Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Die essensiële “ek”


Hannes Smit - 2011-03-16

Goeienaand dames en here

Ek hoor dat u dit sover geniet het om na die toesprake van my kollegas te luister. Ek is egter seker dat terwyl u daarna geluister het, baie van u nie anders kon doen as om te dink: “Dis alles goed en wel, maar wat ek eintlik wil weet is: Wat sal die Taalanalitiese filosofie sê oor hierdie kwessie?”. Ek wil u komplimenteer op sulke ingeligte denke en so ’n uitstekende vraag. Ek staan vanaand hier om hierdie vraag te beantwoord.

Vir dié van u wat nie weet wat die Taalanalitiese filosofie is nie, sal ek dit gou aan die hand van ’n analogie verduidelik. Ons kan, rofweg gesproke, filosowe indeel as Kontinentaal en Analities. In die Kontinentale filosofie kan ons onderskei tussen die tradisionele kontinentale filosowe en die postmodernisme. Nou dink so daaroor: Gestel dat die filosofie soos ’n reuse-berg is wat ons baie graag wil klim, maar wat ook baie gevaarlik is om te klim. Die tradisionele kontinentale filosowe is baie beïndruk deur die berg. Hulle is so beïndruk deur die wese van die berg dat hulle nie kan wag nie en dadelik begin hardloop na die voet van die berg toe. Daar gekom, probeer hulle met kale hande teen die hellings uithardloop. ’n Paar hardloop hulleself te pletter teen die voet van die berg, lê bebloed daar en dink: “Ai, dit was nou betekenisvol.” Ander kom ’n paar meter op, val weer terug, hardloop dan ’n paar meter op, val weer terug, hardloop dan weer ’n paar meter op, ens, tot hulle van uitputting inmekaarsak en dink: “Ai, dit was nou betekenisvol.”

Wat ons wel moet toegee, is dat die tradisionele kontinentale filosowe wat so op die berg sterf, wel gelukkig sterf. Die berg beteken ongelooflik baie vir hulle. Inderwaarheid, alles beteken baie vir hulle – selfs Dinsdae beteken baie vir hulle. Elke grashalm op die berg is ’n uitdrukking van Wees en elke aanskouing van ’n grashalm is ’n gebeurtenis van Wording.

Let natuurlik op dat ons praat van “Wees” en “Wording” met hoofletters. Dis dan ook hoe mens tradisionele kontinentale filosofie uitken: as jy ewe skeilik baie woorde sien wat nie eintlik met hoofletters gespel word nie wat skielik hoofletters het, maar dis nie sosiaal aanvaarbaar om die fout uit te wys nie, dan is dit tradisionele Kontinentale filosofie.

In teenstelling hiermee staan die postmodernisme. Hulle eerste reaksie as hulle die berg aanskou, is om weg te draai van die berg af en te ontken dat die berg enigiets meer as ’n sosiale konstruksie is. Hulle opper ook paranoïese gedagtes oor die magsrelasie tussen hulle en die persoon wat sê dat daar wel ’n berg is. Verder ontken hulle die belangrikheid van die berg en bergklim. Is die drang om die berg te klim nie maar net ’n patriargale fantasie van oorwinning nie? Hulle glo ook hulle het nie nodig om berg te klim nie, maar meen dat hulle alreeds hoog genoeg is. En ons moet wel toegee dat baie postmoderniste wel dalk ’n punt beet het as hulle sê dat hulle hoog is. Dis dan ook hoe ’n mens die postmodernisme uitken. As jy ’n boek lees en jy kan nie glo dat iemand wat so hoog was, nog steeds Microsoft Word kon gebruik nie, dan is dit die postmodernisme.

Dit bring ons by die taalanalitiese filosowe. Die analitiese filosowe het gekyk na wat die tradisionele kontinentale fiilosowe doen en besef dat ons dalk gereedskap nodig het as ons die berg wil klim. Dus het een – sy naam is Bertrand Russell – voorgestel dat ons dalk eers vir ons ’n paar toue en skoene en byle maak voor ons die berg probeer uitstorm. Die probleem wat opgeduik het, is dat ons nie met mekaar saamgestem het oor wanneer die tou lank genoeg is of wanneer die byl skerp genoeg is nie. Ons het wel besef dat hierdie toue en byle van groot waarde is wanneer ons onderling hierdie kwessie “bespreek”. En so het dit gebeur dat ons meestal hierdie “gereedskap” (party noem dit “wapens”) gebruik het om teen mekaar te draai en ’n bloedbad te veroorsaak soos nog nooit gesien in die geskiedenis van bergklim nie. Ter verdediging van die analitiese filosofie moet mens egter toegee dat ons nie hierdie geweld verheerlik of glansryk maak nie. Inderwaarheid, ons het bewys dat selfs ’n grusame akademiese bloedbad oninteressant en vervelig kan wees. Dis dan ook daaraan wat mens die analitiese filosofie kan uitken: as jy nie verstaan wat aangaan nie, maar jy stel ook glad nie belang daarin om uit te vind nie, dan is dit die analitiese filosofie.

