop die koerante berig oor misdaad, word dus bepaal deur die werklikheid van die Suid-Afrikaanse samelewing.

Die aanbieding van hierdie berigte (die opskrif, keuse van woorde en algemene trant daarvan) kan egter ’n kerk(verband) of geloof in die algemeen negatief, positief of neutraal voorstel (Haskell 2007:62–75). Ter onderskeiding van agendastelling word byvoorbeeld raming gebruik as aanduiding van iets wat die betrokke joernaliste meer bewustelik doen. Entman (aangehaal deur Haskell 2007:63) se wyd-aanvaarde definisie lê juis klem op die “conscious, participatory role played by journalists – acting as the agent who promotes a particular problem definition and makes a moral evaluation”. Indien hierdie “puristiese” siening van raming (ter onderskeiding van agendastelling) aanvaar word, sou die stel van ’n agenda moontlik as ’n meer neutrale handeling beskou kon word. Dít word nie deur ons aanvaar nie. Eerder is dit die geval dat “blote” agendastelling ’n verdere dimensie bykry, as ’n tipe tweedevlak-agendastelling, deur sodanige raming.

Ongeag of dit op grond van meer filosofiese of meer ekonomiese beginsels geskied, weerspieël en dra die godsdienstige inhoude in koerante by tot impulse rondom geloofsake wat kommunikatief binne ’n gemeenskap verruil word. Laasgenoemde aspek is hier bo benoem as “openbare of publieke spiritualiteit”. Hoewel die verskynsel spiritualiteit onmoontlik vas gedefinieer kan word (Lombaard 2008a:94–107),7 val dit konseptueel uiteen in twee dele: hoe geloof – ook “on”-geloof (Comte-Sponville 2007) – beleef word, en dan meer intellektueel, die studie van hierdie geloofsbelewenisse (vgl. die model in Lombaard 2003:450). Die term spiritualiteit word dikwels in populêre gesprek in Afrikaans op buite-kerklike, soms steeds Christelike, maar soms nie-Christelike, geloofsoriëntasies betrek (Snyman 2008:143–5; Lombaard 2008b:291–3), of word ook heel dikwels eksklusief rondom charismaties-kerklike geloofsuitinge aangewend (“Daardie kerk hét spiritualiteit ...”).

Beide hierdie denotasies is egter onproduktief eng. Enersyds is die konsep spiritualiteit universeel genoeg om na alle geloofsoriëntasies te verwys: van ’n “stoere boere”-gemeente tot antiek-tradisionele aanbiddingsvorme; van die “verdwyning” van die individu in die intieme teenwoordigheid van God (theosis) tot die “opneem” van die individu in ’n ekstatiese groepsgeloof; van breë samelewingstendense (soos sekularisasie of fundamentalisme) tot geloofsverwoording in kerklike dokumente, kunsvorme (argitektuur, poësie, dans, juweliersware en dies meer), politieke retoriek, ekonomiese uitdrukkingsvorme, en enige ander menslike uitdrukkingsvorm – sonder om hiermee enige kontinuums te impliseer, en sonder om hiermee in die gewone godsdiensdebatte (bv. “Bestaan God?”) vas te val. Hoe geloof, ook ongeloof (ageloof en antigeloof), beleef word en aan uitdrukking gegee word – dít is spiritualiteit.

Andersyds word die term Spiritualiteit (met ’n hoofletter gespel) gebruik om die akademiese dissipline te benoem wat hierdie belewings en uitlewings bestudeer (Kourie 2009:148–73), met al die wetenskapsfilosofiese, teoretiese en metodologiese oorwegings wat daarmee gepaard gaan, soos met elke ander dissipline binne ons post-/laat-modernistiese tydvak. Hiermee word egter nie ’n tipe dualisme veronderstel asof die studie van spiritualiteit self nie ook op verskillende maniere ’n uitdrukkingswyse van sekere geloofsgewaarwordinge is nie. Ter wille daarvan om aan die dissipline die nodige selfkritiese refleksiewe dinamika te verleen, en ter wille van gesprek met ander vakwetenskappe, word die onderskeid tussen spiritualiteit as fenomeen en Spiritualiteit as wetenskap egter benodig.

In hierdie artikel word met “openbare/publieke spiritualiteit” spesifiek bedoel die verwoording van sekere geloofsinhoude binne ’n nieprivate milieu. Dikwels word met die term spiritualiteit eensydig na ’n intens-persoonlike geloofservaring verwys. So ’n verstaan van spiritualiteit is egter nie omvattend genoeg nie, enersyds omdat alle persoonlike geloofsbelewenisse gekleur word deur talle sosiohistoriese impulse buite die betrokke persoon om, en andersyds omdat persoonlike geloofsbelewenisse dikwels op verskillende maniere in die samelewing tot uitdrukking kom, onder meer by groepsbyeenkomste, in die letterkunde en in die argitektuur. Sodanige publieke geloofsuitdrukking, ook in die pers, is op so ’n breë vlak meteens oppervlakkig én diepgaande: oppervlakkig in die sin dat fyn-uitgewerkte teologiese formulerings nie maklik deur hierdie media aangebied kan word nie, maar dat geloof op ’n manier slagspreukagtig uitgedruk word; diepgaande, egter, omdat in ’n sekere sin aan die kern van die geloofsaak van die betrokkenes refleksmatig, amper instinkmatig, stem gegee word.

3. Metode

’n Aantal misdaad- en verwante berigte waarin godsdienstige verwysings voorgekom het, word hier kwalitatief ontleed. Alle prominente misdaadberigte in Beeld en Rapport in 2008 is nagegaan vir sodanige verwysings. Die berigte wat gekies is, is bepaal aan die hand van die metode van doelgerigte steekproeftrekking (“purposive sampling”/“judgemental sampling”; vgl. Neuman 2003:213–4). Hierdie metode binne die arsenaal van sosiaal-wetenskaplike analitiese werkswyses het die voordeel dat materiaal wat nie toepaslik op die navorsingsvraag is nie, gewoon oorgesien word. Slegs dít wat ooglopend direk op die studie betrekking het, word vir ontleding geselekteer.
 
Die gekose berigte vir hierdie studie het almal in die loop van 2008 in die eerste (of plattelandse) uitgawe8 van Beeld en Rapport verskyn, soos beskikbaar op Potchefstroom. Beeld is die enigste Afrikaanse dagblad in die bevolkingryke noordelike provinsies, terwyl Rapport verreweg die grootste (maar nie die enigste nie) Afrikaanse Sondagblad is. Hoewel Rapport nie volumegewys dieselfde klem op misdaadberiggewing plaas nie, verskyn daar tog gereeld berigte met ’n sterk menslike karakter wat vir die doel van hierdie studie nuttig is om van kennis te neem.

