Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Beter sonder ander?


Vasti Roodt - 2011-03-16

Eintlik wil ek nie graag hier wees nie, en julle wil my ook nie graag hier hê nie. Julle wil ook nie graag hier wees nie, en ek wil julle ook nie graag hier hê nie.

Maar hier sit julle en hier staan ek. As ons nie vanaand in mekaar se geselskap vasgevang was nie, was ons iewers anders, in die valstrik van ander mense se teenwoordigheid. Daar is geen uitkomkans nie: waar ek ook al gaan, sal daar altyd ander wees. Om ’n self te wees is om altyd met ander gepla te wees.

In sy bekende toneelstuk getiteld Geen uitkomkans” bied die filosoof Jean-Paul Sartre ons ’n meedoënlose blik op hierdie situasie. Die verhaal gaan so: Drie mense beland in die hel. Daar is geen vlamme of duiwel nie, net ’n anonieme hotelkamer sonder enige meubels, sonder spieëls waarin hulle hulself kan sien, en sonder enige privaatheid. Die deur word van buite gesluit. Hulle dink hulle is in ’n wagkamer van waar hulle uiteindelik in die hel ingelei sal word, wanneer hulle foltering sal begin.

Maar geleidelik kom hulle agter: hulle is klaar in die hel; hulle is mekaar se folteraars, tot in alle ewigheid. Hulle marteling het niks te doen met fisiese pyn nie, maar met die onverbiddelike feit dat hulle nooit van mekaar kan ontsnap nie.

Verbeel julle: die deure van hierdie teater klap toe, die ligte gaan aan, die tafels en stoele word weggepak, en al wat oorbly is ons, mekaar se ewige gevangenes. Die persoon wat nou langs jou sit, is dan nie meer jou geselskap net vir die aand nie, maar vir altyd. Die filosowe is nie hier om julle vir ’n uurtjie of twee te vermaak nie; hulle is hier om te bly.

In so ’n teater sonder ontsnaproete, en met oneindige tyd tot ons beskikking, wat is daar vir ons om te doen? Niks ... niks nie, behalwe om in mekaar se lewens rond te krap, om mekaar tot op die been toe oop te vlek, om die murg uit mekaar se pype te suig, om elke geheim op te diep, elke swakte bloot te lê – dag in en dag uit, sonder ophou, tot in alle ewigheid.

Dít, sou julle moes toegee, is inderdaad die hel. Sartre sê dit dan ook: die hel is ander mense. Julle is ander mense. Julle is my hel. En natuurlik is ek ook julle hel, en elkeen van julle is almal anders se hel.

Wat elkeen van ons se stukkie hel draaglik maak, is juis die wete dat ons van die ander af kan wegkom. Dit is nie vir my so erg om hier tussen julle te wees nie, omdat ek weet dat ek later vanaand nie meer tussen julle hoef te wees nie. Dit is omdat julle weet dat julle nie tot in alle ewigheid na my hoef te luister nie dat julle dit kan verduur om nog ’n rukkie na my te luister.

Dus, solank ek aan die ander kan ontsnap, kan ek dit nog met hulle uithou. Die vraag is nou: Waarheen ontsnap ek? Daar is net een moontlike antwoord hierop. In ’n wêreld oortrek met ander is die enigste nie-ander waarheen ek kan vlug ... myself. My self is die ander se ander, en daarom per definisie nie my ander nie. Ek is die enigste een wat nie soos die ander is nie, en dus is ek in staat om myself te waardeer soos niemand anders kan nie. In Whitney Houston se gevleuelde woorde: “Learning to love yourself/ Is the greatest love of all.”

Maar – laat ek nou maar eerlik wees – dit is nie aldag maklik om eers van myself te hou nie, wat nog te sê lief te hê. Om die waarheid te sê, dit gebeur gedurig dat ek vir myself moet sê: “Myself, jy is darem maar simpel. Kyk hoe staan jy daar, so vol van jouself, so belangrik in jou eie oë, so opgesmuk met jou eie opinies, so verwaand, so domastrant, so prekerig en skril en oorywerig en wat nog alles. En kyk hoe lyk jou hare, en hoekom werk jy nie harder nie, en kook jy nie beter nie, en bestuur jy nie versigtiger nie?”

Dag na dag moet ek met hierdie gesanik in my eie ore saamleef. Dit is glad nie lekker nie, sê ek julle. Eintlik is dit vreeslik. Dit is hel.

Wat nou gemaak? Waarheen vlug ek as ek dit nie meer met myself kan uithou nie? Ja, natuurlik: ek vlug na ander toe, sodat ek van myself kan vergeet. Maar presies hier lê die dilemma: ek is my eie uitvlug uit die hel van ander, en die ander is my uitvlug uit die hel van myself. Op die ou einde ontsnap ek dus altyd van hel na hel ... na hel.

Maar is dit dan nie die eintlike hel waaroor Sartre dit het nie? Die hel is nie bloot ander mense nie, en dit is ook nie bloot ek self nie. Dit is die hel van geen uitkomkans uit die hel nie. In hierdie hel woon ons almal tesame: ek en julle en die ander.

Die eintlike vraag is dus nie hoe ontsnap ons uit die hel nie – ons kán nie – maar: Hoe kan ons die hel vir onsself meer draaglik maak? Daar is dalk ’n manier om dit te doen. As elkeen van ons ernstig met onsself praat, kan ons onsself dalk daarvan oortuig om die hel ’n bietjie beter plek te maak vir ander, waardeur die hel vanself ’n beter plek word vir onsself.

Hoe presies doen ons dit? Ek stel voor dat ons mekaar ’n bietjie laat afkoel, mekaar ’n bietjie meer ruimte gee om in rond te beweeg en arms te swaai en asem te haal. Kom ons hou op om in mekaar se ore te neul, hou op om mekaar te hiet en gebied, hou op voorskryf, sanik, verfoei, uitkryt, teregwys, geringskat, afjak, onderkry, uitoorlê, verkwalik, verneder, voorspring, agterhaal, ondergrawe, beledig, belieg, beskinder, beswadder, beduiwel, beloer en bedinges.

Kom ons gun mekaar ’n bietjie koelte in die hel. Ek sal julle uitlos as julle belowe om my uit te los. Op daardie noot bly ek nou dadelik stil.

Dankie.








<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<