Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Die ander kant


Servaas van der Berg - 2011-03-16

Ek lees nou die dag vir die eerste keer, op Hannes se aanbeveling, ’n deel van ’n sport-outobiografie en, tot my verbasing, geniet ek dit toe nogal. Dit het vir my duidelik gemaak dat daar eintlik nooit soveel rede was as wat ek gedink het om die saamgeflanste biografieë van politici of onlangse sport-ikone te vermy nie. Sien, my oorspronklike reaksie teen die genre het waarskynlik minder te doen gehad met die boeke se inhoud as met ’n irriterende neiging van hulle uitgewers om woordspelings of klaarblyklike “spitsvondighede” as boektitels te wil gebruik.

Onlangse voorbeelde van sulke titels is legio. Dink maar net aan To the point van Herschelle Gibbs, of Hitting back van Andy Murray; Opening Up van Michael Atherton. En dan’s daar nog die ergere klas van titels waarin die hoofkarakter se naam in die woordspeling voorkom, soos Totally Frank van Frank Lampard, of Scott Hastings se Great Scott, of, my gunsteling, Alan Ball se outobiografie: It’s all about a ball.

Teen hierdie soort agtergrond kon ek in my voorbereiding vir vanaand nie die idee afskud dat my bydrae, met ’n titel soos “Die ander kant”, eintlik ’n biografiese skets behoort wees van die geheime lewe van Immanuel Kant nie. Ongelukkig, soos die meeste filosowe weet, bestaan daar geen onderwerp so vervelig soos Kant se privaatlewe nie, miskien met die moontlike uitsondering van sy filosofie. Dis juis die rede, dink ek, hoekom voorgraadse filosofiestudente selde die geleentheid kan weerstaan om lesings en tutoriale oor Kant te probeer ophelder met woordspelings op sy naam. In my eie voorgraadse ervaring is die woordspeletjies ook nog verder aangevuur deur die feit dat die lesings oor Kant aangebied is deur ’n dosent met die van Dick.

*

Dit daar gelaat, waaroor ek eintlik wil praat is nie Immanuel Kant nie, maar die ander kant. Dat die ander kant iets belangriks is, of ten minste op ’n stadium belangrik was, is ’n gegewe wat duidelik neerslag vind in ons alledaagse taalgebruik. Ons taal is vol gesegdes soos “die ander kant van die muntstuk” en “die gras is altyd groener aan die ander kant”. Aan die een kant vind ons dit soms belangrik om te “weet aan watter kant ons staan”, maar aan die ander kant is dit ook nie altyd goed is om “kant te kies” nie.

Daar is ’n goeie rede vir al hierdie verskuilde verwysings na die ander kant in ons gesegdes en idiome. Een van die oudste en mees invloedryke idees in die geskiedenis is naamlik dat daar iewers, anderkant hierdie kant, ’n ander kant moet wees. Hierdie idee het sy oorsprong eintlik reeds lank voor die ontstaan van die filosofie in van die mees primitiewe godsdienste. Dit vind byvoorbeeld heel letterlik uitbeelding in die Griekse mite van Kharon, wat met sy veerboot die gestorwe siele aan die ander kant van die rivier Styx besorg. Vandag nog is daar eggo’s van die idee van so ’n nadoodse ander kant, nie net in godsdienstige kontekste nie, maar ook in popkultuur-weergawes van spiritisme. Ek onthou, net ’n jaar of twee gelede was daar nog ’n weeklikse uitsending op SABC3 van Crossing over with John Edwards, waarop Edwards met groot fanfare van sy “gawe” gebruik maak om oënskynlik met gehoorlede se geliefdes aan die ander kant kontak te maak.

Maar in die filosofie lyk die idee van die ander kant ietwat anders. Deur die eeue het dit al verskeie rolle aangeneem in hoogs uiteenlopende denkers se teorieë. Dit was Plato wat dit eerste in die filosofie ingevoer het, met sy teorie dat daar twee wêrelde moet wees: een aan hiérdie kant – die onvolmaakte, vervlietende skynwêreld waarin ons liggame vasgevang is; en een aan die ánder kant – die Ryk van perfekte, ewige en onveranderlike Vorme of Idees, waartoe ons denke toegang het en waarvan hiérdie kant slegs ’n tweederangse namaaksel is.

Die politieke filosofie het die idee van ’n ander kant ook weer anders ingekleur. Vir John Locke is die ander kant ’n prehistoriese natuurtoestand anderkant die wette en orde van die samelewing. In die natuurtoestand het die mens volmaakte vryheid waarvan hy slegs deur die sosiale kontrak te onderteken afstand doen, ter wille van die beskerming van sy belange deur die samelewing.

Ook Immanuel Kant het ’n filosofie van die ander kant. Hy noem sy ander kant die “noumena” – die wêreld soos dit in sigself bestaan, onaangetas deur ons ervaring daarvan; onafhanklik en anderkant die strukture wat ons waarneming daarop afdruk. Om dit eenvoudig te stel – daar is ’n wêreld soos dit bestaan voor ons nog begin het om dit waar te neem; maar ons is vasgevang aan hiérdie kant – in die wêreld soos dit in ons ervaring verskyn.

Regdeur die geskiedenis was die ander kant nog altyd die kant waarin ons die sin of betekenis van die lewe, of die werklikheid, of van die samelewing, ensovoorts, kon begrond. Maar sedert die begin van die 20ste eeu het daar ’n wending gekom in ons denke oor die ander kant. Friedrich Nietzsche se filosofie word sterk geassosieer met hierdie wending. Maar wat my betref word ons hedendaagse houding ten opsigte van die ander kant nog beter uitgedruk in die immergroen wysheid van ’n onlangse en veel belangriker filosofiese figuur, Sebastian die krap in The Little Mermaid:

The seaweed is always greener
in somebody else’s lane
you dream about going up there,
but that is a big mistake.

Hier vind ons die kern van die saak: die appèl om ’n einde te maak aan ons pogings om die sin van dinge te soek aan die ander kant. Hierin, wil ek aanvoer, lê ook die grootste deurbraak van die 20ste-eeuse filosofie. As ons na Sebastian en Nietzsche luister, kan ons wegdoen met die oorbodige idee van ’n ánder kant, wat beteken dat hiérdie kant soveel interessanter word. Sonder die ánder kant is dinge eenvoudiger en dra ons ligter aan die werklikheid.

Hierdie beweging toon ’n daadwerklike progressie. Om van die ander kant ontslae te raak is veel meer ekonomies; sonder die ander kant is filosofie ’n veel meer vaartbelynde aktiwiteit. Daarom wil ek voorstel dat ons van vanaand af die progressie tot sy einde deurvoer: gegewe die talryke voordele wat dit vir die 20ste-eeuse filosofie ingehou het om van die ander kant ontslae te raak, wil ek voorstel dat ons dieselfde doen met hierdie kant.

Laat ons wegdoen met hierdie kant ook, want die sin van die lewe – daardie mees ontwykende eindbestemming van die filosofie – vind ons nóg aan die ander kant, nóg aan hierdie kant. Die enigste manier om die sin van die lewe te vind is om dit heeltemal on-kant te betrap.








<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<