Die prominensie van die godsdienstige verwysings word ontleed deur te let op die omvang en gebruik van die verwysings in die teks, opskrifte en aanhalings. Daardeur wil ons vasstel hoe die redaksie van die betrokke koerante die verwysings “geraam” het. Telkens word die ontleding hier onder dus op twee vlakke aangebied: die reaksie van die individue, soos gerapporteer, meer binne intiem-persoonlike kring, en dan die gemedieerde weergawe daarvan in die koerantberigte, binne die breër, openbaar-kommunikatiewe forum.

Elke berig oor misdaad, ook dié wat geen godsdienstige verwysing in die opskrif het nie, is gelees om vas te stel of daar wel godsdienstige verwysings in die teks is. In sommige gevalle het dit wel voorgekom; nie alle verwysings in die teks het noodwendig ’n korresponderende verwysing in die opskrif gehad nie. Die berigte is toe nagegaan om vas te stel watter tipe verwysings daar is. Die volgende kategorieë is, sonder enige teoretiese voorveronderstellings, gevind: verwysings na God as bewaarder; verwysings na slagoffers se geloof; verwysings na die hemel; en meer bedagte verwysings na geloofsreaksies op geweldsmisdaad en ongelukke. Hierdie kategorieë is nie op die betrokke berigte afgeforseer nie, maar die medeskrywer verantwoordelik vir hierdie deel van die navorsing het dit min of meer spontaan so ingedeel en met die ander medeskrywer uitgeklaar. Daarna is die berigte binne ’n kategorie saam ontleed.

Die nadeel van hierdie benadering is dat bevindinge nie bruikbaar binne ’n breër konteks veralgemeen kan word nie. In die geval van hierdie studie kan breër oordele daarom nie sonder meer gevel word oor tendense binne alle koerantartikels of selfs van die betrokke publikasies nie. Die manier waarop godsdiens byvoorbeeld na vore kom in gereelde geloofsrubrieke, kommentaarstukke, lesersbriewe, en ook in persberigte oor ander nuuswaardighede vanuit kerklike of godsdienstige oord (soos belangrike kerklike vergaderings se besluite, of prominente nuusfigure soos pastoor Ray McCauley of Angus Buchan), kan nie direk vanuit die bevindinge hier beoordeel word nie. (So iets sou eers moontlik word deur vergelyking, nadat studies soortgelyk aan hierdie een oor sodanige aspekte onderneem is.)
 
Hierdie metodologiese beperking doen egter nie afbreuk aan hierdie studie nie, aangesien die belangstelling hier juis by ’n baie spesifieke aspek lê. Ons opset is beperk: om enkele perspektiewe te bied op godsdienstige verwysings binne misdaad- en verwante berigte in die koerante Beeld en Rapport. Hoewel hierdie twee publikasies prominent is binne hulle lesersgemeenskappe, lei sowel die diversiteit van samelewingsinhoude wat op individue en groepe inwerk (Goosen (2007) verwoord dit, binne ’n breër filosofiese konteks, en positief, as die oorvloedigheid van kultuur) as die uiters komplekse aard van die invloed van die massamedia (kyk Lombaard 2002) daartoe dat nederigheid, ook sover dit die sosiaal-sielkundige impak van ons studietema aangaan, gepas is. Hoogstens word met die perspektiewe hier enkele van die impulse wat in ons samelewing rondom ons navorsingstema sosiaal beskikbaar is, uitgelig en toegelig.

4. Godsdienstige verwysings in die betrokke koerante

Hoewel kerksake steeds ’n mate van dekking in hierdie koerante geniet (maar dalk nie meer soveel as in die verlede nie), kan die indruk maklik ontstaan dat geloof as sodanig nie veel mediaruimte kry nie. Tog het teologiese temas en verwysings wel gereeld gedurende ons ondersoekperiode in die betrokke koerante verskyn. So het die Mighty Men-saamtrek van evangelis Angus Buchan prominensie geniet (vgl. bv. Rapport, 2008-04-20; 2008-04-27); ’n hoofberig het op ’n binneblad van Beeld verskyn met die opskrif “God is in beheer, sê vermiste in ’n nota” (Beeld, 2008-10-08); daar is berig oor rugbyspeler Pierrre Spies se getuienis oor siekte en geloof (Beeld, 2008-11-12); die aankondiging van ’n wenner van ’n wedstryd in Beeld het die opskrif gekry “Geskenk van Bo, sê wenner van kombuis” (Beeld, 2008-04-16); ’n kosskenking deur Christene uit Suid-Afrika aan geloofsgenote in Zimbabwe het onder die opskrif “Soos manna uit die hemel …” verskyn (Rapport, 2008-12-14); en in ’n onderhoud met rubrieksrywer Hanlie Retief vertel ’n vrou wat in Saoedi-Arabië aangehou is, hoe haar geloof haar staande gehou het (Rapport, 2008-03-16). In vele ander berigte “hoop en bid” betrokkenes vir ’n afname in Suid-Afrika se misdaad- en ongeluksyfers.

Ons fokus hier is egter op godsdienstige verwysings in berigte oor misdaad en ongelukke. Al is sodanige verwysings nie by die meerderheid van misdaad- en ongelukberigte te vinde nie, is genoeg voorbeelde gevind om sekere patrone te kon identifiseer.

Vier hoofkategorieë verwysings kan naamlik op ’n eerste vlak van ontleding onderskei word:

  • Verwysings na God as bewaarder
  • Verwysings na slagoffers se geloof
  • Verwysings na die hemel
  • Meer bedagte verwysings na geloofsreaksies op geweldsmisdaad en ongelukke

Elk van hierdie kategorieë word vervolgens kortliks bespreek.

4.1 Verwysings na God as bewaarder

In ’n aantal berigte getuig misdaadslagoffers van God se bewarende hand. Die mees prominente voorbeeld hiervan is ’n bladsy 2-hoofberig in Beeld (2008-07-25) met die opskrif “Genade van Bo dat ons ongedeerd is”. Die berig se inleidingswoorde is: “Ons het net hardop gebid.” Later in die berig staan: “Dit is net genade dat ons niks oorgekom het nie” (dus effens ander woorde as wat die subredakteur vir die aanhaal-opskrif gebruik het).

