Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Die toetsbord se verbode vrugte


Melt Myburgh - 2006-07-03

'n Verslag oor die Sunday Times-plagiaatgesprek by die Kaapstad Internasionale Boekfees

Laat ek nou maar eerlik wees: vir iemand soos ek wat (goddank!) buite die dampkring van die akademie staan, het die debat oor intellektuele eiendomsreg en plagiaat wat opgevlam het ná Stephen Watson se literêre sluipmoordpoging op Antjie Krog, my aanvanklik koud gelaat. (Terloops, ek weier om enige bronne te erken as ek nie daarna voel nie – ou Jimmy Kruger kan my maar lekker sue uit sy katakombe.)

Ag wat, het ek gedink, Watson se tirade is niks meer as 'n skynaanval wat deur jaloesie aangevuur is nie. Boonop is die plagiaat-diskoers net nog 'n nuwe gier wat oorgewaai het uit die walglike Westerse wêreld; iets waarmee akademici hulself deesdae opnuut kan vermaak.

As Krog-fan wat onwillekeurig byt in die smaak van moedersmelk elke keer wanneer ek haar naam hoor, het ek vir geen oomblik getwyfel dat dié debakel gou-gou in die snippermandjie van die geheue geliasseer sal word nie. Antjie is immers in 'n league wat vir Watson en sy cronies 'n hersenskim op die horison sal bly tot in lengte van dae. Enige bobbejaan kon dit agterkom toe hulle haar naam in dieselfde asem noem as dié van Pamela Jooste en Darryl Bristow-Bovey. Jy kan 'n onderbroek tussen twee panties aan 'n wasgoedlyn hang, maar vir Krog is die draad in hierdie geval hopeloos te kort gespan.

Selfs toe ek sien hoe Johann de Lange en Annie Gagiano op hul tande kners in die LitNet-artikels waarin hulle vir Antjie in die bresse tree, het ek gereken dié twee is dalk bietjie té suur na my smaak. Ek het eerder gewonder wanneer De Lange ons gaan verras met 'n nuwe digbundel, en of Annie nog so stunning lyk agter die wiel van daai swart Valiant wat sy gery het in die dae toe ek op Stellenbosch was.

Maar my slaapwandeling is drasties kortgeknip op die laaste dag van die Kaapstadse Internasionale Boekefees. Onder die skoorvoetende banier, “To steal ideas from one person is plagiarism, to steal ideas from many is research”, het die Sunday Times dmv 'n “paneelbespreking” opnuut lewe in dié kadawer geblaas.

Die 17 tuinstoeltjies van plastiek en die paar rusbanke was nie naastenby voldoende vir die hordetjie sitvlakke wat opgedaag het nie. Shaun Johnson, “chief of staff for Mandela” en skrywer van die indrukwekkende The Native Commissioner, het opgetree as fasiliteerder tussen lede van die vloer en 'n ietwat verlepte paneel bestaande uit Carina van der Spoel (oulike bestuurder van die Boekhuis in Melville), Colin Bower (Watson-apologeet; verskriklik afgepis met Krog) en die guitige David Bullard (Sunday Times-rubriekskrywer).

Van 'n gesprek was daar nie juis veel sprake nie; dit het gou ontaard in 'n forum waar 'n ieder en elk van krapperighede in die keel ontslae kon raak. So nou en dan het 'n uitgewer, redakteur of akademikus vanuit die gehoor 'n dialoog van drie paragrawe met een van dié in die gestoeltes ontlok. Maar dit was uiteindelik die one-liners in die vloer-monoloë wat geseëvier het oor die tamheid in die lug.

Carina van der Spoel het nie veel te sê gehad nie, maar die kere wat haar mond oop was, het sy in 'n register waarop Cosatu-lede trots sou wees, gesny deur die kak wat die drie Ingelse here kwytgeraak het. Nie dat hulle hul veel aan haar gesteur het nie. Soos ou hoere aan die verkeerde kant van hul sell-by date het dié drie getrippetrap tussen standpunte om tog net nie iemand in die gehoor aanstoot te gee nie.

