Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Elf en die sander


Johan Hattingh - 2011-03-16

Ons het vanaand van ons span se kant af by herhaling beklemtoon dat die konsepte van die self en die ander hoogs problematies is, en dat ons diep in die moeilikheid is die oomblik as ons dink ons weet wie is die self en wat is die ander. Soos kollega Paul Cilliers tereg aangetoon het, is die self te dig om in ’n paar woorde te kan voorstel, wat my laat dink dat ons eintlik moet skrik as ons besef wat alles ingemeng is in dit wat ons die self noem; en soos kollega Vasti Roodt uitgewys het, is die ander vir ons niks anders as ’n poort na die hel toe nie. Hou jy vir jou besig met die ander, speel jy eintlik met vuur. Hou jy vir jou besig met die self, sien jy vinnig letterlik jou gat. As ons hierdie twee perspektiewe bymekaarsit, kan ons sê: jy sien jou gat in die hel; of: die hel in jou gat.

Om hierdie lyn van radikale problematisering voort te sit wil ek u aandag vra vir twee figure wat in die tradisie van die filosofie in die vergetelheid verval het, en bekend staan as Elf en Die Sander – waar Die Sander met ’n hoofletter D en ’n hoofletter S gespel word. Ek wil u uitnooi om saam met my in ’n kort oorsig die aard en die omvang van Elf-heid en Die Sander-heid te verken – en dan die ontstellende kultuur-historiese betekenis van hierdie obskuriteit, hierdie afwesigheid in ons hedendaagse kultuur en bewussyn, so ’n bietjie uit te pak.

Vooraf moet ek egter ’n waarskuwing uitreik: die Elf waarvan ek praat, het niks te doen met die getal van 10 plus 1 nie, of met die elwe wat ons in die see vang, of die oulike kabouteragtige, trol-soortige figure van die onderwêreld wat ons in kinderverhale ken danksy Tolkien se The Lord of the Rings nie. Net so het Die Sander heeltemaal niks te make met die klein mannetjie wat sand in ons oë gooi om ons vaak te maak en in Afrikaans ook bekend is as Klaasvakie nie. In Engels word hy Willie Winky genoem, of The Sandman.

Of miskien oordryf ek nou en moet ek toegee dat hierdie oënskynlik onskuldige kinderfigure wat ons net so ’n klein bietjie laat gril en vir wie ons eintlik ’n ou drukkie sal wil gee as ons hulle net in die hande kan kry, of soos ’n roos of ’n klein hondjie in ’n lapel-sakkie op ons bors sou wou dra – hierdie figuurtjies gee vir ons tog ’n kykie in die realiteit wat Elf en Die Sander sê maar “eintlik” is, of kan word.

Goed bekyk laat die elwe van The Lord of the Rings vir ons iets sien van wriemelende onderaardse geeste wat in ’n toestand tussen lewe en dood, en tussen bewussyn en onderbewussyn, ons probeer oormeester en aftrek in die aarde in na ’n domein van ’n half-minerale, half-organiese, taamlik slymerige, haarlose, voorbiologiese bestaan. Tolkien se elwe is naamlik die geïdealiseerde goeie figuurtjies wat teenoor die hobbits en die orcs staan: die hobbits en orcs is die teenhangers van Elf-heid. Hobbits en Orcs het nie goeie bedoeling met ons nie: hulle folter en bekruip ons om ons onder te kry; en hulle kekkel en kraai oor elkeen wat hulle ten prooi val, en hulle sidder en sis oor elkeen wat genoeg weerstand kan bied en van hulle koue ontsnap.

Die punt van Tolkien se verhaal, lyk dit my, is die verskriklikheid van die Orc-agtige bestaan, die angs wat dit opwek, en die weerstand wat dit oproep, te kontrasteer met die Elf-bestaan. Die Orc-bestaan is presies dit wat ons nie wil hê nie; dit is die vuurspuwende draak wat ons liefs maar moet bedek en begrawe onder die grond moet hou; dit verteenwoordig die foltergeeste van die onderwêreld wat ons moet stil maak – so nie verloor ons alles wat menslik en goed en gaaf is. Die Orc-bestaan is dus die boosheid self in sy suiwerste vorm. En daarom kan ons die Orc-bestaan nie duld nie. Om as Elf te bestaan, in die helder lig van goedheid, moet ek die Orc doodmaak, onderdruk, begrawe.