Nou, in my analogie simboliseer die gereedskap van die analitiese filosowe ’n diepgaande verstaan van taal. Die oorspronklike uitgangsput van die analitiese filosofie was dat ons met die tradisionele vrae van filosofie vordering kan maak slegs indien ons die taal wat ons gebruik om oor hierdie vrae te dink, werklik verstaan. Nou, om eerlik te wees, vandag, meer as honderd jaar na ons begin het, is die resultate ietwat teleurstellend. In die vraag: “Wat is die ek?” het ons ’n bietjie vordering gemaak op die wat, baie vordering gemaak op die is (ons het vier betekenisse van is onderskei), maar is totaal gepootjie deur die die. Maar ons werk daaraan.

Ons het amper niks oor die ek nie, maar ons het darem wel iets oor die wóórd ek. Dis wat ek vanaand met julle gaan deel. Basies gaan ek ’n siening van die Amerikaanse filosoof John Perry oor die ek verdedig.

Een manier om dit op te som is om te sê: “Ek is nie Hannes Smit nie.” So dis my tese ter verdediging vanaand. Ek is nie Hannes Smit nie. My náám is wel Hannes Smit, maar Hannes Smit is nie ek nie.

Dit klink dalk paradoksaal, maar dink aan die volgende situasie. Gestel ek loop in die Spar met ’n mandjie vol kruideniersware. Na ’n tyd sien ek dat daar ’n lang streep suiker op die vloer loop. Ek besef dat iemand se suiker in hulle mandjie of trollie lek, en besluit om die persoon te waarsku. Ek besluit om die streep te volg ten einde die persoon te vind wie se suiker lek.

Met ander woorde, dis so ’n Hansie-en-Grietjie-tipe situasie. Julle kan daaraan dink as CSI: Philosophy.

So nou loop ek, maar vind dat die suikerstreep ’n kring vorm wat my weer bring na waar ek die streep die eerste keer gesien het. En dis dan wanneer ek besef dis ék wat die persoon is wie se suiker lek! Ek het juis in ’n sirkel gestap oor ek my eie suikerstreep gevolg het.

Nou, dink aan die inhoud van wat ek besef in so ’n oomblik as ek besef: “Dis ék wat die persoon is wat suiker lek.” Ons sê gewoonlik ’n term soos ek is ’n indeksikaal, met ander woorde dis ’n term wat na verskillende persone verwys, afhangend van wie dit gebruik. As ek sê “ek”, verwys dit na Hannes; as Anton sê “ek”, verwys dit na Anton; as Vasti sê “ek”, verwys dit na Vasti.

Maar om te weet dat ek ’n indeksikaal is, is nie genoeg nie. Ek as ék dit gebruik, verwys na Hannes, maar dit beteken nie Hannes nie. Sê nou maar toe ek in die supermark geloop het, dat iemand gesien het wat aangaan en vir my gesê het: “Dis Hannes se suiker.” Gestel ek het die persoon geglo. In so ’n geval het ek geglo: “Hannes is die persoon wat die suiker gemors het.” Die interessante, en uiters vreemde, probleem is dat as ek dit geglo het, ek nie noodwendig sou opgetree het nie. Daar is baie mense genaamd Hannes, en net om te weet “Hannes is die persoon wat die suiker gemors het”, sal my nie laat optree nie. (Met ander woorde dit sal nie veroorsaak dat ek skielik die mandjie net daar los en vinnig wegstap en maak asof ek niks van niks af weet nie.) Ek moet weet “ek is Hannes” of “Hannes is my naam”, maar die woord my is ook ’n indeksikaal en dus het dit presies dieselfde probleem as ek of ek self of myself.

Die probleem is dit: Wat besef ek as ek besef “Ek is Hannes”? Of “Ek het die suiker gemors”? Duidelik besef ek nie net “Hannes is Hannes” of “Hannes het die suiker gemors nie”. “Hannes is Hannes” is ’n blote toutologie, en “Hannes het die suiker gemors” sal my nie laat optree nie.

Hoe verstaan ons die woord ek? Die enigste ding wat ek kan sê is “Ek is ek”, of “Ek is myself”, of so iets, wat ons nie verder bring nie. Die probleem is dat die indeksikale ek net verduidelik kan word in terme van woorde wat maar eintlik net so indeksikaal is en presies dieselfde beteken.

Ons staan hier voor ’n misterie. Die misterie gaan nie net oor die substantiewe ek nie, maar selfs oor die wóórd ek. Ons gebruik dit elke dag en in al ons denke, maar niemand kan vir jou sê wat dit beteken nie. Dus, as dit kom by die vraag: “Wat is ek?”, is dit nie die antwoord wat primêr die probleem is nie. Ons weet nie eers wat die vraag beteken nie.

Dus: Ek is nie Hannes Smit nie. Hannes Smit is slegs my naam. Maar julle is natuurlik welkom om my steeds so aan te spreek.

Baie dankie.







<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<