Die enigste konstante in die diskoers was mnr Bower se afsku in mense soos Krog. Hy moes letterlik sukkel om sy wrewel weg te steek tydens aantygings van woorddiefstal in Country of My Skull. Eers het hy ons herinner dat Krog nie net die kluise van Ted Hughes en TS Eliot geplunder het nie. O nee! Sy het dit durf waag om 'n fiktiewe karakter, prof Kondlo (uitgespreek as Cundlow), in Country of My Skull in te skryf ten einde die identiteit van 'n informant, Isabel Hofmeyr, te beskerm. En Krog het dít eers erken toe sy daarmee gekonfronteer is. Te hel met bakstene en koeëls deur die ruite van Isabel Hofmeyr se spens!

Hoewel Krog die hoofteiken was, is almal in die boekebedryf en joernalistiek deur die loop van die sessie in die beskuldigdebank geplaas – sonder dat daar met die wegspringslag enige behoorlike onderskeid tussen dié bedrywe getref is.

Eers is skrywers voor die vuurpeloton aangetree. Hoekom sal hulle dan nou só onnooslik wil wees om aspris sinne of paragrawe uit ander se geestesbeddings te lig?

Johnson spreek sy fassinering uit met dié “weird cases” – William Mervin Gumede die jongste – wat deesdae met sulke kort intervalle opslae maak. Sélf sou Johnson graag sy roman The Presence of Absence wou noem, maar na 'n lange Google-sessie spat sy droom aan skerwe toe hy agterkom dié titel is al in 1973 deur 'n jong Kanadese kunsstudent gebruik vir 'n kortfilm.

Tydens die gesprek stel Bullard vir woorddiewe die een “bottom line” van vieslikheid na die ander. Keer op keer moet hy, soos 'n geblinddoekte voetganger op 'n Angolese voetpaadjie, na enkele sekondes van rigting verander.

Een van sy “bottom lines” was dat niemand ooit weer 'n skrywer wat plagieer (die eerste doodsonde) se werk sal vertrou nie. Dit beteken die einde van 'n loopbaan! Waarop Carina ongeërg antwoord daar’s geen daling in verkope van Krog se boeke in haar Huis nie. En net daar hang mnr Bullard se “bottom line” pap.

“Google is 'n vloek in die koerantwese, veral onder jong verslaggewers,” mymer Shaun Johnson, sy staaltjie oor die Kanadese student blykbaar vergete. 'n Akademikus-redakteur in die gehoor troef hom met 'n joker: Google stel mens in staat om plagiaat binne sekondes te verifieer.

In die postmodernistiese wêreld, knor die agbare mnr Bower, is daar geen besittersklas nie. Veral onder dié wat tantieme neem, prysgeld aanvaar, ens. Maar vra hulle om boetvaardig te wees, dan is almal skielik die grootste demokrate.

Carina van der Spoel verlang soos 'n Solidariteit-girl na “a sense of community”. “Oorspronklikheid lê in die detail van herrangskikking,” sê sy. “In die postmodernistiese era het ‘collaboration’ ongelukkig uit die mode geraak.” Sy waarsku teen “capitalist-motivated ownership” wat mag lei tot die privatisering van die internet.

Bower verplaas die blaam na die uitgewers, wat die verantwoordelikheid namens hul skrywers moet dra. Wanneer aantygings van plagiaat gemaak word, hanteer uitgewershuise die sage verkeerd terwyl die saak reeds “made and proven” is. Hul modus operandi is voorspelbaar: “deny”, “deny”, en dan eers word daar na behore navorsing gedoen.

Hierop reageer Nèlleke de Jager, knap hoof van Kwêla, deur Bower daarop te wys dat uitgewers die kwessie van plagiaat beslis ernstig opneem. Sy noem dat publikasies onder verdenking binne 'n japtrap aan die mark onttrek en verpulp word. En sy weet waarvan sy praat!

Daarna beland die redakteurs van manuskripte in die spervuur. Maar voordat dié spesie gebrandmerk kan word as immorele varke, spring die akademikus-redakteur weer op. Redakteurs, sê sy, is nie met Google tussen die ore gebore nie, maar dié wat hul sout werd is, tel letterdiefstal instinktief op. Volgens haar verander die outeur se vingers blykbaar van kadens die oomblik wanneer sy toetsbord 'n verbode vrug registreer.

