Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Getroud met rugby: ’n onambisieuse tog onvertelde storie


André Crous - 2011-03-16

Untitled Document

Regisseur: Cobus Rossouw
Kamerawerk: Trevor Calverley
Rolverdeling: Izak Davel, Altus Theart
Looptyd: 115 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 11 Maart 2011

Getroud met rugby (met die ondertitel “Die onvertelde storie”) is gemaak sodat ons ’n goeie tyd kan hê, maar gelukkig herstel dit in ’n mate die naam van behoorlike Afrikaanse vermaak nadat Liefling verlede jaar ons intellek en ons sinne onsedelik aangerand het. Ongelukkig kan dit nog nie die stokkerige dialoog (en dikwels ook toneelspel) van die daaglikse sepies met rus laat en vorder tot ’n meer natuurlike uitbeelding van die werklikheid nie, maar dit is ’n prysenswaardige eerste stap.

Rugby is ’n sportsoort wat so diep in die Afrikanerkultuur gewortel is soos die NG Kerk en is al lank ’n erkende simbool van manlikheid binne hierdie kultuur. Dit behoort dus geen verrassing te wees dat rugby ook in die wêreld van die film ’n prominente indikator van sukses en manlikheid is nie.

Daar is twee hoofkarakters in die film: Reghart, met die snaakse naam (dis “Reg-hart”, eerder as “Ree-gart”), wat soos ’n probleemkind lyk omdat hy beheer verloor wanneer enigiemand hom ooit ’n “loser” noem, en Fafa, wat ’n vername vleuel vir ’n groot rugbyspan was voordat ’n tragedie in sy persoonlike lewe hom van al sy wilskrag beroof het.

En so sal Reghart en Fafa nou by mekaar uitkom om saam die hindernisse in hul lewens deur middel van rugby te oorkom en hopelik teen die einde van die film vir die Stryders op die veld uit te draf. Getroud met rugby doen dit nogal heel goed, ten spyte van ’n totale gebrek aan subtiliteit wanneer dit by die dialoog en die uitbeelding van sleuteloomblikke kom. Só, byvoorbeeld, sal hierdie oomblikke onderstreep word met gepaste musiek, verskeie nabyskote en gewigte stiltes wat ons laat besef: “Genade! Dis belangrik, dié!”

Gegewe die gewig van die interaksie tussen Reghart en Fafa sou ek verwag het dat die fokus sterker op hul verhouding is. Die sogenaamde bromance waarvan die koerante hier praat, is egter net wensdenkery. Dit is ’n tema wat ’n rugbyfilm verseker nog in die toekoms moet aanraak, maar hier is daar nie ’n spoor van sulke waaghalsigheid nie. Nee, die film bly ernstig, dalk soms heeltemal te ernstig, gefokus op die Maria-figuur wat Lize, die kindertuinonderwyseres, verteenwoordig en haar verlossingsrol in Reghart se lewe. In die ander storielyn is rugby die groot katalisator wat Fafa laat besef dat daar lewe is ná die verlies van ’n geliefde.



Die film is niks om voor skaam te wees nie en een van my gunstelingtonele was die oefenmontage wat net so goed saamgestel is (en met minder sentimentaliteit) as die een in Rocky. Die regie is oor die algemeen heel voldoende, maar die keuse om letterlik om te gaan met die syfer dertien was vir my lomp en onnodig. Die film bevat ook heeltemal te veel musiek, wat die erns van die film se inhoud dikwels ondermyn.

Aan die tegniese kant is klank soms ’n probleem en veral die spesiale klankeffekte is benede peil: Wanneer houe gegooi word, klink dit soos iets uit ’n videospeletjie, keer op keer dieselfde generiese vuishou, en ander klanke is weer so hard dat hulle herinner aan die berugte toneel in die film-in-’n-film in Singin’ in the Rain,waar die mikrofoon op die verkeerde plek geplaas word en ’n ligte tikkie op die skouer klink of iemand behoorlik gemoker word.

Reghart se weerstand teen die “loser”-bynaam is soortgelyk aan James Dean se karakter in Rebel Without a Cause, wat nie kan terugstaan indien hy “chicken” genoem word nie en dié detail, waarskynlik doelbewus by die 1955-film geleen, is goed gekies en bygewerk in die film se draaiboek, wat andersins maar spartel om mense geloofwaardig te laat klink.

’n Pluimpie gaan egter aan die akteur Izak Davel, wat, met sy vinger op Reghart se pols, kies om altyd eerder teruggetrokke as oorgretig te wees met sy spel. Reghart is ’n moeilike karakter om vas te pen en Davel kry dit reg om die fyn balans tussen rebelsheid en skugterheid te loop en ’n sekere kwetsbaarheid te laat deurskyn wat nie maklik is nie.

Net soos in Liefling sit ons hier met ’n film wat ons wil laat glo dat twee mense ná een of twee ontmoetings “net weet”, soos Fafa dit stel, dat hulle vir mekaar bedoel is. Goed, ’n mens glo dit soms, maar wanneer die Lize-karakter hier so vinnig vir Reghart begin sê dat sy lief is vir hom, en dit weer en weer herhaal, klink dit vir my darem te desperaat.

Rugby is al gebruik om die Afrikaner se plek in die huidige Suid-Afrikaanse samelewing uit te beeld, soos in die uitstekende 2002-kortfilm deur Rudi Steyn, Senter, en dit is meer onlangs gebruik om die gevoel van eenheid tydens die 1995-Wêreldbeker duidelik te maak in Invictus. Getroud met rugby het glad nie sulke hoë ambisies nie en wil net ’n storie vertel oor twee ouens wat persoonlike probleme het en dié probleme oorkom deur hul bes te doen om die manlike ding te doen en goed bal te speel.

En dis ook reg so. Ons het sulke films nodig, maar ek sal hoop dat toekomstige films oor hierdie onderwerp sommige temas ’n bietjie meer omvattend sal hanteer en veral sal fokus op die menslikheid van die uitbeelding eerder as die oorwerkte, beskrywende dialoog van die draaiboek.