Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Sê nou daar ís geen ander nie?


Anton van Niekerk - 2011-03-16

Ek wil met julle iets deel wat my van kleins af agtervolg. Ek weet nie regtig of dit ’n fobie of ’n fantasie is nie. Dit betrap my nou nog soms, tydig en ontydig – in my bed, in die badkamer, as ek voor ’n klas staan, as ek my skoene skoonmaak, wanneer ek by vriende kuier, wanneer ’n verkeersman my van die pad af trek, wanneer ek rugby kyk, ja, selfs wanneer ek die koerant lees: dis die moontlikheid dat ek alleen in die wêreld is. Veral dat ander mense, wat so ’n oorweldigende teenwoordigheid in my wêreld is, besig is om my oor alles wat hulle skynbaar in my gesigsveld doen en is, te mislei, my aan die neus rond te lei, te bullshit.

My fobie of fantasie is nog erger as dié van Truman. Wie van julle onthou nog Peter Weir se 1998 film The Truman Show, gebaseer op ’n wetenskapsfiksieroman deur Andrew Niccol, waarin Jim Carey die rol van Truman Burbank speel? Truman is ’n versekeringsagent wat ’n op die oog af onopvallende lewe lei. Dit word vir die kykers na die film spoedig duidelik wat Truman self eers stadigaan in die film begin ontdek, naamlik dat sy totale lewe soos die Engelse sou sê vir hom “gestage” word. Truman se lewe is, sonder dat hy dit besef, in werklikheid ’n gekonstrueerde realiteitstelevisieprogram, afgeneem deur honderde verskuilde kameras, geredigeer deur produksieleier Christof (in die film gespeel deur Ed Harris), en daagliks dopgehou deur miljarde mense die wêreld oor. Alle mense met wie Truman te make kry – insluitende die vrou op wie hy verlief raak – is akteurs, mense wat rolle speel om beslag te gee aan Truman se kleinburgerlike bestaan. ’n Kunsmatige leefruimte met die naam van Seahaven, grootliks omring deur die see, word geskep waarin Truman lewe. Christof het ’n plot bedink in terme waarvan Truman se pa sterf terwyl hy gaan visvang het, en dit veroorsaak dan ’n vrees by Truman vir water – ’n vrees wat hom daarvan weerhou om die wêreld wyer as Seahaven te gaan verken.

In die 30ste jaar van The Truman Show (die program het begin met Truman se geboorte) begin Truman egter dinge ontdek wat nie heeltemal klop nie:’n skerp lig van die kunsmatige konstellasies in die nagtelike ruimte bokant Seahaven, ’n gesprek van werkers op die Truman Show-stel wat hy toevallig opvang oor sy motorradio, en die herverskyning van sy vermeende afgestorwe vader, nou in ’n ander rol. Die groot krisis ontstaan wanneer hy besluit dat hy op ’n ander plek in die wêreld wil gaan vakansie hou; Christof, die regisseur, moet dan inderhaas reël dat hy geen vlugbesprekings kan kry nie, dat verkeersknope ontstaan as hy sou wou ry, asook veldbrande en ’n skynbare kernkrag-ongeluk – alles om hom te laat afsien van die idee om Seahaven te verlaat. Maar uiteindelik, in ’n dramatiese ontknoping wat ek nie nou tyd het om te vertel nie, ontdek Truman wel die ontgogelende waarheid oor hoe hy vir 30 jaar vir die gek gehou is, en dan tot ander mense se daaglikse, opwindende vermaak.

Die film was vir my ’n ongelooflike ervaring, want vir die eerste keer het ek ontdek dat ’n fobie of vrees waarmee ek sedert my kinderdae leef, regtig ook deur ander ervaar word en dat die idee selfs ontstaan het om daarmee te eksperimenteer. Dat ander mense ook met sulke idees speel, is verder versterk toe ek The Matrix die eerste keer gesien het. In laasgenoemde film is wat in die wêreld gebeur, natuurlik niks anders nie as ’n gekonstrueerde rekenaarprogram – ’n program wat telkens en opnuut geherprogrammeer kan word en ons wêreldse ervaring daarom voortdurend kan hersien en aanpas.

My fobie was natuurlik baie eenvoudiger as Truman s’n; as ’n kind het ek niks geweet van televisie nie, laar staan nog realiteitstelevisie. My eerste ervaring van TV was toe die manne van Eendrag op ’n goeie dag in 1976 voor die nuut-aangekoopte TV-stel vergader het om Haas Das se Nuuskas te kyk. My vrees was egter grootliks dieselfde: die mense met wie ek te make kry in die wêreld, is almal besig met ’n fasade teenoor my. Hulle is nie regtig nie. Hulle speel almal rolle ter wille van my. Wanneer hulle in my gesigsveld verskyn, is hulle my ma of pa of vriende of onderwysers of spanmaats of opponente, maar die oomblik wanneer die gevaar verdwyn dat hulle my gesigsveld betree, word hulle totaal ander mense. Hulle lag vir my, of hulle byt op hulle tande omdat hulle rolle moet bly speel om my ’n rat voor die oë te bly draai. Hulle leef in ’n totaal ander wêreld as myne – miskien ’n wêreld waarin daar nie universiteite is nie omdat hulle nie nodig is nie en almal in elk geval alles weet wat daar te wete is, of ’n wêreld waarin niemand hoef te praat of te skryf nie, omdat hulle almal mekaar se gedagtes kan lees. Miskien is dit ’n wêreld soos die een wat die kerkvader Irenaeus probeer visualiseer het in sy denkeksperiment van die sogenaamde teenfeitelike hipotese: ’n wêreld waarin daar geen moontlikheid bestaan dat mense kan seerkry of pyn of lyding kan ervaar nie. In so ’n wêreld, sê een skrywer,

the murderer's knife would turn to paper or the bullets to thin air; the bank safe, robbed of a million dollars, would miraculously become filled with another million dollars; fraud, deceit, conspiracy and treason would somehow leave the fabric of society undamaged. No one would ever be injured by accident: the mountain climber, steeplejack or playing child falling from a height would float unharmed to the ground; the reckless driver would never meet with disaster. There would be no need to work, since no harm could result from avoiding work; there would be no call to be concerned for others in time of need or danger, for in such a world there would be no real needs or dangers.