Maar soos ons dit doen, kom die Orc weer in duisende vorme op uit die grond uit orals om ons, in die vorm van Elf: ’n tuinkaboutertjie hier, ’n groen sementpadda daar; in Liewe Heksie en Blommie op die radio; in Haas Das en Miffy; in Barney en Barbie en Ken; in Superman en Spider-Man en Batman; in Kevin Bacon, Steven Segal en Jackie Chang; in Lady Gaga, Johan Stemmet van Noot vir Noot, in Liefling, in André Rieu; in Casper de Vries en Nataniël; in kykNET, Supersport en eendagkrieket; in Desperate Housewives, Sex in the City en Dr House … In al hierdie verskynsels, in al hierdie Elwe, kry ons sulke oulike skatlike opwindende goetertjies, ons kan vrek oor hulle …

Maar die punt is dat ons nie die Orc en die hobbits in hierdie Elwe herken nie, want ons dink die Orc-bestaan is dood, begrawe, finish en klaar. Intussen staan ons met Elf hand om die nek, suig ons aan die spene van Elf soos honger klein wolwe, vry ons met Elf dat die sop so spat, begeer en lus ons vir net meer en meer en meer Elf, maar bring eintlik meer en meer en meer Orc in die wêreld in. Oor en oor en oor en weer en weer en weer.

Ek word sommer moeg as ek net daaraan dink.

Maar wat het nou geword van Die Sander? Die antwoord is eenvoudig en voor die hand liggend – maar ons sien dit nie maklik raak nie, miskien omdat dit te na aan ons is. Die Sander is gewoon die toestand van bestaan waarin ons tree as ons volledig Elf word, dit wil sê die Orc volledig inkarneer, maar dit nie besef nie, die Orc nie herken nie en ook nie erken nie. Die Sander as volledige Elf-heid is dus die toestand waarin ons bestaan as ons dink ons het Orc oorwin, dink ons het suksesvol weerstand gebied teen die aftrekking in die aarde in, dink ons het suksevol losgekom van die tussentoestand van die slymbestaan van die onderwêreld, terwyl ons presies as Elf volledig Orc in die wêreld is.

As Die Sander voer ons dus die bestaan van die tuinkabouter, die perfekte tuinkabouter; as Die Sander leef ons as Barbie en Ken, as Superman en Spider-Man, en ons weet by watter gholfbane ons woon, watter motorkarre ons ry en by watter plekke ons kuier ... terwyl die haarlose, donker ondergrond net onder die oppervlak sit van die kostuums en die maskers wat ons dra …

Klaasvakie herinner ons aan slaap, en The Sandman aan die dood. Dit is egter flou voorbodes van Die Sander wat ’n superbestaan behels in die toestand van überdood. Dit is ’n ligte, swewende bestaan anderkant die poorte van die dood in ’n kwasihemel van geluksaligheid, waarin daar geen pyn en ellende is nie en waar alles na poeier en geperkoleerde koffie ruik, en niemand ooit doodgaan nie.

U sien dus die punt: die klein komplikasie van bestaan as Die Sander is dat jy in die idealiteit van Elf steeds reeds, en in merg en been, Orc is – jy is die boosheid self met ’n dun suikerlagie oor. En sterf kan jy nie, want in die eerste plek leef jy nie.

Geliefde Elwe, ek het daarom niks anders om vir u te bring as Die Sander nie. Ek staan voor u as Die Sander, en ek wil hulde bring aan u wat ook as Die Sander vanaand hier is. In solidariteit kan ons mekaar salueer as Die Sander. So nie, moet ons terugkeer nie die vervelige lewe waarin ons praatjies maak oor die Self en die Ander, en dit weet ons, wil ons nie hê nie.

*

Dit was die einde van my hoofteks, maar hier volg nou ’n paar bedankings en ’n paar sinne wat ek ek doodgekrap het, maar wat my tog gehelp het om dit te skryf wat u so pas gehoor het:

Vir eeue lank het ons probeer om sowel vir Orc/Elf as Die Sander stelselmatig in ons onderbewussyn af te druk … Dit is nou die tyd om te besef ons kan dit nie waag om dit te doen nie …

Die tuinkabouters van ons onderbewussyn, die gesaniteerde weergawes van die foltergeeste van die hel, die giggelende wolftroppe van die oordaad-dood - ons laat hulle almal toe om lustig rond te trippel en te huppel agter die lemmetjiesdraadheinings van die kleuterskole, waar hulle ons kleuters se eerste indrukke help vorm van die groter wêreld as die huis en die agterplaas.

Die Sander en die Orc as Elf is juis in hulle afwesigheid in ons bewussyn, steeds teenwoordig aan ons in die sirkelgang van die voortdurend-herhalende prosesse van afkapping, migrasie en hegting.


U kan sien waarom dit nie die hoofteks gehaal het nie.

En nou vir die bedankings:

In ’n onlangse gesprek met die filosoof-skilder Gandries Ous het hy my herinner aan die bestaan van Die Sander en die ironies-kontrasterende verband waarin dit staan tot Elf.

Ek erken graag die filosoof Caul Pelliers as die bron van my verwysing na André Rieu as Elf, en ook vir Bervaas dan ver Serg wat my opnuut herinner het aan die belang van Klaasvakie en Elf in ons hedendaagse kultuur. Dankie ook aan Manja Talan vir ’n paar goeie idees oor Orcs en Hobbits.

Alles wentel natuurlik om die verskuiwing van die S – die sissende en krullende slang aan die voorkant van die self – na die voorkant van die ander …








<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<