“Only the court of public opinion is valid!” stel Colin Bower 'n nuwe “bottom line” vas. Sekondes later verdwyn dié pêrel in die komposhoop toe 'n kêrel met 'n rasta-beanie sy aandag daarop vestig dat die leserspubliek uit die media se trog vreet.

(Zebulon Dread draal op 'n stadium in die agtergrond verby soos 'n handgranaat waarvan die pennetjie uitgeval het. Hy kyk die spulletjie meewarig aan, kopieë van Hei Voetsek! onder die blad.)

Bullard verander sy deuntjie vir die soveelste keer, en swaai die vinger van beskuldiging terug na die outeur. “As jy jou leser respekteer, sal jy nie steel nie!” het hy te weet. Dis darem nie regverdig om van lesers te verwag “om 'n ingeligte oordeel te vel nie”. Daarvoor moet hulle mos eers die boek koop! Nee, dis die media se job!

Sy kwinkslae raak al flouer soos hy retireer.

Tussendeur klink uitsprake soos dié van die vloer af op:

“Publishers want to own facts; the gift of humanity!”

“Gumede is blatant en gebruik presiese woorde!”

“Shakespeare het ook gesteel – van Marlow, om presies te wees ... om met die eise van populariteit tred te hou.”

“Time wounds all heals,” fluister iemand van agter die gebroeders Marx se gordyne.

“Plagiarism is the shit-stick used to hit authors in this country!”

Daar’s geen groter straf as om die woord burglar tot in lengte van dae om jou hals te dra nie, deklameer David Bullard, asof hy Antjie se lot hiermee finaal verseël.

Ek dink daar steek tog waarheid in die vermoede dat ons en die Engelse Antjie Krog op verskillende maniere lees. Hoeveel jaar lees hulle nou al vir Krog? Sedert die verskyning van Country of My Skull? As dit waar is – en daar is natuurlik uitsonderings – beteken dit dat hulle Krog anders verstaan. Sien hulle haar net as joernalis wat begin boeke skryf het? Hoeveel van hulle het haar soos óns leer ken – as 'n poet wat gedigte skryf wat “net wil opfok so ver dit gaan”?

By Antjie self kry jy 'n antwoord in dieselfde taal waardeur sy haarself lankal gevestig het as een van die grootste ikone in die Suider-Afrikaanse letterkunde. Gaan lees gerus weer haar onderhoud met Willemien Brümmer op Die Burger van 2 Junie se middelblad, en verstout jouself aan een van die handvol witmense wat kredietwaardigheid gegee het aan die Afrikaner se teenwoordigheid in hierdie land.

  • “As jy jonk is en jy vat dinge aan, word jy mos beskou as 'n rebel. Maar 'n ouvrou wat dinge aanvat, is net 'n ou battle-axe, weet jy? Almal is geïrriteerd met 'n ou battle-axe. As sy haar mond oopmaak, wil mense dit toeskop.”
  • “Ek meen: Wát is 'n heks anders as 'n postmenopousale vrou?”
  • “Party keer het ek die vermoede dat die Engelse gedink het as ons net hierdie boere uit die pad kan kry, kan ons ten einde laaste Engels vir onsself hê. Maar noudat hulle hul oë uitvee, nou’s daar allerlei Afrikaanssprekendes daar besig – en swartes!”
  • “Êrens bestaan hierdie voortreflike, netjiese, eerlike mense met hulle goeie fokken Engels. Húlle sal my nou op my plek sit. Ek sal nou nie my vagina sleep oor húlle bladsye nie.”

Doen jouself daarna 'n guns en sleutel “Colin Bower” in op jou Google-blad voordat jy Enter druk. Ek belowe, jy sal jouself nat pis van die lag.

'n Anglo-Boereoorlog in die kleine sal niemand skade doen nie. Ten minste lei dit tot 'n bietjie introspeksie onder die bleekvelliges hier te lande.

Vir die Watson-bende het ek eenvoudige raad: as julle vir Antjie ken soos wat ons haar leer liefkry het die afgelope veertig jaar, moet julle weet: sy’t nog lank nie haar besem ontgroei nie!

Pasop!