John Hick skryf oor so ’n moontlike wêreld:

In eliminating the problems and hardships of an objective environment with its own laws, life would become like a dream in which, delightfully but aimlessly, we would float and drift at ease.

Wie sê dat mense, die oomblik wanneer hulle uit my gesigsveld verdwyn, nie dalk in so ’n wêreld – ’n wêreld waarvan ek niks kan verstaan nie – leef nie? Wie sê die ander en alles wat die ander skynbaar in hul verskyning aan my beliggaam, is nie een groot kosmiese komplot om my deurentyd vir die gek te hou nie?

Namate my puberteit nader gekom het, het die fobie natuurlik soms ontwikkel in ’n fantasie. Dan het ek my verbeel dat almal met wie ek te make kry hulle klere afgooi as hulle van my radarskerm verdwyn. My suspisie is vererger elke keer as ek merk dat iemand wat in my geselskap kom, ’n knoop vasmaak of ’n skoenveter knoop. Dit het harde inspanning geverg om dan te bly konsentreer op diegene – darem almal van die vroulike geslag – wat ek so probeer sien het. Die gedagte aan sommige ander wat in my afwesigheid nie ’n draad klere aan het nie, was genoeg om in daardie jare, soos ’n studentekennis van my dit ’n keer opgesom het, “my gedagtes vir sewe minute lank van seks weg te vat”. Vandag verg dit nogal heelwat om my gedagtes weer vir sewe minute lank by seks terug te kry!

Soms was die hallusinasie radikaal. Op daardie tye het ek ’n ding geword wat ek baie jare later eers ’n woord voor sou vind, en wel in die eerstejaar-filosofieklas, naamlik ’n solipsis. Ek weet wat dit beteken om ’n solipsis te wees – en nie net omdat ek prof Kirsten se glossarium van filosofiese terme agteraan sy eerstejaaraantekeninge instudeer het nie. Ek weet wat ’n solipsis is omdat ek in hierdie fobietoestande self ’n egte solipsis was: iemand wat dink hy is alleen in die wêreld. Alle ander selwe is bedrog. Daar is net die wêreld waarin ek leef. Die ganse wêreld is opgemaak deur en vanuit my eie, selfgeproduseerde voorstellings en idees. Ek mag die indruk kry dat ek nuwe ervaringe het en nuwe dinge leer, maar dis alles die effek van my selfproduserende verbeelding. Daar is ék, en daar is niks meer nie.

Om die waarheid te sê, hoe weet ek julle almal doen nie dalk mee aan die komplot nie? Hoe weet ek julle het nie almal vanaand hierheen gekom bloot om my onder die indruk te kry dat die Filosofiekafee, waaraan ek die afgelope agt jaar soos ’n fool deelneem, ’n werklike item op die Woordfeesprogram is nie? Hoekom het dit netnou tog vir my gelyk of daar van julle is wat skoene aantrek en knope vasmaak?

Die enigste troos wat my fantasie meebring, is die gedagte dat ’n paar van die karakters wat ’n mens se lewe normaalweg so vergal, dalk almal fiksie is. As ’n mens daaraan dink: miskien is die beste manier om die ongemaklikhede van die nuwe Suid-Afrika te bestuur niks anders nie as om aan Julius Malema en Blade Nzimande en Jimmy Manyi te begin dink as spoke wat geskep is om my bloeddruk van tyd tot tyd op te jaag, maar nie werklike mense met idees en optredes is wat regtig saak maak nie. Dat die ander ’n fiksie van my verbeelding is, is glad nie altyd so ’n onaanvaarbare idee nie.

Ek dink darem nie meer so nie. Die ander bly hom – en haarself darem net te knaend en te volhardend aan my opdring. Ek het al te veel op ’n onopsigtelike wyse plekke betree waar dit darem moeilik was om my voor te stel dat die skynbaar niksvermoedendes onmiddellik hul rolle sal begin speel en hul klere sal aankry terwyl hulle nie kon weet dat ek in aantog was nie.

Aan die begin het ek gesê dat ek nie weet of my ervaring ’n fobie of ’n fantasie is nie. Vandag dink ek wel dis ’n fobie – ’n vrees. Ek is nie gemaak om alleen in die wêreld te wees nie. Die ander is immers ’n onomkeerbare voorwaarde vir alles waarvan ek weet in die wêreld. Ek kyk na die wêreld deur oë wat aangepas is by die afmetings wat nie net vir my nie, maar vir ander mense sin maak. Niks wat ek op hierdie oomblik, of meesal in my lewe van elke dag, sien of van weet, is suiwer natuur nie; dis alles omvormde natuur of kultuur, ’n terugspieëling van die menslike gelaat wat sigself so op alles rondom ons afdruk dat ons, soos Marx gesê het, onsself verdubbel sien in ons wêreld. My vertroudheid met die wêreld is ’n vertroudheid met en op basis van die taal. En taal is nie my skepping nie, maar ’n skepping van die ander. My vertroudheid met alles wat is, is slegs en uitsluitlik moontlik vanweë my vertroudheid met ander.

Dit sou net wel nogal vermaaklik wees om ’n paar van hierdie ander sonder klere te sien …






<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<