Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Deborah Steinmair: Fratsgolf

Jaap Mossie en die drinkebroers


Deborah Steinmair - 2011-03-10

Untitled Document

Toe ek ’n kind was, het ek alles gelees wat stilstaan. Elke geskrewe woord het my diep beïndruk, selfs die waarskuwing op blikkies lugverfrisser: Inhoud onder druk, moenie prik of verbrand nie, ensovoorts. Ek het elke woord geglo. Ek was verslaaf aan die reuk van ou papier. Tyd het stilgestaan tussen boekrakke. So het ek eendag in ’n seerowerboek bewend afgekom op ’n woord wat my betower het: die woord vir die seerotte se gunstelingdrankie: jenewer. Dit klink fluweelsag, klewerig, glinsterend en benewelend. Dit streel warm tot diep in die maag. Ek het op die plek besluit dit sou ook my gunstelingdrankie word wanneer of as ek ooit grootword. Ho ho ho en vat so, kameraad!

Nou is ek groot en oud en niemand wat ek ken praat ooit van “jenewer” nie. “G&T” klink soos een van daardie toestelle wat ek toenemend met mekaar verwar, soos GPRS, GPS, 3G, mp3. Verbeeldingloos. En jenewer self? Klewerig soos fluweel is dit wel, maar as jy nie ‘n onverskrokke seerower met ’n blikkeel, ’n oogklap, ’n houtbeen en ’n haakhand is nie, is dit ’n drankie wat jou deprimeer en tot met die daglumier swartgallig laat rondrol. Maar, ai, die woord op die tong! Ek wil die kluts kwytraak en rol in die woord soos ’n kat in kattekruid. Ek wil dit platlê, kneus en knie. Ek wil dit opsnuif. Ek wil hoog word op die woord jenewer.

Gepraat van seerowers, het ’n mooier man ooit deeske aarde bewandel as Johnny Depp? Net jammer hy het so ’n grimeerlus ontwikkel ná sy rol as Jack Sparrow. Mossie maar man? Johnny, Johnny, jy is perfek in jou ingeduikte Fedora; wat het jou ooit laat glo jy benodig soveel onderlaag, blosser en oogpotlood op straat?

Drankname bekoor en lok vol belofte. Daar was ’n tyd toe my vriendin Elthea, sy met die talent vir onvanpaste tussenwerpsels – borderline Tourette-sindroom – graag sonder enige provokasie luid uitgeroep het: “Now gimme a gin fizz or a peppered vodka in a balloon glass!” In my gunsteling-jeugboek, Pardon me, you’re stepping on my eyeball, skryf ’n versteurde seun op ’n brug: “Count Dracula, your Bloody Mary is waiting.” David Kramer se trawante sing ’n liedjie: “Moenie lujet drink nie”. Ek wonder, ek wonder wat is lujet. Op die plek is ek lus om dit te drink. Dit klink dodelik, breinselvretend, soos absint, die drankie van gefolterde kunstenaars in ou Parys.

Jenewer, lujet, absint, pastis; ek skommel ’n mengeldrankie van hoenderkop-woorde. Dis ’n potente mikstuur. Ek skink dit op ys, skuimend, met ’n skeut bitters.

Ja, ek het toe grootgeword. Nee, ek het nie verval in seerowery nie en het tot dusver ook nie ’n jenewergewoonte ontwikkel nie. Maar ek bly hunker na vergetelheid, om uit my stoel gelig te word – auto eject – en die buitenste ruim in gelanseer te word – to infinity and beyond – en bewend my bewussyn te herwin op strande ver en woes geleë. En noem my bang, maar ek trek my dolk uit sy skede en my gekose dwelm is woorde. Die beste ding in die bottel is die brief.