Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Skryfsake | Writing matters > Afrikaans

Afrikaanse skrywersvergadering: ’n mondstuk vir skrywers


Francis Galloway - 2011-03-14

Francis Galloway lewer verslag oor die skrywersvergadering gehou op 12 Maart 2011, Protea Boekwinkel, Stellenbosch.

Media24 se advertensie vir die pos van ’n Nasionale Boekeredakteur, en die ontstelde reaksie wat dit by skrywers en ander betrokkenes by die Afrikaanse boek uitgelok het, het aanleiding gegee tot hierdie gesprek oor die moontlikheid van ’n organisasie wat as kampvegter vir skrywers en hulle belange kan optree.

Die groepie belangstellendes wat vir die vergadering opgedaag het, het dalk minder as die verwagte beduidende getal gepubliseerde skrywers (wat by die Woordfees betrokke was) gelok. Maar die gesprek was lewendig en goed gestruktureer deur Louis Esterhuizen wat as voorsitter opgetree het.

Daar was konsensus daaroor dat daar ’n behoefte bestaan aan ’n organisasie wat as mondstuk vir skrywers kan funksioneer. Oor die haalbaarheid daarvan (wat onder andere infrastruktuur en befondsing insluit) is verskillende moontlikhede geopper, soos aansluiting al dan nie by bestaande inisiatiewe en instellings. Die oorwegende gevoel was dat ’n nuwe organisasie onafhanklik moet wees van instellings met ideologiese bagasie en ook van korporatiewe (uitgewery-) fondse.

Die oorwegende gevoel was dat die nuwe liggaam onbeskaamd op Afrikaanse belange moet fokus, maar wyd moet affilieer. Daar was ingeligte insette oor die aard van die beplande liggaam en die oorwegende gevoel van die vergadering was dat die roete van ’n vakbond (of aansluiting by ’n bestaande vakbond) nie op hierdie stadium haalbaar of wenslik is nie. Die liggaam moet egter morele statuur nastreef en as drukgroep vir die Afrikaanse skrywer kan optree.

Wat lidmaatskap betref, is besluit dat die belange van die Afrikaanse boek (en nie net skrywersbelange nie) gedien moet word en dat lidmaatskap dus so inklusief moontlik moet wees. In praktiese terme beteken dit dat opponerende belange bestuur sal moet word.

’n Loodskomitee is verkies om aandag te gee aan die skakeling met belanghebbendes in die ander provinsies en aan voorstelle ten opsigte van die voorsiene werksaamhede van die te stigte liggaam.