Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Dit klink die beste, lyk die beste, maar ...


Leon-Ben Lamprecht - 2011-03-10

Bulletin  
Ryno Velvet

Klik hier om die CD op Kalahari.net te bestel.



Sonder twyfel: uit die drie albums wat Ryno Velvet al vrygestel het, klink sy jongste, Bulletin, die beste. Die vervaardiging, behartig deur Neil Basson en Velvet self, is puik. So ook die kitaarwerk deur Velvet, Basson en nog ’n Basson – die ene ’n Laubscher (ja, hy van onder meer Zinkplaat).

Sonder twyfel, dan ook, lyk dit die beste van sy drie albums. Die ontwerp, deur Gillian Coetzee, is skoon en netjies; dit voel of die blaaie asemhaal en dis op pragtige papier gedruk wat nie vingermerke sal los nie. Mens kan Velvet selfs amper die spelfoute wat hy in die lirieke in die boekie maak, vergeef (“geluidelik” ipv “geleidelik”; of “nalatighuid” ipv “nalatigheid”, byvoorbeeld).

Maar daar’s omtrent altyd ’n maar. Ja, ook hier. Wat is dit? Wel, ek is bly jy vra.

Die album is net 9 snitte lank, en net ’n raps langer as ’n halfuur. Dis egter nogals ’n hoë-impak-halfuur: dis meestal lekker gatskop-rock, maar hier is ook ’n snit wat nie ontuis sal klink op ’n Bed on Bricks-gig nie en die gebruiklike stadiger nommer.

Dit skop sommer woes af, met “Amsterdam” en sy wilde rifs en Jean Odendaal wat die dromme slaan asof hy Ali is en hulle George Foreman en die studio in die ou Zaïre.

“Holga”, trekklavier-intro ten spyt, gee ook nie bes nie: dis onbeskaamd kitaargedrewe rock. Wat die trekklavier wel doen, is om balans te bring met die kitaarklanke en Velvet se rasper-stem.

Dis ook hier waar jy opnuut besef hoe dié lat die vermoë het om ’n oorwurm te skryf – en hy hou nie op vir die res van die album nie. Dis nie oorwurm in die sin van, sê, Dallas se temalied nie. Jy gaan dit wel neurie, ja, maar dit gaan nie vir jou en die mense om jou irriteer nie (dis natuurlik nou mits jy dit nie vir dae aaneen doen nie).

In “Heel waarskynlik” kom kuier die trekklavier weer. Dis amper ’n ballade waarin Velvet besin oor verantwoordelikheid: “Ek gaan vinnig agterkom/ heel waarskynlik is ek dom en verkeerd.” (Dis terloops ’n tema wat ook voorkom in “Holga”: “Vir die eerste keer noem ek hierdie fokkop myne”.)

“Reën”, die volgende snit, is weer baie vinniger met punkerige ondertone – dit wil-wil my herinner aan Fokofpolisiekar se Lugsteuring-fase.

Met “Rede om te baklei” eindig Velvet die album af soos hy hom begin het – hard, woes en wild. Die rock-krane word wyd oopgedraai – die kitaarwater spat teen die vloer en teen jou skene op.

En daai “maar” waarvan ek gepraat het? Wel, dit sentreer basies om twee goed: eerstens, die album is regtig nogals kort. Jy kom net lekker aan die luister, dan’s dit verby.

Tweedens: in terme van lirieke was Velvet se vorige twee albums sterker. Ja, hier is mooi oomblikke (“Terwyl jy bo is gaan ek jou skud aan jou hoë leer” uit “A Span”, byvoorbeeld), maar dis asof die album in dié opsig minder gefokus is. Ek sou byvoorbeeld graag wou sien dat hy verder uitbou aan daai verantwoordelikheid-tema.

Maar ek nitpick nou dalk so bietjie: alles hoef seker nie ’n konkrete boodskap te hê nie.

As jy alles egter in ag neem, is dit op die balans ’n goeie album, en ’n puik afskop vir plaaslike rockmusiek in 2011.