In ander gevalle is soortgelyke aanhalings nie in die opskrifte gebruik nie:

  • “Hulle [= rowers] is genadeloos. As dit nie vir die Here se genade was nie, sou ons nie lewendig daaruit gekom het nie,” het hy gesê. (Voorbladhoofberig in Beeld, 2008-12-19, met die opskrif3 weke terug in SA; geskiet”)
  • “Ek besef ek kon net so maklik dood gewees het. Maar die Here het vir my gesê Hy het ’n doel met my op aarde toe Hy my lewe gered het … Ek kan nie beskryf hoe ek die Here sedert die ongeluk hier naby my gevoel het nie.” (Bladsy 3-hoofberig in Beeld, 2008-01-12, met die opskrif “Skoonheid brand erg in vliegongeluk”)
  • “Hy het die sneller getrek, maar die skoot het nie afgegaan nie. Ek het begin bid en in ’n stadium gesê: ‘Here, jy moet ons nou help. Laat die alarm asseblief afgaan.’ Scheepers sê die alarm het oomblikke daarna begin loei.” (Berig in Beeld, 2008-01-03, met die opskrif “Egpaar byna 2 keer in 4 dae vermoor”)
  • “Duisende goed het deur my kop gegaan. Ek het net aan my twee kinders gedink en gebid dat hulle my nie doodskiet nie.” (Hoofberig op bladsy 5 in Beeld, 2008-01-03, met die opskrif “Onnie skuil tuis ná drama op N1”)
  • “Die hand van Jesus was oor ons,” het Swanepoel gesê. (Hoofberig op bladsy 10 in Beeld, 2008-09-12, met die opskrif “Pa, kind oorleef kaping”)
  • “Ek het met die Here gebargain terwyl ek in die kattebak toegesluit was. Ek het vir Hom gesê ek sal sekere dinge doen as ek net lewend hier uitkom.” (Hoofberig op bladsy 10 van Rapport, 2008-03-30, met die opskrif “‘Ek het met die Here gebargain’”)

Hoewel die godsdienstige verwysing in die eerste berig die berig duidelik raam as een waarin die betrokkenes se geloof ’n verklaring bied waarom hulle die voorval oorleef het, doen die ander aangehaalde berigte dit opvallend nie, ondanks direkte aanhalings wat stof was vir treffende opskrifte. Hier is dus eintlik voorbeelde van hoe Beeld gekies het om ondanks die teks nie die berigte opskrifte te gee met godsdienstige verwysings nie.

Op ’n godsdienstige vlak kan die volgende opgemerk word: geloof kom in hierdie menslike grenssituasies (op die rand van die dood, hetsy weens misdaad of ’n ongeluk) juis na vore. Dat godsdienstigheid op so ’n moment ter sprake kom, is nie verbasend nie; watter soort godsdienstigheid dit is, is insiggewend. Magteloosheid is die deurlopende agtergrond tot bostaande aanhalings: die sprekers verraai implisiet dat daar tydens die grensmoment die belewenis was dat hulle self geen manier gehad het om die situasie te beredder nie. In die afwesigheid van die vermoë tot menslike optrede (“agency”, in sosiologiese taal) kom die grype na bomenslike optrede. Laasgenoemde kom in die aanhalings op verskillende maniere na vore: ’n belydenis/insig ná die tyd, ’n hulproep in die krisismoment, of ’n tipe onderhandeling met God tydens die gebeure.

Of die persone vantevore godsdienstig belangstellend en/of kerklik aktief was, is nie telkens duidelik nie. Duideliker is dat hier wel sprake is van ’n skielike toewydingshoogtepunt – iets wat te verstane is binne en kort na so ’n grenssituasie. Die rol wat hier van God verwag word, is dié van redder uit die nood – iets wat in die Bybelse (veral in sommige Psalms, in Deutero-Jesaja, Klaagliedere, in dele van die lydensverhale van Jesus, en in dele van Openbaring) en kerkhistoriese erfenis ’n welbekende geloofsoriëntasie is. Hier word dus binne die verskillende tipes hulproepe deur die individue betrokke by die tragiese omstandighede ’n deurlopende tema gevind, naamlik ’n direk-beleefde eksistensiële optrede, ter wille van oorlewing, waar die oorlewingstryd nie meer op eie krag, dit wil sê mensekrag, voortgesit kan word nie, maar in die hande van die bowemenslike geplaas word.

Hierdie geloofsmoment het enersyds die kenmerk dat die vertroue op die Hoër Hand absoluut is: die persone beleef geen ander bron van hoop vir die voortduur van hulle lewens nie. Hoewel intens, is so ’n belewenis, ten minste soos in die aanhalings hier bo weerspieël, taamlik kortstondig. Andersyds is hierdie ’n sterk selfgerigte geloofsoriëntasie: dit gaan om mý heil, eerder as ’n Lukas 23:46-parallelle lot-aanvaardende instelling: “[I]n u hande gee ek my gees oor.” In die krisismoment van die betrokkenes is dit heel natuurlik en verstaanbaar: dat Goddelike hulp ingeroep word om in die kritieke momente ’n traumatiese einde tot ’n mens se lewe te verhoed, weerspieël die belang wat aan die voortgang van die lewe geheg word. In die breër mediakonteks speel hierdie oriëntasie egter sterk in op populêr-godsdienstige instellings by gelowiges, wat dikwels intens selfgerig is (mý heil, en mý belewenis hiervan), eerder as wat dit diens aan God en naaste primêr stel. Die besondere moment, die unieke individu, en die baie spesifieke Godsverwagting kleur alles die geloofsoriëntasie soos in die aanhalings verwoord. Op heel verstaanbare wyse is die individuele krisisroep tot God gerig op oorlewing; die media-uitbeelding hiervan gee dit nie net weer nie, maar voed ook ’n meer alledaagse geloofsvorm wat in ’n sekere mate meer op die self as op God ingestel is. Om laasgenoemde anders te verwoord: nie God nie, maar die (plaaslike, piëtisties-beïnvloede) belewenis van God word die essensie van gelowigheid.

Op hul eie geneem, het sulke media-gemedieerde “getuienisse” ’n taamlik sterk missionêre aanslag: die oorlewendes se verhale kan maklik as motiveringsmateriaal dien vir andere se geloofslewens. Vrae wat die aangehaaldes egter tydens die krisismoment en tydens die onderhoud met die joernalis nie aan kan dink nie, en wat daarom nie hier uitgebreid aan die orde gestel word nie, sou egter gaan oor diegene wat eweneens gebid het, maar nie oorleef het nie, of niegelowiges se belewenisse van soortgelyke grensgebeure. Die openbare spiritualiteit is egter, in den breë (maar vgl. 4.4 hier onder), te geslote om sulke meer ongemaklike vrae oor geloof ernstig en gereeld op die tafel te plaas. Die probleme van lyding, naamlik wie wat oorkom en om watter moontlike rede (tipies van die teologie agter die Bybelboeke Job en Prediker – vgl. bv. Whybray 1998 en Lohfink 2003), en die tragiek dat hierdie vrae slegs deur oorlewendes gevra kán word, alles deel van die teodisee-vraagstuk (vgl. o.a. Rowe 2001), word dus nie eksplisiet aan die orde gestel nie.
Een manier waarop dit egter wel na vore kom, maar dan slegs implisiet, is wanneer met naasbestaandes van mense wat die krisis nié oorleef het nie, onderhoude gevoer word. Hierna word volgende gekyk.

