Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Skryfsake | Writing matters > Afrikaans

Nuwe skrywersorganisasie onder bespreking


Marga Collings - 2011-03-14

Ongeveer dertig skrywers, resensente, akademici en uitgewers het op Saterdag 12 Maart by Protea Boekhuis in Stellenbosch byeengekom om die stigting van ’n nuwe organisasie wat ten doel het om die belange van skrywers en boeke te bevorder, te bespreek.

Die behoefte aan ’n liggaam wat die belange van boeke en skrywers verteenwoordig en as spreekbuis vir die boekgemeenskap optree, is geïdentifiseer na aanleiding van die onlangse heftige debat op veral LitNet en Versindaba oor Media24 se besluit om die boekeblaaie van die drie Afrikaanse dagblaaie te sentraliseer.

 Die digter Louis Esterhuizen het die vergadering op versoek van die teenwoordiges gelei. Van die vrae wat druk bespreek is, het ingesluit die doel van die organisasie, watter taalgemeenskappe ingesluit word, affiliasie, die aard van die organisasie en wie daardeur verteenwoordig word.

Tydens die bespreking van die oogmerke van die organisasie het Breyten Breytenbach daarvoor gepleit dat daar uit skrywersgeledere ’n betrokkenheid by die wyer gemeenskap moet wees, en vir moontlike samewerking met ander organisasies oor maatskaplike kwessies. Hy het ook die moontlike stigting van ’n ontwikkelingsfonds ten bate van die letterkunde en skrywers voorgestel.

Engemi Ferreira en Danie Marais se voorstel dat die organisasie voorlopig fokus op Afrikaans, maar oop is vir die insluiting van ander taalgroepe, is aanvaar. Daar is ook besluit dat die organisasie in belang van die wyer boekgemeenskap sal optree en dus nie net skrywers sal insluit nie, maar ook resensente, akademici, uitgewers en leeskringe.

Kerneels Breytenbach het daarop gewys dat een van die belangrikste kwessies wat skrywers raak, dié van voorskrywing op skool is, en die bedreiging dat minder verdienstelike tekste (wat geredelik beskikbaar is) in staatsgepubliseerde skoolboeke gebruik word ten koste van tekste met meer literêre meriete, of dat kopiereg geïgnoreer of omseil word wanneer sulke publikasies uitgegee word. ’n Skrywersvereniging sal ’n uiters belangrike bondgenoot vir uitgewers wees wanneer daar kollektief met die onderwysowerhede oor sulke sake onderhandel moet word.

Verdere kwessies wat geïdentifiseer is, sluit in die moontlike affiliasie aan bestaande organisasies en wat die aard van die organisasie sal wees, dws of dit ’n belangegroep of ’n vakbond sal wees.

’n Loodskomitee wat die sake onder bespreking verder sal ondersoek en daaroor verslag sal lewer, is verkies en bestaan uit Breyten Breytenbach, Kerneels Breytenbach, Danie Marais, Andries Bezuidenhout, Marga Collings, Amanda Lourens en Desmond Painter. Vyf ander persone wat nie by die vergadering teenwoordig was nie, is ook genomineer en sal genader word om deel van die komitee te vorm.

Die notule van die vergadering sal onder teenwoordiges gesirkuleer word en moet bekragtig word, waarna die loodskomitee voorstelle sal maak oor die aangeleenthede wat tydens die vergadering geïdentifiseer is. Die notule sal ook eersdaags op Versindaba en LitNet beskikbaar wees.

* Media24 se besluit om een boekeredakteur aan te stel, kom daarop neer dat in plaas van drie verskillende boekeblaaie vir Die Burger, Volksblad en Beeld, daar voortaan een boekeblad sal wees wat in al drie koerante geplaas gaan word. In plaas van drie moontlike verskillende resensies, mag daar in die toekoms dus slegs een resensie van nuwe titels in die Afrikaanse dagblaaie verskyn. Skrywers is gekant teen die nuwe bestel, aangesien die risiko bestaan dat ’n enkele resensie ’n boek kan maak of breek, en die gebrek aan ander resensies wat as korrektief of aanvullende bespreking kan dien, die literêre gesprek sal verskraal. Verdere protes teen die aanstelling van een boekeredakteur is nie tydens die vergadering bespreek nie – dit is as ’n fait accompli beskou – en die fokus was op die oogmerke en aard van die nuwe organisasie.