Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Black Butterflies: Ingrid Jonker as slagoffer


Carina van der Walt - 2011-03-16

Carice van Houten
Op 22 Maart is dit die première van die film Black Butterflies in die Tuschinski-teater in Amsterdam. Die lewensverhaal van die Suid-Afrikaanse digteres Ingrid Jonker word verbeeld deur Carice van Houten, 35 jaar oud. As die bekendste Nederlandse aktrise vertolk sy Ingrid Jonker. Abraham Jonker word vertolk deur Rutger Hauer. Die Ierse akteur Liam Cunningham speel die rol van Ingrid se groot liefde, Jack Cope. Beide die rolverdeling en die produksiespan is internasionaal: Frans van Gestel en Arnold Heslenfeld (IDTV Film), Richard Claus (Cool Beans en Comet Film, Duitsland), Arry Voorsmit (Riba Film) en Michael Auret (Spier Films, Suid-Afrika). Paula van der Oest is die regisseur.

Van Houten is suksesvol. Sy het vier keer ’n Goue Kalf vir die beste aktrise ontvang. Dit was vir die films Suzy Q (2000), Minoes (2001), Zwartboek (2006) en De gelukkige huisvrouw (2010). Minoes was die verfilming van die gelyknamige boek van Annie MG Schmidt. Zwartboek is uitgeroep tot die beste Nederlandse speelfilm van alle tye. Van Houten speel ook in die Engelse riller Dorothy Mills (2008). Haar deurbraak in Hollywood was met Valkyrie (2008) saam met Tom Cruise.

Hoe benader Van Houten die rol van Jonker? Vir haar was die rol ’n beproewing.

Aanvanklik het sy ’n sterk verwantskap met Jonker gevoel. Sy sê sy is self nie so ekstreem nie, maar sy herken Jonker se soektog na herkenning. As eerstejaar-studentjie was Van Houten soekend en radeloos. “Ik wilde maar vluchten, verliefd worden; ik was behoorlijk de weg kwijt” (NRC-Handelsblad, p 18, 10-03-2011). Dit was ook die dramatiese uitgangspunt van Van der Oest: Jonker se onuitstaanbare gedrag as slagoffer van haar pa se verwerping. Sy het met al haar liefdes die Freudiaanse spel van aantrekking en afstoting gespeel. Haar karakter word in die film uitgebeeld as moeilik beheerbaar, grillig, dwingend, destruktief, ’n kinderlike gees – maar ’n groot gees! Sy is ook die slagoffer van haar eie kunstenaarstemperament. Haar lewe word verfilm as gevul met drama, mislukte liefdes, abortus, alkoholisme en tragiek – ’n mooi en dorstige nimfomaan.

In die voorbereiding vir haar rol as Ingrid Jonker het Van Houten met dogter Simone gepraat. Van Houten het ook eers na die Nederlandse dokumentêre film Korreltjie niks is my dood (2004) van Saskia van Schaik gekyk. “Ik denk van tevoren lang na over een rol. Heb veel vragen, wil alles begrijpen. … Tegenover haar (Simone) voelde ik een grote verantwoordelijkheid. Ik hoop echt dat zij de film mooi geworden vindt.”

Sonder poësie in die film sou die filmmakers Jonker ’n onreg aangedoen het. Dan was die ondertone in die film te swart. Dis haar pragtige, lugtige poësie wat alles draaglik maak. Vandaar miskien die titel: Black Butterflies. Die film begin en eindig met aanhalings uit verskillende gedigte. Jonker se jongmeisie-kamermure is in die film vol met poësiereëls geskryf. Van Houten mymer poësie; skryf ingedagte reëls neer op ’n toegewasemde spieël.

Blykbaar het Suid-Afrika ’n rykdom aan verhale – tragiese lewensverhale van vroue as slagoffers, soos Sandra Laing in Skin (2009) en Saartjie Baartman in Black Venus (2011). Hulle word opgeraap vir die internasionale filmmark. Slagofferskap word telkens deur iets van buite af op hulle skouers gelê: Laing se velkleur in die apartheidsjare, Baartman se liggaamsbou as ’n wellustige honger na die eksotiese in die Westerse samelewing van ’n paar honderd jaar gelede, en Jonker se vrugtelose soeke na erkenning, wat by haar pa begin.

Maar waar is die films oor al die bebliksemde Boetmans en die trekarbeiders in die goudmyne? Of is hierdie films oor vroulike slagoffers juis ’n subtiele vingerwysing? Is Suid-Afrika so ’n sterk patriargale samelewing dat daarop gereageer moet word? En gaan hierdie samelewing hom tereg laat wys deur films en romans?

Ek is nuuskierig of Van Houten reg laat geskied aan die tragiese lewe van Ingrid Jonker en haar ryk nalatenskap aan die Afrikaanse poësie. Die film draai vanaf 31 Maart in die Nederlandse filmsale.