4.2 Verwysings na slagoffers se geloof

In verskeie berigte word getuig van slagoffers wat die misdaad of ongeluk nie oorleef het nie, se lewe en geloof:

  • “Hy was ’n groot Christen” (n.a.v. seun wat verdrink het). Opskrif: “‘nou het ons darem iets om te begrawe’” (Beeld, 2008-10-07)
  • “Hulle was die niceste mense, sulke ongelooflike oprégte Christene. Ek kan nie dink hoe iemand so iets aan hulle kon doen nie.” Aldus die seun van ’n vermoorde egpaar. Opskrif: “Drie keelaf gesny” (Voorbladhoofberig, Naweek-Beeld, 2008-05-03)
  • Francois se pa, Etienne, ’n dokter, het hartseer aan Rapport vertel hoe Francois die oggend nog opgewonde skool toe is om ’n Bybelteks in Psalm 37 met sy maats te gaan deel (n.a.v. seun wat doodgeskok is). Opskrif: “Twee seuns doodgeskok” (Rapport, 2008-11-23)
  • “Sy wou net vir God werk en het altyd gesê sy wil die jeug verenig” (n.a.v. dogter wat in ’n motorongeluk dood is). Opskrif: “Hoofmeisie, maats sterf” (Beeld, 2008-01-08)
  • “Ek vind die Here,” het Chris Potgieter, ’n graad 11-leerling van die Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria, in sy dagboek geskryf ’n week voordat hy in ’n motorfietsongeluk dood is. Opskrif: “Gerrit Maritz-seun was ‘reg om te sterf’” (Beeld, 2008-12-04)

Soos met die eerste kategorie, is hier verskeie voorbeelde van uitsprake deur misdaadslagoffers wat nie in opskrifte neerslag vind nie. Trouens, in laasgenoemde voorbeelde is daar net een wat by implikasie in die opskrif tereg kom, nl. “Gerrit Maritz-seun was ‘reg om te sterf’”. Hieruit kan nogmaals afgelei word dat Beeld se subredakteurs (of dan die hoofsubredakteur en verantwoordelike hoofredaksielid) nie geneig was om die betrokke berigte binne ’n godsdienstige konteks te raam nie.
 
In aansluiting by die slotparagrawe van 4.1 hier bo is dit sover dit die inhoud van die berigte aangaan, opmerklik hoedat moeilike vrae nie in die aanhalings hier bo gevra word nie, maar dat wel vroom belydenisse gegee word. Vir die individue wat direk betrokke is by sulke ontstellende omstandighede, is die soeke na iets positiefs om aan vas te hou, sielkundig en pastoraal verstaanbaar. In die tragiek van dood weens misdaad of ongeluk is dit in die mediaweergawe daarvan relatief selde (kyk 4.4) dat hierdie relevante teodisee-kwessies weerspieël word, ten spyte daarvan dat daar redelik gemaklik paragrawe hieraan gewy kan word. Midde-in sulke tragiese omstandighede vra mense naamlik dikwels, vinnig en dringend vrae soos: “Hoe kón God dit toegelaat/gedoen het?” Dié kant word in hierdie berigte egter nie belig nie. Die berigte hier medieer naamlik ’n tipe populêr-pastorale aanslag wat vertroosting soek – nie spesifiek by God direk nie, interessant genoeg, maar in die feit dat die slagoffer in ’n intieme, positiewe verhouding met God gewikkel was. Die afleiding wat so ’n tipe vertroosting by die leser laat, slegs per implikasie maar juis daarom soveel meer tekenend, is dat die slagoffer “darem” nou by God, in die hemel is (vgl. McGrath 2003:140, 166; en vgl. McDannell en Lang 1988 vir ’n deeglike historiese oorsig oor die hemelbegrip), ten spyte van die traumatiese manier waarop dit teweeggebring is.

Weer eens: binne die slagoffer se persoonlike kring kan so ’n insig wel troos bied. Breër beskou, gegewe die gereelde aanklag dat die nuusmedia “’n neiging (het) om goeie nuus nie altyd te beskou as voorbladnuus nie” (Van Niekerk 2010; vgl. ook Engelbrecht 2010), word deur die gebruik van sulke aanhalings hier “darem” iets positiefs gebied. Dat dit gebeur met juis sulke traumatiese materiaal, maak so ’n aanslag des te meer opmerklik: die slagoffer se verhouding met God was goed; hy/sy is nou in die hemel. Ontvlugting word gebied. Hoewel nie opskrifmateriaal nie, is dit baie sterk die onderliggende boodskap wat gekommunikeer word. Die teologie wat oorgedra word, dat die “darem” van geloof ’n tipe troos bied op die trauma van die gebeure, is ’n onderliggende aanname, wat, soos al sulke aannames, deur die leser self afgelei moet word, asof dit ’n wyd-aanvaarde samelewingswaarheid is, wat juis daarom ’n kragtige kultuur-impuls word met (in hierdie geval) godsdienstige vormingsimplikasies vir die individu. Sulke onderliggende aannames toon naamlik die onbevraagtekende, dikwels onbewuste, fundamenteel-aanvaarde waarhede waarop verstaansraamwerke geskoei is, en waardeur lewenswaardes daarom gedeel word; vandaar die nodigheid om sodanige invloed uit te wys.

Hoewel dié “darem”-teologie goed aansluiting vind by van die populêre sentiment rondom sulke sake, moet ons nie die oë sluit vir die amper makabere boodskap wat hierin verskuil lê, maar wat nooit so verwoord (durf) word nie, naamlik: die slagoffer se lewe het sleg geëindig; die slagoffer is ten minste nou beter daaraan toe as tydens die doodsmoment. Hier lê nog hermeneuties op die agtergrond die dualisme tussen aarde en hemel, liggaam en siel, lewe voor die dood en lewe ná die dood – met telkens laasgenoemde wat beter is as eersgenoemde, en dus vir tyd en wyl uitsig op iets meer verhewe moet bied. ’n Onvergenoegdheid, of woede, of rebellie teen die oorsaak van die dood – as maar een binne ’n hele reeks alternatiewe reaksies – vind hier geen vertolking nie. ’n Verhouding met God moet, tekenend vir ons doeleindes hier, ook in die mediaweergawe van die gebeure, die skerpheid van die negatiewe gebeure versag. Die boodskap wat in die openbaar gemedieer word (met ’n bedoelde dubbele betekenis), is: geloof sus.

