Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Polaroid: Dreyer verken die binnelandskappe van sy karakters


Louise Viljoen - 2007-12-13

Polaroid
Tom Dreyer
Tafelberg-Uitgewers
ISBN: 9780624045717
Sagteband
192pp
Klik hier en koop jou eksemplaar van hierdie boek nou van Kalahari.net.


Tom Dreyer se eerste twee romans, Erdvarkfontein (1998) en Stinkafrikaners (2000), was vol interessante karakters, filmiese detail en geweldstonele wat uitgemond het in karnavalagtige eindes. Beide hierdie romans was ook sterk gewortel in die Suid-Afrikaanse ruimtes van die Noord-Kaap en die Kaapse voorstad Parow. Met sy derde roman, Equatoria (2006), het Dreyer ’n nuwe rigting ingeslaan toe hy dit geplaas het in die koloniale Kongo en gefokus het op ’n enkeling se soektog na die onbereikbare. Met sy jongste publikasie, die kortverhaalbundel Polaroid, is Dreyer weer terug in die Suid-Afrikaanse ruimtes wat hy in sy eerste twee romans so skerpsinnig verken het. Die verhale se fokus op soekende enkelinge staan egter nader aan Equatoria, waarin die hoofkarakter uiteindelik gekonfronteer word met die mislukking van sy projek.

Die bundel kortverhale kan ook gelees word naas die kortverhale van tydgenote soos Jaco Botha (In Drie Riviere, Sweisbril) en Jaco Fouché (Paartie by Jake’s, Twee dae in Mei). By al drie hierdie skrywers is daar sprake van ’n fokus op gewone mense wat nie eintlik uitstaan in die samelewing nie. Hulle is dikwels sukkelaars of mislukkelinge, maar kry hulle plek in hierdie skrywers se verhale omdat daar iets in hulle is wat die gewoonheid deurbreek: die een of ander vorm van insig, waansin of emosionele behoeftigheid.

In die geval van Polaroid is daar by byna elkeen van die karakters sprake van ’n strewe om deur te dring na iets betekenisvols wat op tergende wyse van hulle weggehou word deur die oppervlak van gebeure. In hierdie opsig lyk dit asof Dreyer wegbeweeg van die styl van sy eerste romans, waarin ’n byna lakonieke verteller hom besig gehou met die uitbundige, gewelddadige oppervlak van dinge sonder om daaronder te delf na ’n dieper betekenis. Teenoor die byna gestileerde ballet van gebeure wat ’n mens in Dreyer se eerste romans kry, is daar in hierdie geval dus sprake van ’n verteller wat nader beweeg aan die binnelandskappe van sy karakters.

Dit blyk uit hierdie verhale dat dit juis die sukkelaars en gekwestes is wat ’n verhoogde sensitiwiteit vir die aanwesigheid van ’n ander werklikheid het. Hulle behoefte daaraan is ook meer dwingend as dié van hulle medemense. Die hoofkarakter in die verhaal “Polaroid” sien byvoorbeeld vanweë ’n “leeftyd van terugslae wat die fyn web van sy sintuie beskadig het” by geleentheid skole vis wat deur die lug vlieg en vir hom die rigting van sy lot aandui. As gevolg van sy kwesbaarheid het hy ook ’n filter op die werklikheid nodig wat sal funksioneer soos die Polaroid-lense waarvan sy karavaanpark-buurman hom vertel: “Net so skoon kan die wêreld jou onderkry, maar as jy die glare elimineer, kry jy ’n idee van wat eintlik aangaan.”

Anders as in die blitsige kort-kortverhaal word die werklikheid wat die sukkelaar-hoofkarakters terughou, rustig en met omsigtigheid geteken. Die fokus op veelseggende detail het die funksie om vir die leser bepaalde ruimtes voor die oog te roep, maar vertel elkeen ook ‘n verhaal in die kleine: dit is byvoorbeeld die geval met die motors (die Karmann Ghia, die 1971 Pinto, die Nissan Sentra), die werksplekke (Bennie-se-Bande, Mister Mower, Something Fishy) en die name van die karavaanparke (Pine Slopes, Fortuna Oord). ’n Mens merk ook in hierdie verhale Dreyer se voorliefde om te kyk asof deur die oog van ’n filmkamera. Daar is byvoorbeeld momente waar ‘n “klip met ’n lui boog deur die Noord-Kaapse lug trek”, of waar daar gefokus word op ’n koggelmander wat sy kop draai “om van onder sy stekelrige oogbanke ‘n aankomende vuurwa te betrag”.

