Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Blue Valentine bied uitstekende dialoog en toneelspel


André Crous - 2011-03-15

Regisseur: Derek Cianfrance
Kamerawerk: Andrij Parekh
Rolverdeling: Michelle Williams, Ryan Gosling
Looptyd: 110 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 18 Maart 2011

“How do you trust your feelings, when they can just disappear like that?” vra die jong Cindy, pas uit die skool, haar ouma. Haar ouma gee die wyse raad dat ’n mens dit maar net moet toelaat om te gebeur, anders sal jy nie weet of jy moes nie.

Blue Valentine, ’n film waarvan die titel dit baie duidelik maak jy nie juis iets opbeurends uit die storielyn kan verwag nie, bied ons die sonskyn van die verlede en die donker, koue nagte van die hede in ’n jong paartjie se verhouding. Die draaiboek, geskryf deur Joey Curtis, Cami Delavigne en regisseur Derek Cianfrance, moet geloof word vir ’n baie geloofwaardige aanbieding van bedorwe kommunikasie tussen Dean (Ryan Gosling) en Cindy (Michelle Williams), twee individue wat lief was vir mekaar, maar wie se liefde oor die jare verdwyn het sodat hulle op ’n punt staan waar hulle nie meer mekaar se taal praat nie.

Die spanning lei na gevegte met en sonder woorde, en tonele van duidelike verwerping deur middel van ongebalanseerde reaksies. Maar, ten spyte van ’n gebrek aan sterk ontwikkeling in die storielyn, probeer die film glad nie die ingewikkeldheid van die saak vereenvoudig nie. Hierdie is twee mense wat in huise sonder liefde grootgeword het en onder moeilike omstandighede getrou het en hulle haal dikwels die frustrasie wat hulle met hul eie lewens het, op mekaar uit.

Daar is dinge waaroor hulle al lankal swyg, omdat hulle nie die situasie wil vererger nie, of omdat hulle eenvoudig nie met mekaar wil praat nie, maar wanneer die emosionele konflik wel tot uitbarsting kom, dan borrel ’n giftige swerm woorde op wat nie teruggeneem kan word nie en in die proses skree albei partye verby mekaar. Hierdie oomblikke is ongemaklik om te aanskou omdat die krag van die tonele se realisme so sterk is en nie deur enige bykomende kamerawerk of musiek ondersteun hoef te word nie.



Die tonele in die hede speel ook in baie hartseer plekke af, waarvan die ergste heel moontlik die stuk in die middel is by ’n goedkoop hotel waar Dean die nag saam met Cindy wil spandeer om haar uit die groef te kry waarin hulle albei verval het. Die blou neonlig van die plek, sonder vensters, is verstikkend en bevorder op geen manier die idee van romanse nie. Hou in gedagte dat hierdie toneel kom ná ’n aantal gevegte in die kar op pad na die hotel toe, en voordat hulle die hotel die volgende dag verlaat, sal daar nog moeilike oomblikke wees.

Die aanvanklike verliefdheid van die twee jongmense, duidelik in die vlugtige blikke op die verlede, is hartseer om te aanskou wanneer die toksiese hede langsaan geplaas word. Hoewel die redes nie met duidelikheid gestel word nie, kan ons raai wat hulle is deur na die aksies van die naïewe jongmense in die verlede te kyk.



Films wat na die begin en die einde van verhoudings kyk, soortgelyk aan Closer, het sekerlik hul interessante sy en impliseer dat hierdie twee kante die opwindendste tye in die verhouding is, maar mis uiteindelik die groter prentjie en ons sukkel om presies te kan uitwys wat verkeerd geloop het en hoe dinge so lelik skeef geloop het.

Die lewe werk nie noodwendig uit soos jy dit sou wou hê nie en hierdie film wys op watter vreeslike emosionele gevolge ’n impulsiewe besluit kan uitloop, en die soort frustrasies wat ’n gebrek aan kommunikasie kan veroorsaak. Die twee mense in ’n paartjie kan by mekaar verby begin lewe en die kind wat hulle saam het, word nie bevoordeel deur ’n omgewing waar sy of haar ouers voortdurend op mekaar skreeu nie. Een positiewe aspek van die film is dalk dat ons nie sien wat jare later van Frankie, hul dogtertjie, word nie.

Dit is nie ’n maklike film om te kyk nie, maar baie kykers sal moeilike stukke uit hul eie verhoudings herken, en die twee hoofakteurs se dialoog sowel as die toneelspel is uitsonderlik. Die film se redigering is by tye ’n bietjie selfbewus en wil ons aan ’n lyntjie hou net mooi wanneer ons eerder ’n antwoord wil hê, maar uiteindelik werk alles goed saam om tóg ’n outentieke indruk te skep van die karakters se wêrelde en die besluite wat hulle geneem het.