4.3 Verwysings na die hemel

In sommige berigte is die slagoffer se geloof meer regstreeks as hier bo met die hemel verbind:

  • “Mamma, ek gaan hemel toe” (het ’n twaalfjarige seun gesê toe hy ná ’n ongeluk die hospitaalteater ingestoot is). In die begrafnisbrief het sy boetie geskryf: “Onthou om my voor die hemel se hekke te kom haal as ek doodgaan.” Opskrif: “Willem weet hy gaan Jesus toe” (Hoofberig op bladsy 4, Rapport, 2008-11-30)
  • “Kay (’n dogtertjie) wys na die hemel as mens haar vra waar haar pa is.” Opskrif: “Rowers skiet twee se pa sewe keer” (Beeld, 2008-04-01)
  • “Nou wil ek net gou-gou vir Liewe Jesus vertel van Oupa sodat as hy in die hemel kom, alles reg sal wees.” (Uittreksel uit ’n kleinkind se brief.) Opskrif: “Liewe Jesus, Oupa Andries is op pad na jou toe” (Beeld, 2008-07-22)
  • “Dankie Here vir ’n jong mens wat ’n verskil gemaak het. Haar soort is skaars. Sy is by Jesus, veilig in sy arms …” – Ds. Johan Smit by die begrafnisdiens van Tessa Strydom (17). Opskrif: “Trane vloei oor Tes, die ‘girl’ met ‘guts’” (Hoofberig op bladsy 5 in Beeld, 2008-01-12)
  • “Ons weet nie hoekom God dié dinge doen nie, maar Hy belowe dat ons eendag weer verenig sal word met ons geliefdes.” – Past. Charlie Nunn by die begrafnisdiens van ’n pa en dogter – die pa is vermoor en die dogter het in ’n motorongeluk gesterf. Opskrif: “God belowe ons sal met geliefdes herenig word” (Naweek-Beeld, 2008-04-05)
  • “Maar waar sy nou is, is sy op ’n plek waar niemand haar weer kan seermaak nie. Sy is gelukkig. Dit moet vir ons bietjie vertroosting gee.” Vriendin van vermoorde Estée van Rensburg by begrafnisdiens. Opskrif: “Vriende en familie groet jong ballerina” (Beeld, 2008-04-02)

In hierdie kategorie kom godsdienstige verwysings wel in drie van die ses berigte se opskrifte na vore. Opvallend is in een geval na “Jesus” verwys en in nog ’n geval na “Liewe Jesus”, soos wat ’n kind ’n brief sou geskryf het. Die enigste opskrif waarin “God” met die hemel verbind word, bevat ’n troosbelofte van hereniging met geliefdes. Die trooswoord van ’n vriendin van ’n vermoorde (kyk laaste voorbeeld) word egter nie in die opskrif opgeneem nie; wel kies die subredakteur die prosaïese “Vriende en familie groet jong ballerina”. Hier raam die koerante die opskrifte wel soms in godsdienstige terme, maar die gebruik van “Jesus” en “Liewe Jesus” is dalk minder onskuldig as wat dit op die oog af lyk. (Kyk verdere opmerkings hieroor in slotgevolgtrekkings.)

Teologies gesproke kan breedweg dieselfde interpretasie as wat aan die einde van 4.2 gegee is, hier toegepas word. Opvallend egter is, met die direkte hemelverwysings eerder as die implisiete betekenisspel in daardie rigting in die aanhalings van 4.2, hoeveel kinderstemme hier verwoord word, asook twee predikante-stemme. Aan beide hierdie groepe word in ’n sekere mate populêr ’n hoër geloofwaardigheid oor spesifiek geloofsake gekoppel, naamlik weens die verskillende tipes egtheid wat daarrondom beleef word. Deur die aangehaalde woorde te lees, raak ’n mens ook meer emosioneel; om die aanhalings krities te ontleed, is daarom ook moeiliker.

Juis hierdie aspekte van waargenome egtheid en geloofwaardigheid, asook die emosionele aanraking, maak interpretasie daarvan des te meer dwingend, al sou dit dan net wees om aan te dui dat die emotiewe aanslag geneig is om ’n mens weg te lei van die erns van die moment af. Op persoonlike vlak, weer, maak dit goed sin as deel van die rouproses, vir sommige mense. Die hiernamaals bied dikwels op dié vlak troos rondom die dood. Binne ’n joernalistieke konteks kan hierdie lading egter daartoe lei dat dít die klemtoon kry, eerder as byvoorbeeld die reeks faktore wat aanleiding gee tot die hoë voorkoms van sodanige tragiese gebeure.

4.4 Meer bedagte verwysings na geloofsreaksies op geweldsmisdaad en ongelukke

In ’n minderheid van die berigte word wel erns gemaak met meer duursame tipe geloofsverwoordinge wat oor langer tydperke stand sal hou, en nie beskuldig sou kon word van soetsappigheid of oppervlakkigheid nie:

  • “Ons verstaan nie hierdie dinge wat gebeur nie … Kinders van die Here mag vrae vra … Ons gaan nie maklik antwoorde kry nie.” – Ds. Desmond Ras by die begrafnisdiens van die vermoorde egpaar Lotter. Opskrif: “Hulde gebring aan vermoorde egpaar” (Beeld, 2008-07-29)
  • “Ons veroordeel almal wat in die donker en boos is. Dit is nie deel van God nie. Ons veroordeel hulle wat sag op misdaad is.” – ’n Anglikaanse biskop by die begrafnisdiens van ’n man wat vermoor is. Opskrif: “Woede in roudiens by skool ná aanval op gesin” (Beeld, 2008-03-06)
  • “Die tragedie het ons gebreek. Dit beteken niks wat ons doen of sê, sal dit verander nie en maak nie saak hoe ons met God onderhandel nie, niks gaan hom terugbring nie.” – ’n Vriend van ’n rocksanger wat in ’n motorbotsing gesterf het. Opskrif: “Sy stem, mooi hart gaan gemis word” (Hoofberig op bladsy 5 van Naweek-Beeld, 2008-09-13)
  • “Maar God het gegee en God het geneem.” – Pa van jong man wat in motorongeluk gesterf het. Opskrif: “Polisiehoë se seun sterf in N1-ongeluk” (Hoofberig op bladsy 6 van Beeld, 2008-05-05)

Hier mis die subredakteurs weer verskeie geleenthede tot sterk opskrifte met godsdienstige inhoud. Sodoende kies die koerante nogmaals om nie die misdaadberigte in die opskrifte binne ’n godsdienstige raamwerk te plaas nie – ondanks die sterk aanhalings in die teks wat hul tot gebruik in die opskrifte geleen het.
 
Vanuit teologiese perspektief kan die woede en gevoelens van sinneloosheid hier duidelik uitgelig word; verslaentheid word verwoord; berusting word by God self gesoek. Al is hierdie tipe aanslag in die minderheid, vergeleke met die aanhalings in 4.1 tot 4.3 hier bo, toon dit tog dat meer geldige, standhoudende besinnings via die nuusmedia verwoording kan vind, ook in kernagtige formaat. Hiermee word bedoel: dit is die tipe stellings wat in die geskiedenis van filosofiese, teologiese en sielkundige besinning herhaaldelik na terugkeer word, wat hulleself as essensieel onoplosbare kwessies bewys het, juis omdat hulle tot aan die hart van die menslike toestand deurgedring het. Teologies gesproke lê hierdie uitsprake na aan die gedagtegang wat gevind word in Bybelboeke soos Prediker, Job, of Klaagliedere (vgl. Schwienhorst-Schönberger 2004:82–91; Schwienhorst-Schönberger 1998:297–308; Meyer 1998:430–5). Krities besin, pas hierdie tipe benadering ook beter binne die gewone joernalistieke formaat op sy beste, wat die vrae van ons leefwêreld direk konfronteer, sonder om te maklik algemeen aanvaarde, selfs populistiese, antwoorde oor te neem en aan te bied.