Na die uitbeelding van die gebeure wat die karakters se gevangenheid in hulle omstandighede uitbeeld, teken die slot gewoonlik ’n moment van ontsnapping na ’n ander werklikheid. Die verhaal “Skitterende blou verskiet” bewerkstellig byvoorbeeld ’n mooi ironie in sy slot wanneer die waagarties-cum-hoteleienaar Simon Bruwer juis deur ‘n noodlottige sprong met sy motorfiets deurbreek na die fantasie-werklikheid wat hy met sy reklame-leuens geskep het. Ook in die kort vertelling “Portapool”, wat fokus op ’n moment waarin die hoofkarakter se mislukking as pa sy mislukking as eggenoot eggo, ontsnap hy tydelik deur onder die water van die portapool in te sink.

Dit lê verder in die logika van hierdie verhale dat die slot ’n atmosfeer skep waarin bekende dinge vreemd gemaak word, ook vir die omstanders en die leser. Dit gebeur byvoorbeeld in die verhaal “Liberté toujours”, waarin ’n advertensiebord die grens is tussen die werklikheid en dit wat daaragter lê. In “Die blootlegging van Reinart Lütz” is daar weer die oorstap na die wêreld van die waansin in die slotmoment waar die dobbelaar die vuur doodslaan met ’n baadjie waaruit die geldnote dwarrel. Die verhaal “Hierdie donker veld” gaan selfs verder met die oorskryding van die lyn tussen werklikheid en niewerklikheid wanneer die slot laat blyk dat alles eintlik ná die dood van die hoofkarakter afspeel (hier beweeg Dreyer byna in die rigting van die riller of gruverhaal). Ook in die bundel se titelverhaal word die hoofkarakter verras deur ’n slotmoment waarin die verlede, drome en verlangens momenteel soos ’n vis uit die water glip om konkrete gestaltes te kry voordat dit “weer met ’n flap van die stert verdwyn”.

Alhoewel die verhale rondom hierdie tema die sterkste in die bundel is, eksperimenteer Dreyer ook met ander temas in die bundel. “Lang wag in Saint Sabine” is ’n byna-romantiese speurtog na die onopgeloste liefdesverhaal opgesluit in ’n Middeleeuse tapisserie, terwyl “’n Nuwe argitektuur” kommentaar lewer op die huidige gesprekke rondom Afrikaner-identiteit en die Afrikaner-diaspora deur ’n verrassende blik te gee op die wyse waarop swart mense in Suid-Afrika Afrikaners sien. “Bitter trippie” gee ’n potensieel skrikwekkende blik op die werk van ’n bedrieër en kansvatter in ’n ongeïdentifiseerde Afrika-land, terwyl “Lucky Strike” ’n meer gemoedelik-lokale beeld van so ’n persoon skep. In eersgenoemde kon die gegewe egter beter uitgewerk gewees het en in laasgenoemde kon die slot meer slaankrag hê.

Soos altyd skryf Dreyer helder en toeganklik; in die slottonele van die beste verhale selfs met ’n klare soort lirisme. Dit gebeur veral wanneer hy die anderkant van die werklikheid waarna soveel van die sukkelaars en verlooptes in sy verhale soek, beskryf. Dit is ’n wêreld wat tegelykertyd lug en water kan wees, ’n medium waarin visse swem of vlieg na gelang van die omstandighede en ’n omgewing waarin transformasies kan plaasvind, maar dinge ook kan skeefloop. Dit is dus jammer dat sekere verskrywings nie uit die teks geweer is nie: ‘n perd waarop geld verwed is, “ontkom” byvoorbeeld drie lengtes voor die wenpaal aan ’n hartaanval terwyl dit eintlik duidelik is dat hy “omkom”, en die klerehandelsmerk Romens word aangedui as Romans.

Daar is al in verband met hierdie bundel gesê dat dit te min blyke gee van die breë Suid-Afrikaanse konteks, wat bevolk word deur swart, wit en bruin, en die morele dilemmas wat dit oproep. Vir my lê ’n moontlike verklaring vir hierdie "geslotenheid" van die verhale binne ’n wit werkersklas-wêreld in die byna outistiese gefokusdheid van die sukkelende hoofkarakters op hulle eie klein wêrelde sowel as hulle inherente beperkinge.

In die geheel gesien het Dreyer in die beste verhale in hierdie bundel ’n stewige greep op die medium van die kortverhaal. Hy gebruik die beperkte ruimte wat dit bied, besonder effektief en beloon die leser meermale met ’n verrassende en dikwels ook poëtiese slot. Polaroid is ’n boeiende ontginning van die raakvlakke tussen die werklikheid en dit wat daaragter lê.



Ondersteun deur Grapetown Capital (Pty) Ltd.

Skrywers en digters is welkom om repliek op hierdie resensies te lewer. Oop gesprek tussen resensente, skrywers, digters en lesers word aangemoedig. Stuur jou kommentaar aan sharon@litnet.co.za.
Kommentaar sal op LitNet gepubliseer word.