5. Samevattend: bevindinge

Kenmerkend van bostaande aanhalings is dat die Godsverwysings eksklusief Christelik is. Gegewe die lesersprofiel van die twee ondersoekkoerante, is dit nie verbasend nie; tog moet dit steeds raakgesien word. (In die geval van byvoorbeeld die Kaapse dagblad Die Burger, met sy beduidende getal Moslem-lesers, sal die prentjie waarskynlik anders daar uitsien.) Effens verrassend is die diversiteit van godsdienstige reaksies wat verwoording vind, naamlik die vier geïdentifiseerde kategorieë soos hier bo aangebied: verwysings na God as bewaarder; na slagoffers se geloof; en na die hemel; en ander, meer standhoudende geloofsreaksies op geweldsmisdaad en ongelukke.

Uit ’n nuusramingsoogpunt beskou is dit belangrik dat die koerante se subredakteurs nie alle voor die hand liggende geleenthede benut het om geloofsuitsprake in die opskrifte op te neem nie. Met “voor die hand liggend” word hier bedoel dat berigte wat wel sterk aanhalings bevat het, soms taamlik saai opskrifte gekry het. Waarom sou dit wees? Gegewe die dikwels populistiese inslag van sowel Beeld as Rapport se nuusdekking, sou verwag kon word dat aanhalings soos die volgende in opskrifte neerslag sou vind: “Hulle was die niceste mense, sulke ongelooflike oprégte Christene. Ek kan nie dink hoe iemand so iets aan hulle kon doen nie”; “Sy wou net vir God werk en het altyd gesê sy wil die jeug verenig”; “Dankie Here vir ’n jong mens wat ’n verskil gemaak het. Haar soort is skaars. Sy is by Jesus, veilig in sy arms”; “Ons verstaan nie hierdie dinge wat gebeur nie … Kinders van die Here mag vrae vra … Ons gaan nie maklik antwoorde kry nie”; “Ons veroordeel almal wat in die donker en boos is. Dit is nie deel van God nie. Ons veroordeel hulle wat sag op misdaad is”; “Die tragedie het ons gebreek. Dit beteken niks wat ons doen of sê, sal dit verander nie en maak nie saak hoe ons met God onderhandel nie, niks gaan hom terugbring nie.” Maar dit het nie.

Kan daaruit afgelei word dat die betrokke koerante die geloofsuitsprake as te intiem, selfs te godsdienstig, beskou het en daarom verkies het om dit nie te gebruik nie? Omdat elke berig meerdere moontlikhede aan die subredakteur bied, is dit onmoontlik om ná die tyd motiewe aan ’n opskrifskrywer toe te dig. Hy/sy werk immers ook onder die toesig van ’n hoofsubredakteur en ander senior redaksielede, en die redakteur besluit in die laaste instansie of bepaalde tipes opskrifte in die betrokke koerant toegelaat word al dan nie. Hierdie motiewe sou in ’n opvolgstudie ondersoek kon word en moet as ’n leemte in hierdie artikel aangestip word.

Haskell (2007) se navorsing oor Kanadese joernaliste en hul raming van nuus oor evangelikale gelowiges dui daarop dat wanneer ’n groep (in dié geval Christene) se geloof en waardes ’n bedreiging word vir dít wat joernaliste as in openbare belang of in pas met ’n regverdige samelewing ag, ’n negatiewe of selfs aanvallende raam gebruik sal word (Haskell 2007:143). In hierdie studie is daar geen sprake van ’n negatiewe raming van die geloofsuitsprake nie; wel word dit soms bloot uit die opskrif weggelaat. Die vraag sou gevra kon word of die betrokke koerante waak teen te veel sodanige geloofsuitsprake omdat dit ’n verleentheid word. Aan die ander kant weer, wanneer godsdiens wel in die opskrifte voorkom, kan nog eens die motiewe daarvoor bevra word: Was dit om populistiese redes, om demografiese redes, of bloot weens die subredakteur se voorkeur op daardie oomblik?

Waar Haskell se studie leun op die bewese feit dat die betrokke Kanadese joernaliste ’n sekere vorm van sekularisme aanhang (Haskell 2007:126), is daar geen vergelykende studie oor die redaksies van Beeld en Rapport gedoen nie. Hier is dus min beweegruimte om ingeligte afleidings vir die doeleindes van hierdie studie te maak. Wat ook onmoontlik is om vas te stel, is of die verslaggewers nie veel sterker teologiese verwysings gemis, geïgnoreer of bloot nie gesnap het nie. Om hierdie tipe vrae met enige mate van stelligheid te beantwoord, sal die geloofsoortuigings van die betrokke joernaliste ook in verdere navorsing in spel gebring moet word.

Tog is daar gevolgtrekkings waartoe met groter stelligheid gekom kan word.

Van die vier geïdentifiseerde kategorieë is die laaste een teologies gesproke die mees positiewe hier bo beoordeel, hoewel die eerste ook, in ’n meer omskrewe sin, nut het. In al vier gevalle was die uitdrukkings egter op ’n persoonlike, meer private vlak, heeltemal verstaanbaar as natuurlike, momentele geloofsreaksie op skokkende omstandighede. Waar veral kategorieë 2 en 3 op lang termyn die aanvaarde “antwoord” vir die betrokke individue sou bly, sou pastorale begeleiding moontlik aangewese wees (afhangend van spesifieke omstandighede). Op ’n breë, publiek-teologiese vlak kan die klem op die hiernamaals egter as ’n tipe weerligafleier bevraagteken word – hoe gewild sodanige teologie ook al in die samelewing is. Die werklik harde kwessies word naamlik verruil vir sagter uitkomste, maar wat op die lange duur geen bevredigende antwoorde kan bied nie – iets wat op die breër, joernalistieke vlak krities bevraagteken moet word. Hierdie breër spiritualiteit in die Afrikaanse samelewing is opvallend genoeg juis ook dié wat in die Bybelse literatuur geen weerklank vind nie (insluitend die “Liewe Jesus”-benadering waarna hier bo verwys is, wat op ’n sentimentele wyse uiters moeilike sake omseil, en wat op breëre openbare vlak ver geleë is van joernalistiek wat met integriteit juis nie die harde werklikheid ontwyk nie). ’n Publieke spiritualiteit bied kategorie 2 en 3 wel; eweneens is dit egter ’n spiritualiteit wat nie grondige deurtasting kan deurstaan nie.

Wat ongetwyfeld meewerk daartoe dat hierdie tipe sieninge meer gereeld as dié in die vierde kategorie mediaweerklank vind, is die rol van joernaliste, wat tydens onderhoude nie anders kan as om empatie te beleef met die mense in sulke tragiese omstandighede nie, en wat dus voorrang gee aan hulle besinninge rondom die tragedie. Daarmee saam gaan ook iets wat kenmerkend is van Afrikaanse geloofsbelewenis, naamlik dat dit ’n sekere gevoelsmatigheid vertoon (Deist (1994) bied die bes nagevorste historiese studie hiervan) wat van nature sterk positief reageer op aanhalings soos dié in kategorie 1 tot 3 hier bo weergegee. Laastens is dit ’n joernalistieke gegewe dat lesers besonder waarderend reageer op menslike (“human interest”) stories (vgl. Meiring 1982:135–40). Hierdie drie faktore werk mee tot die dinamika wat die manier kleur waarop godsdienstige verwysings in misdaad- en verwante verslaggewing voorkom.

Dit het wel duidelik uit hierdie studie geblyk dat dit belangrik bly om die redelik te verwagte, natuurlike godsdienstige uitsprake wat by individue voorkom, maar wat dan publiek gekommunikeer word, te ontleed. Wat op intiem-persoonlike vlak voorkom, maar dan in die massakommunikasiemedia wyer gekaats word, bly aan die een kant ’n refleksie van wat in die samelewing teenwoordig is, maar aan die ander kant word die wát en die hóé van die breëre, gemedieerde terugkaatsing van inhoude die samelewing in medebepalend van hoe ontvangers van hierdie boodskappe dink sake ís.9 Veral as dit kom by godsdienstigheid, waaroor min mense binne die lesersgroep van hierdie twee koerante tradisioneel krities (wil) dink, behoort die “waarhede” wat in die openbare media-fora wedersyds verruil word, op verskillende wyses ontleed te word. Sodoende word enersyds kennis geneem van wat in die openbare sfeer geskied, sodat andersyds op grond van kritiese ontledings voorstelle aan die hand gedoen kan word oor moontlik meer geldige, grondige impulse wat die gemeenskap in teruggekaats kan word – in soverre dit ook die taak van die nuusmedia is om die gemeenskap te bedien onderweg na verskillende vorme van welsyn (“well-being”; vgl. Van de Vyfer 2011), insluitend godsdienstige welsyn. Ná uitgebreide besinning oor lyding aan die hand van die Prediker-boek waarsku Schwienhorst-Schönberger (2004:318) juis teen ’n groot gevaar van menslike godsdienstigheid, naamlik dat dit die spreke van God wil domineer, eerder as om te luister.

 

Bibliografie

Bardoel, J. en J. van Cuilenburg. 2008. Strategic media management. In Fourie (red.) 2008.

Comte-Sponville, A. 2007. The little book of atheist spirituality. Londen: Viking.

Curran, J. en M. Gurevitch (reds.). 1996. Mass media and society. Londen: Arnold.

Curran, J. 1996. Mass media and democracy revisited. In Curran en Gurevitch (reds.) 1996.

De Beer, A.S. (red.). 1982. Joernalistiek vandag. Kaapstad: Tafelberg.

De Beer, A.S. en N. Botha. 2008. News as representation. In Fourie (red.) 2008.

Deist, F. 1994. Ervaring, rede en metode in Skrifuitleg. ’n Wetenskapshistoriese ondersoek na Skrifuitleg in die Ned. Geref. Kerk 1840-1990. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

De Villiers, P.G.R., C.E.T. Kourie en C. Lombaard (reds.). 2008. The spirit that empowers: Perspectives on spirituality. Acta Theologica, Supplementum 11. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat Pers.

—. 2006. The spirit that moves. Orientation and issues in spirituality. Acta Theologica Supplementum 8. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat Pers.

Dreyer, E.A. en M.S. Burrows (reds.). 2005. Minding the spirit. The study of Christian spirituality. Baltimore: The Johns Hopkins University Press.

Du Plessis, D. 2003. An analysis of crime reporting (and audience perceptions of it) in selected South African media. Communicare, 22(1):169–86.

Engelbrecht, G.K. 2010. Dankie tog dat Beeld gebalanseerd berig. Beeld, 2010-06-16. http://www.Beeld.com/MyBeeld/Briewe/Dankie-tog-dat-Beeld-gebalanseerd-berig-20100616 (8 August 2010 geraadpleeg).

Fourie, P.J. (red.). 2008. Media studies. Volume 2. Kaapstad: Juta.

Fourie, P.J. (red.). 2007. Media Studies. Volume 1. Kaapstad: Juta.

—. 2007a. The effects of mass communication. In Fourie (red.) 2007.

Froneman, J.D. en T. Swanepoel. 2008. Crime reporting: Six case studies in parochialism. Ongepubliseerde navorsingsverslag oor misdaadberiggewing in ’n aantal Suid-Afrikaanse en Nederlandse koerante gedoen saam met ’n groep Nederlandse uitruilstudente aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.  

Froneman, J.D., T. Swanepoel en G. van Rooyen. 2005. Handboek vir joernalistiek in Suid-Afrika. Potchefstroom: Die skrywers.

Froneman, J.D. 2002. Reformational journalism in enemy territory. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 38(1/2):51–68.

Golding, P. en G. Murdoch. 1996. Culture, communication, and political economy. In Curran en Gurevitch (reds.) 1996.

Goosen, D. 2007. Die nihilisme. Notas oor ons tyd. Pretoria: Praag.

Harriss, J., K. Leitner en S. Johnson. 1992. The complete reporter. New York: McMillan.

Haskell, D.M. 2007. Evangelicals in Canadian national television news, 1994-2004: A frame analysis of reports from Global, CBC and CTV television networks and a survey of national television journalists. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom-kampus.

Healy, C.J. 1999. Christian spirituality. An introduction to the heritage. New York: St. Pauls.

Holder, A. (red.). 2005. The Blackwell companion to Christian spirituality. Oxford: Blackwell Publishing.

Kourie, C.E.T. 2009. Spirituality and the university. Verbum et Ecclesia, 30(1):148–73.

Kourie, C.E.T. en L. Kretzschmar (reds.). 2000. Christian spirituality in South Africa. Pietermaritzburg: Cluster Publications.

Lohfink, N. 2003. Qoheleth. A continental commentary. Minneapolis: Fortress Press.

Lombaard, C. 2010. Biblical spirituality and interdisciplinarity. Referaat gelewer by die Claiming conceptual space. Reimagining the study of religion and theology: Changing contexts and social discourses-kongres, Hugenote Kollege, Wellington, 6–10 April 2010. Publikasie volg.

—. 2008a. Spirituality: Sense and gist. On meaning, God and being. In De Villiers, Kourie en Lombaard (reds.) 2008.

—. 2008b. Gewaarwordinge. ’n Gesprek oor Afrikaans-Christelike geloofsprikkels in ons tyd. Pomp, 1:291–3.

—. 2003. The Old Testament in Christian spirituality: Perspectives on the undervaluation of the Old Testament in Christian spirituality. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 59(2):433-50.

—. 2002. The god of journalism is dead. Objectivity, subjectivity and the press. Pretoria: MP Publications.

Lombaard, C. en J. Froneman. 2006. Three broad approaches to the study of religious communication. Tydskrif vir Christelike Wetenskap / Journal for Christian Scholarship, 42(3):151–8.

McDannell, C. en B. Lang. 1988. Heaven. A history. New Haven: Yale University Press.

McGrath, A.E. 2003. A brief history of heaven. Oxford: Blackwell Publishers.

—. 1999. Christian spirituality. An introduction. Oxford: Blackwell Publishers.

Meiring, M. 1982. Mense hou van mense. In De Beer (red.) 1982.

Meyer, I. 1998. Die Klagelieder. In Zenger (red.) 1998.

Neuman, W.L. 2003. Social research methods. Qualitative and quantitative approaches. Vyfde uitgawe. Boston: Allyn & Bacon.

Obonyo, L. 1996. Rethinking news values. Potchefstroom: IRS.

Perrin, D.B. 2007. Studying Christian spirituality. Londen: Routledge.

Rowe, W.L. (red.). 2001. God and the problem of evil. Malden, Mass.: Blackwell.

Schwienhorst-Schönberger, L. 2004. Kohelet. Freiburg im Breisgau: Herder.

—. 1998. Das Buch Ijob. In Zenger (red.) 1998.

Sheldrake, P. (red.). 2005. The new SCM dictionary of Christian spirituality. Londen: SCM Press.

Snyman, M. 2008. Voete in die wolke. Pomp, 1:143–5.

—. 2007. Misdaadverslaggewing in die pers: ’n Weerspieëling van die werklikheid? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 47(4):103–18.

Sommerville, C.J. 1999: How the news makes us dumb. The death of wisdom in an information society. Downers Grove: InterVarsity Press.

The Media. 2010. Marching to Orania! The Media, Maart, p. 7.

Tubbs, S.L. en S. Moss. 1991. Human communication. New York: McGraw-Hill.

Tuchman, G. 1980. Making news. New York: The Free Press.

Van de Vyfer, E. 2009. Spirituality as an aspect of wellbeing among a select group of Cape Town Christians: A qualitative study. Ongepubliseerde MTh-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.

—. 2011. Spirituality as an aspect of wellbeing. Verbum et Ecclesia. Publikasie volg.

Van Niekerk, A. 2010. Op die weg na die middelgrond. Beeld, 2010-02-24. http://www.Beeld.com/In-Diepte/Nuus/Op-die-weg-na-die-middelgrond-20100224 (8 Augustus 2010 geraadpleeg).

Waaijman, K. 2000. Spiritualiteit: Vormen, grondslagen, patronen. Gent: Carmelitana.

Whybray, N. 1998. Job. Sheffield: Sheffield Academic Press.

Zenger, E. (red.). 1998. Einleitung in das Alte Testament. Derde uitgawe. Stuttgart: Verlag W Kohlhammer.

 

Eindnotas

1 Hierdie artikel is ’n verwerking van ’n referaat aangebied by die Violence in the democratic South Africa: A challenge to theology and the churches-kongres, Sentrum vir Publieke Teologie, Universiteit van Pretoria, 10–12 Augustus 2010. Die skrywers bedank Carla Matthee graag vir die navorsingshulp tydens die beginfases van hierdie projek.

2 Sommerville (1999:39–54) bied in hierdie rigting fel kritiek op die joernalistiek, hoewel amper populisties aangebied.

3 Oor die konsep nuuswaardigheid, vgl. De Beer en Botha (2008:234–6); Obonyo (1996:19–26); Froneman, Swanepoel en Van Rooyen (2005:50–61).

4 Oor “koerantbeleid”, vgl. Froneman, Swanepoel en Van Rooyen (2005:21–6); Harriss, Leiter en Johnson (1992:209–18).

5 Oor die rol van hekwagter, vgl. die seminale werk van Tuchman (1980), asook De Beer en Botha (2008:237–9).

6 ’n Hermeneutiese benadering is internasionaal juis een van die metodologiese oriëntasies binne die vakgebied Christelike Spiritualiteit; vgl. Kourie (2009:148–73). Die hoofprobleem van dié breër benadering is dat dit gewoonlik te vaag aangebied word om as konkrete metode beskryf te kan word – vgl. Lombaard (2010). In hierdie studie word egter ’n voorbeeld van so ’n verstaansmatige aanpak gebied, nie as positivistiese of objektivistiese “raakvat” van die werklikheid nie , maar as interpretasie wat intersubjektief self om interpretasie vra (Lombaard en Froneman 2006:151–8).

7 Standaardwerke in hierdie jong, ontluikende teologiese dissipline sluit, in die afgelope sowat dekade, die volgende in: internasionaal, Waaijman (2000), Sheldrake (2005), Perrin (2007), McGrath (1999), Healy (1999), Holder (2005) en Dreyer en Burrows (2005); en plaaslik, De Villiers, Kourie en Lombaard (2008), De Villiers, Kourie en Lombaard (2006) en Kourie en Kretzschmar (2000).

8 Hierdie koerante het naamlik verskillende uitgawes, waarvan sommige op spesifieke groot stede of spesifieke gemeenskappe fokus – ’n vorm van markgerigte publikasie. Ons keuse val om gerieflikheidsredes op die plattelandse uitgawes.

9 Hierdie saak het tot redelik intense gesprek gelei direk na afloop van die aanbieding van hierdie referaat (kyk eindnota 1). Veral onder die kritiese vraagstelling van Neels Jackson, godsdiensverslaggewer by Beeld, is gedagtes in ’n klein gespreksgroep uitgeruil oor ’n saak wat nou verband hou met etiese vraagstelling binne die joernalistiek: in hoe ’n mate is dit die taak van die pers om bloot te reflekteer hoe sake voorkom, en in hoe ’n mate het die pers ook die rol om “beter” alternatiewe te reflekteer? Wie besluit egter wat die “beter” alternatiewe sou wees? In hoe ’n mate, en op watter gronde, sou dit dan verder geoorloof wees om, indien sodanige “beter” godsdienstige response op ooreengekom kon word, aan hierdie (dalk minder gewilde) inhoude voorrang te gee? Indien dit egter nie gedoen word nie, is die pers se rol dan nie analoog aan ’n mediese dokter s’n, wat wel beter medisyne kan voorskryf, maar wat dan die medisyne wat in groter aanvraag blyk te wees, bly voorskryf nie? Hierdie en aanverwante prinsipiële sake verdien verdere ondersoek.